Volgens Artikels

Deur Essie Bester

Blog, veral in kombinasie met sosiale media, is ʼn kragtige manier om jou besigheid aanlyn te bevorder. Boonop is dit nie so moeilik soos jy dink nie.

Jy kan maklik binne ‘n kort tydjie ʼn blog opstel en jou heel eerste inligting omtrent ou besigheid bekendstel. Al wat jy dan hoef te doen, is om jou blog in stand te hou deur gereelde inhoudsbywerking terwyl jy seker maak dat jy toepaslike sleutelwoorde in elke bywerking gebruik. Só maak jy jou webwerf sigbaarder vir mense wat sleutelwoorde wat met jou produk of diens verband hou via soekenjins soos Google invoer.

Redes vir ‘n besigheidsblog

  • Jy teiken potensiële kliënte deur die bedryf waarin jy werk, die algemene dienste wat jy verskaf en die individuele uitdagings van jou teikengehoor te bespreek.
  • Jy verhoog jou webwerfverkeer deur nuwe besoekers deur inhoudskakels in jou blog na jou produkte en dienste, aanlyn winkel of kontakbladsye te lei.
  • Jy bevorder jouself as ʼn bedryfsdeskundige deur jou kundigheid in ʼn bepaalde vakgebied te demonstreer deur relevante hoëgehalte- inligting te deel.
  • Jy ontwikkel ʼn gemeenskap wat belange deel en leer baie van jou gehoor deur ʼn aktiewe kommentaararea op jou blog waar jy kommentaar lewer en reageer.
  • Jy skep waardevolle persoon-tot-persoon-verbindings deur jou blog individualiteit te gee en jou makliker benaderbaar te maak vir jou lesers. Vermy ʼn vervelige besigheidsblok. Gebruik af en toe humor.

Oordink die volgende voordat jy begin:

  • Tema

Blog oor jou besigheid of oor sake wat relevant is t.o.v. jou bedryf. Moenie nét maatskappynuus en korporatiewe retoriek publiseer nie. Wees interessant. Streef daarna om waarde toe te voeg tot die aanlyn gesprek.

  • Blogplatforms

Beginners kan konsentreer op platforms soos WordPress en Tumblr, wat baie gebruikersvriendelik is en basies alles namens jou opstel.

  • Voorkoms en gevoel van jou blog

Met WordPress kry jy verskillende temas om uit te kies. Sommige lyk meer professioneel terwyl ander kleurvoller is.

Inhoud

Die eerste artikel is die moeilikste. Dink aan ʼn idee vir jou blogpos en skryf dit net – hou dit tussen 500 en 1 500 woorde.

  • Interesseer die publiek

Hou jou skryfwerk professioneel en soekenjingeoptimaliseer deur die regte sleutelwoorde te gebruik. Deel jou blog via sosiale mediaplatforms. Onthou – hoe gereelder jy die inhoud van jou besigheid se webtuiste bywerk, hoe beter is die kanse dat jou besigheid se naam in mense se soektogte gaan opduik.

Hoeveel keer per week?

Die meeste suksesvolle bloggers pos Maandag tot Vrydag elke dag iets.

Wenke

Maak seker dat jou blogwerf ʼn weergawe het wat versoenbaar is met slimfone en tablette.

Maak seker die inligting wat jy op jou blog verskaf, is korrek.Stel reëls sodat kommentaar sosiaal aanvaarbaar bly.

Lees koerant en kyk op sosiale media waaroor mense praat. By https://www.socialbakers.com/ kan jy meer te wete kom oor belangrike sosiale bemarkingsinligting.

Maak seker van jou taal en spelling.

Beste sakeblogs om te volg in SA

Fin24, How We Made It in Africa, Cobus Van Vuuren, Nation Builder, Wealth Creator, Elzette Fourie, Fox and Owl Media, Nichemarket

Begin só:

Die opstel van jou eie blog

Die gewildste blogsagteware is WordPress.org (ook bekend as self-hosted WordPress), waarvoor daar hope gratis handleidings beskikbaar is. WordPress.org is gratis, jy kan inpropsagteware installeer, jou blogontwerp aanpas, en geld uit jou blog verdien sonder enige beperking (anders as by WordPress.com).

Voorbeelde van hoëprofiel-, nie-so-basiese webwerwe wat deur WordPress aangedryf word, sluit in Time Magazine Blogs, CNN Business Blogs, Ebay Blog, TechCrunch, Forbes Blogs, Wall Street Journal Blogs.

Met WordPress.org, wat jou ʼn gratis blogplatform bied, is die enigste koste verbonde aan die begin van ʼn blog die geld wat jy betaal vir ʼn webbladgasheer (die plek waar jy jou bloginhoud stoor) en domeinnaam (dit moet verkieslik die naam van jou blog wees).

Bluehost, ʼn derdepartywebbladgasheer wat jou ʼn gratis domeinnaam bied, se basiese plan kos ʼn minimale bedrag per maand en jy weet onmiddellik of jou gekose domeinnaam beskikbaar is. Goedkoper opsies word nie aanbeveel indien jy professioneel wil voorkom nie. As jy egter ʼn gratis blog verkies, kan jy ʼn installasiehandleiding vind by https://af.eyewated.com/tutoriaal-hoe-om-n-gratis-blog-op-blogger-com-te-begin/.

Koop jou domein- en webbladgasheerpakket (albei kan van jou gekose webbladgasheer se webwerf af gedoen word). Met Bluehost, wat deur WordPress self aanbeveel word vir nuwe bloggers, gaan die proses soos volg wees:

  • Maak Bluehost in ʼn nuwe venster in jou webblaaier oop.
  • Klik op die Start now-knoppie (begin).
  • Kies op die volgende skerm die plan wat jy nodig het (basies en plus is die gewildste).
  • Voer die domeinnaam van jou webwerf in.
  • Voeg jou rekeninginligting en pakketinligting by. Op hierdie skerm is opsionele ekstras wat jy nou of later kan aankoop.
  • Jy sal nou ʼn e-pos ontvang met besonderhede oor hoe jy op jou webgasheer se kontrolepaneel (cPanel) kan aanmeld. Dit is hier waar jy WordPress installeer.

Installeer WordPress

  • Baie webbladgashere (soos Bluehost) sal na afloop van die registrasie outomaties vir jou ʼn WordPress-webwerf skep. Meld eenvoudig by jou Bluehost-rekening (Log in) aan en klik op die WordPress-aanmeldknoppie.
  • As jy egter self WordPress wil installeer, sal die volgende handleiding help: https://wordpress.org/support/article/how-to-install-wordpress/.

Kies jou WordPress-tema

  • Pas nou die voorkoms en gevoel van jou blog aan.
  • Verander die tema deur na jou WordPress-beheerpaneel (dashboard) te gaan en op Appearance Themes (voorkomstemas) te klik.
  • Klik nou op die Add now-knoppie (voeg by).
  • Jy kan nou kies uit meer as 7 400 gratis WordPress-temas wat beskikbaar is.
  • Klik op die Preview-knoppie (voorskou) om te sien hoe die ontwerp op jou webwerf sal lyk.
  • Beweeg jou rekenaarmuis totdat die pyltjie op jou gekose tema staan – die installeerknoppie sal nou verskyn. Klik daarop en wag vir die tema om geïnstalleer te word. Hierna verskyn ʼn aktiveerknoppie waarop jy moet klik om jou tema te aktiveer.
  • Pas jou tema aan deur onder die voorkomsmenu op die Customize-knoppie (verpersoonlik) te klik.

Jy kan nou jou eerste blogpos skep deur op die Postings – Add new-menu (pos – voeg nuwe by) in die WordPress-beheerpaneel te klik.

Bronne

https://firstsiteguide.com/start-blog/

https://blog.feedspot.com/south_african_lifestyle_blogs/

https://www.bizjournals.com/sacramento/blog/socialmadness/2013/04/wordpress-websites-not-just-for-bloggers.html

https://af.unitinal.com/top-5-redes-waarom-jy-n-besigheids-blog-moet-begin/

https://www.wpbeginner.com/start-a-wordpress-blog/

Blogging: It’s Not as Difficult as You Think https://newappsagency.com/

https://af.eyewated.com/blogging-platform-vergelyking/

 

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog