Deur Anja van den Berg

Digitale verbinding het in die afgelope twee jaar verviervoudig, maar van-aangesig-tot-aangesig interaksie hou nog geweldig baie voordele in vir die bou van nuwe verhoudings, om oor transaksies te onderhandel en sterk spanne tot stand te bring. Namate die wêreld egter weer oopmaak, is daar ʼn paar bykomende kwessies om te oorweeg wanneer jy die investering van tyd en energie wat sakereise vereis, oorweeg.

“Om weer na sakereise oor te gaan ná die Covid-19-pandemie is nie so eenvoudig as om net ʼn vliegtuigkaartjie te koop nie,” sê Elizabeth Grace Saunders, skrywer van How to Invest Your Time Like Money. Reisigers moet herkalibreer om te weet hoe om doeltreffend te pak, by veranderings in tydsones aan te pas en hulle vergaderingskedules te wysig – en dis bo en behalwe die monitering van verskille in reisbeperkings, kwarantynvereistes en Covid-19-risikovlakke regoor die wêreld.

Saunders sê jy moet nou weer sakereise aanpak, en sy lê jou plan soos volg uit:

  • Besluit waarvoor dit die moeite werd is om te reis.

Alhoewel ons probeer om na normaliteit terug te keer het die wêreldwye pandemie ons uitsig op die wêreld verander (dikwels ten goede!). Voor Covid-19 het jy dalk baie gereis bloot omdat dit die status quo van jou rol was. Nou het mense egter geleer om die voordele van reis te evalueer.

Wanneer jy reis weer met jou werkskedule integreer, dink na oor waar dit die meeste voordeel sal byvoeg. Prioritiseer daardie areas waar ʼn gebrek aan van-aangesig-tot-aangesig interaksie jou resultate verklein het. Oorweeg egter die beperkings wat in plek is by die bestemming waarheen jy van voorneme is om te reis. As om van-aangesig-tot-aangesig te ontmoet voordelig sou wees, maak dit meer sin vir jou kollegas of kliënt om na jou toe te kom weens drastiese verskille in reisbeperkings, kwarantynvereistes en Covid-19-risikovlakke wêreldwyd.

  • Kondisioneer jouself geleidelik.

Net soos om te pendel nou meer veeleisend voel as voor die pandemie toegeslaan het, het mense hulle kondisionering vir voorbereiding om te reis en die reisproses verloor. Hulle is nou meer as voorheen bewus van die beslommernis van om te pak, vliegvoosheid en om in hotelle oor te bly.

Met inagneming van hierdie realiteite moet jy jouself geleidelik weer aan sakereise blootstel. As jy gewoond was om veelvuldige kere in ʼn maand te reis, begin met net een reis elke 30 dae en kyk hoe jy voel. Om met volle kapasiteit in te spring sal heel waarskynlik oorweldigend wees en gou jou energiereserwes opslurp.

  • Laat ruimte en gaan alles twee keer na.

Wanneer jy vir die reis voorberei, gee jouself meer ruimte as wat jy voorheen gedoen het. Neem die tyd om ʼn lys op te stel van alles wat jy moet inpak. Maak dubbeld seker jy het belangrike dokumente ingepak. Skeduleer jou vlug vir die aand voor ʼn belangrike vergadering, eerder as om ʼn vroegoggendvlug te neem. Dis ook raadsaam om te kontroleer watter geriewe by die lughawe en jou bestemming oop is. Covid-19 het sy tol van baie besighede geëis, en jou gewone besoekpunte het doel toegemaak of verhuis.

Gegewe die veranderings aan jou verwagte norme, neem kos saam, bespreek vooruit, en beplan om buigbaar te wees. Jy sal ook bewus moet wees van enige Covid-spesifieke reisvereistes vir jou bestemming. Jy mag dalk ʼn Covid-toets moet ondergaan, inligting oor jou inentingstatus toon, vir ʼn aantal dae gekwarantyn word, of ander protokolle moet volg.

 

Bron:

Harvard Business Review: https://hbr.org/2022/03/how-to-ease-back-into-traveling-for-work?registration=success

 

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog