Volgens Artikels

Deur Anja van den Berg

Meer as 60% van millenniërs en byna die helfte van generasie Z-werknemers sê hulle is mensebestuurders. As jy een van hulle is, is die bestuur ʼn span mense wat ouer as jy is een van jou hoofuitdagings. Hoe kan jy jou span se vertroue, respek en bewondering verkry as daar ʼn vyfjaar- of selfs ʼn 10-jaar-ouderdomsverskil (of selfs meer) is?

Hier is drie sleutelstrategieë wat jy kan toepas:

  • Pas jou kommunikasietaktiek aan

Jonger bestuurders verkies moontlik ʼn direkte, op-die-man-af-kommunikasiestyl. Aan die ander kant, jou spanlede verkies dalk om die eerste paar minute van elke vergadering oor koeitjies en kalfies te sit en klets. “Neem kennis van die pas waaraan hulle gewoond is en pas jou styl aan as dit nodig is,” is die voorstel van dr. Chip Espinoza, ʼn deskundige op die gebied van generasiediversiteit in die werkplek. Daarbenewens is ouer generasies meer geneig om werk en lewe te skei as jongmense, gaan Espinoza voort. Heroorweeg dus die stuur van e-posse om 11 nm. En vermy kommunikasie tussen 8 nm. en 6 vm., tensy dit absoluut nodig is.

  • Soek medeleiers

Identifiseer en maak vriende met die spanlede wat aan jou kant is. Vir effektiewe leierskap is dit noodsaaklik om medeleiers te vind, en soveel te meer as jy ʼn span mense bestuur wat ouer as jy is. Jou medeleiers sal jou bondgenote, die vroeë aanpassers, jou beeldpoetsers wees. Dikwels is hulle reeds ʼn hele ruk by die maatskappy en word deur hul kollegas vertrou. Hulle jare ondervinding kan jou help om jou pad deur jou nuwe verantwoordelikhede te vind, jou bestuursvaardighede te ontwikkel en moeilike situasies te vermy.

  • Moenie ʼn stoomroller wees nie

Deel jou leierskapstyl en verwagtinge proaktief, maar moenie net op ʼn dag instorm en alles verander nie. Espinoza stel voor dat jy jou span betrek in besprekings om te bepaal waar jy goed suksesvol kan verander en vasstel waar hulle weerstand teen nuwe idees sal bied. Vra hulle vrae soos “wat is die een ding wat julle nie wil verander hê nie”, en “wat is die een ding wat julle dink verander moet word?” Diegene met kennis van die instelling kan jou adviseer oor vorige pogings om veranderings aan te bring wat nie gewerk het nie. Hulle ondervinding kan jou die stres en verleentheid spaar van dieselfde fout te maak.

Wend ʼn doelgerigte poging aan om jouself op te voed om goed te bestuur, sê Alison Green. Green is die outeur van Ask a Manager: How to Navigate Clueless Colleagues, Lunch-Stealing Bosses, and the Rest of Your Life at Work.

Sy raai jonger bestuurders aan om te leer oor delegering, terugvoer, en doelwitstelling en mense verantwoordbaar te hou.

Voorts moet jong bestuurders ook prestasieprobleme hanteer en hul mense ontwikkel. En miskien die belangrikste, jong bestuurders moet leer om “gesag uit te oefen sonder om ʼn onredelike tiran of ʼn futlose jansalie te wees”. As mense sien jy doen jou werk bekwaam, sal hulle meer op jou vermoëns as op jou geboortedatum let.

 

Bronne

Harvard Business Review: https://hbr.org/2020/12/when-youre-younger-than-the-people-you-manage

Monster.com: https://www.monster.com/career-advice/article/how-to-manage-people-who-are-older-than-you-0717

Inc.: https://www.inc.com/alison-green/when-you-re-younger-than-everyone-you-manage.html

Zapier: https://zapier.com/blog/millennial-managers-report/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog