Volgens Artikels

Deur Anja van den Berg

As gevolg van die Covid-19-pandemie is afleggings onvermydelik.

Diegene wat afleggings oorleef, deel gesamentlike emosies van skuld, woede en angs. Hulle wonder: Is ek volgende?

Die onsekerheid bring groot sielkundige koste mee. In ʼn desperate poging om hul werk te behou, beleef werkers gedurende die voorafleggingsmaande sarsies frenetiese en angstige energie.

Hulle vergader met kollegas, netwerk met departemente in hulle maatskappye en hoop dat iemand hulle kan help om hul werk te behou.

Hulle spandeer meer en meer ure aan die lewering van uitsette. Hulle weet dis onwaarskynlik dat hulle die volgende aflegging gaan oorleef. En tog hoop hulle op die beste terwyl hulle wydsbeen oor twee realiteite staan: desperaat om aan te bly in ʼn maatskappy wat hulle nie juis meer wil hê nie, maar ook nie heeltemal in die wêreld van werksoekers nie.

Die nadelige gevolge van onsekerheid kan oorspoel na hul huislike lewens. Omdat hulle onophoudelik oor hul onsekere werktoekoms tob, is hulle kortaf met hul gades en kinders. Gesinsverhoudings ly daaronder.

Hulle begin ʼn wrok teen die maatskappy ontwikkel, sê Lauren Herring, outeur van Take Control Of Your Job Search!. Dit is hartverskeurend om ʼn kollega te help om sy besittings in te pak en teen die trane te stry – net om kort daarna deur nog ʼn geliefde medewerker gevra te word om dit weer te doen.

“Op daardie oomblik maak die besigheid nie saak nie,” voeg Herring by. Die maatskappy is die vyand.

Werknemers wat ʼn aflegging oorleef, het ook die selfbehoudimpuls. Hulle werk hul CV’s by, verfris hulle LinkedIn-profiel en begin kyk na alternatiewe werkopsies.

Die ander kant van die munt is dat werknemers heelwaarskynlik onvergenoegd sal wees omdat hulle meer werk moet doen, waarsku Herring. “Die meeste werknemers voel dat hulle in enige gegewe week teen volle kapasiteit werk. In die weke na aflegging raak hulle waarskynlik paniekerig by die gedagte dat hulle ʼn ander werknemer – of twee – se werklas moet opneem.”

Die Covid-19-risis het baie bestuurders tussen twee vure gelaat. Hulle moet personeel besnoei om die maatskappy te help oorleef. En tog is die personeel wat oorbly bang, angstig en kwaad. As dit onvermydelik is om personeel te laat gaan, moet die oorblywende personeel se negatiewe gevoelens reguit aangespreek word. Ten einde die langtermynuitwerking op daardie werknemers se emosies te verlig, is dit noodsaaklik om ʼn oop gesprek met hulle vol te hou.

Solidariteit Helpende Hand se welstandbarometer se doel is om mense by te staan in die werkherstelproses tydens en na die Covid-19-krisistyd. Hierdie welstandbarometer is deel van Solidariteit se omvattende Werkherstelprogram. Deur middel van die barometer kan persone ‘n breë gevoel kry oor hoe dit met hul finansiële, werk-, emosionele en geestelike welstand gaan. Die barometer kan aandui dat ‘n persoon op ‘n sekere vlak positiewe welstand ervaar, maar moontlik op ander vlakke ondersteuning nodig het. Die barometer is bloot ‘n basiese aanduider van welstand. Indien nodig moet professionele hulp bekom word:  https://welstand.solidariteit.co.za/welstandsbarometer/

Bronne

Harvard Business Review: https://hbr.org/2021/01/when-you-know-layoffs-are-coming

IMPACT Group: https://www.impactgrouphr.com/insights/building-strong-workplace-relationships-in-4-easy-steps

Stats SA: http://www.statssa.gov.za/?p=13690

 

 

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog