Volgens Artikels

Deur Anja van den Berg

Om jou produktiwiteit te bewys terwyl jy oor ʼn afstand werk, kan ʼn tameletjie wees. Daar is egter maniere waarop jy jou jouself en jou vaardighede meer sigbaar aan jou bestuurder kan maak, selfs al is julle nie in dieselfde gebou nie.

Elizabeth Grace Saunders sê jy kan konkrete stappe neem om jou kanse te verhoog om in hierdie onstuimige tyd professioneel te floreer.

Saunders is die skrywer van How to Invest Your Time Like Money en Divine Time Management. Hier volg haar voorstelle oor hoe om jou waarde te demonstreer terwyl jy oor ʼn afstand werk.

  1. Hou rekord van jou insette.

Om rekord te hou van jou insette stel jou in staat om ʼn aanduiding te gee van ʼn kwantitatiewe waarde vir die ure wat jy aan werk bestee het. ʼn Register (of ʼn portefeulje)  wat jou prestasies lys sal oordraagbare, stabiele vaardighede beklemtoon. Hierdie stap kan noodsaaklik wees indien jy enige vlak van onregverdigheid vermoed. Daarbenewens sal jy ook jou waarde as ʼn afstandswerker aan enige toekomstige werkgewers kan demonstreer. Plaas ʼn sisteem in plek om tred te hou met jou take en merk hulle af, selfs al is jou skedule gemodifiseer weens jou ander verantwoordelikhede tuis.

  1. Deel jou prestasies op gepaste tye.

Saunders sê dat, wanneer jy iets beduidends voltooi het, jy dit moet deel. “Dit is nie om te spog nie, maar bloot om ander in te lig oor hoe, alhoewel dit mag lyk of jy nie werk nie, jy besig is om groot dinge tot stand te bring.” Om gepas te deel gee jou verhoogde sigbaarheid regdeur die organisasie aangesien kollegas die rol wat jy vul en die waarde wat jy toevoeg, verstaan. Jy kan elke week ʼn paar van jou prestasies met jou baas deel of dit in ʼn vergadering te berde bring om met jou span te deel. Nog ʼn opsie is om ʼn aanbieding te doen van sommige van die beste praktyke wat ander kollegas in ʼn soortgelyke rol kan help. Moet nie net fokus op dit wat jy gedoen het nie maar hoe dit tot konkrete resultate vir jou besigheid gelei het.

  1. Vaartbelyn verslae aan jou bestuurder.

Skenk aandag aan klein dingetjies wat kan help om  die druk op jou bestuurder te verminder. As jy die indruk laat dat jy georganiseerd en voorbereid is, sal jou toesighouer minder geneig wees om bekommerd te wees oor of jy sal presteer en of jy in beheer van jou werk is. Dien jou werk vroeg in sodat jou bestuurder ekstra tyd het om dit deur te gaan voor ʼn vergadering. Maak seker jy is ten volle voorbereid vir een-tot-een sessies om kort en produktiewe vergaderings te fasiliteer. Indien dit in jou vermoë is, bied aan om met opdragte te help of werk heeltemal van jou bestuurder se bord te verwyder.

Saunders sê daar was ʼn grasietydperk in Maart en ʼn gedeelte van April terwyl individue besig was om daarby aan te pas om van die huis af te werk. “Bestuurders was meer vergewensgesind as produktiwiteit effens gedaal het of misstappe hier en daar begaan is. Noudat ʼn hele aantal maande van afstandswerk egter verloop het, keer insette van ʼn hoër standaard terug.” Maak seker dat jy dieselfde doen – en bewys jou waarde tydens die proses.

 

Bronne:

Harvard Business Review: https://hbr.org/2020/06/5-ways-to-demonstrate-your-value-remotely

Management30: https://management30.com/blog/remote-worker-tips/

The Muse: https://www.themuse.com/advice/4-ways-to-prove-your-productivity-when-working-from-home

 

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog