Deur Paul Maritz

Aanlyn vergaderings, en selfs aanlyn klasse is teen hierdie tyd lankal nie meer vir ons vreemd nie. Dit is nie meer die “nuwe” normaal nie, dit is sommer nou net die normaal.  Selfs wanneer alle tekens van die Covid-19-pandemie iets van die verlede is, sal mense sekere dinge nooit weer doen soos tevore nie, en onderhoude blyk een daarvan te wees. Veral die eerste rondte onderhoud, wanneer daar nog baie aansoekers is, is dit maar net goedkoper en eenvoudiger vir almal om uit die gerief van hul huise te doen.  Maar wat beteken dit vir jou as jong werksoeker? Hoe kan jy hierdie aanlyn onderhoud tot jou voordeel gebruik, en seker maak dat jy uitstaan? Ons het ondersoek gaan instel:

  1. Kies die regte hardeware!

Maak dit meer sin om hierdie onderhoud op jou selfoon of op jou rekenaar te doen? Dalk werk ’n tabletrekenaar beter? Maak ’n besluit gebaseer op dit wat jy tot jou beskikking het, en as jy nie voldoende hardeware het nie, moenie huiwer om te leen nie! Jy wil seker maak dat die beeld en klank nie in jou pad staan nie!

  1. Kies die regte sagteware!

Gaan julle op Teams, Zoom, Skype, of selfs oor ’n WhatsApp-oproep ontmoet? Maak seker dat jy die funksionaliteite verstaan, en dat jy die nuutste weergawe van hierdie programme afgelaai het, sodat daar nie iets van jou verwag word, soos om jou skerm te deel, wat jou gratis of verouderde weergawe dalk nie kan doen nie.

  1. Onthou om die regte agtergrond te kies

Die onderhoudvoerder sien meer as net jou gesig, so maak ’n ingeligte keuse oor die plek waar jy sit.  As jy ’n boekrak in jou agtergrond het moet jy gereed wees om vrae oor die boeke of items op die rakke te kry. As jy ’n virtuele agtergrond kies, maak seker dat dit professioneel is, en nie die aandag aftrek van die inhoud van die onderhoud nie.

  1. Kleredrag is steeds belangrik

Net omdat die onderhoudvoerder nie meer jou kouse kan sien nie, beteken dit nie dat jy sommer met ’n T-hemp aanlyn kan gaan nie. Maak seker dat jy vooraf seker is watter kleredrag van jou verwag word, en trek korrek aan, al is dit dan net jou bolyf.

  1. Skeduleer ’n oefenlopie

Niks keer jou om ’n aanlyn onderhoud te oefen met vriende of familie nie. Gee vir hulle vrae om te vra, en oefen dan jou antwoorde, sowel as jou benadering tot die onderhoud. So ’n oefenonderhoud sal ook vir jou selfvertroue gee vir wanneer dit die ware Jakob is.

  1. Maak seker dat jy ’n plan B het!

Jy wil nie ’n geleentheid misloop omdat jou huis se krag skielik afgegaan het, of omdat ’n program skielik nie op jou selfoon wil oopmaak nie. Indien moontlik is dit altyd slim om alternatiewe toestelle, internetverbindings en kragverbindings naby te hou. Sodoende is jy gereed as die ergste sou gebeur.

  1. Toets alles vooraf

Neem ’n halfuur voor jou onderhoud om jou klank en beeld te toets, seker te maak dat jou plan B in plek is, en die vrae waarop jy antwoorde voorberei het weer deur te gaan. Sodoende is jou uiteindelike onderhoud nie gejaagd nie en sal dit ook bydra tot jou selfvertroue!

  1. Sluit alle ander toepassings as jy die onderhoudruimte betree

Jy sal sekerlik nie in ’n professionele onderhoud jou selfoon aan los nie, juis omdat dit jou aandag kan aftrek, maar ook omdat dit onprofessioneel is, en jou kanse op ’n goeie eerste indruk sal belemmer. Sluit af van al jou sosiale media en e-posrekeninge, en maak seker dat geen vreemde kennisgewings gedurende jou onderhoud kan opduik nie. Kies ook die verstelling op die onderhoudprogram wat kennisgewings onderdruk – niks is in daardie paar minute belangriker as jou onderhoud nie.

Onthou dat ’n aanlyn onderhoud nog steeds ’n onderhoud is, en dat jou optrede en gedrag tydens die aanlyn onderhoud net so belangrik soos ’n gewone onderhoud is. Die reëls het so effens verander, en jy sal daarby moet aanpas, maar met die regte verstellings kan ’n aanlyn onderhoud tot jou voordeel wees, eerder as jou nadeel.

Bronne

https://www.livecareer.com/resources/interviews/prep/acing-online-video-interview

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog