Volgens Artikels

Deur Nico Strydom

Die Covid-19-pandemie het maatskappye en organisasies regoor die wêreld genoop om oplossings te vind vir die skielike en wydverspreide verskuiwing na aanlyn en afstandwerk.

“Meer as ʼn jaar later is dit duidelik dat die pandemie persepsies en werknemers se ervaring van werkplekkultuur permanent beïnvloed het,” sê Reynhardt Uys van die Immersion Group.

Talle werkgewers het in ʼn poging om aan te pas by die pandemie en die uitdagings daarvan die hoof te bied, die skuif na digitale en afstandwerk ten volle aangegryp, terwyl werknemers in ander gevalle gevoel het hulle kry nie ondersteuning nie wanneer hulle probeer om ʼn nuwe manier van werk en interaksie met kollegas en kliënte te vind.

“Dit is duidelik dat interne struktuur, kommunikasie en maatskappykultuur belangriker is as ooit tevore. Besighede wat die voordeel van die oorgang gesien het, het langtermyn- strategiese besluite geneem en nuwe digitale prosesse en stelsels geïmplementeer om die lang lewensduur van hierdie nuwe werkwyse te verseker,” meen Uys.

Sommige werkgewers ervaar dat hul werknemers meer gefokus en energiek is wanneer hulle nie soggens en saans die verkeer kantoor toe en terug huis toe hoef aan te pak nie. Tradisionele strukture en rolle is omgekeer en, hoewel die sielkundige behoefte aan menslike kontak belangrik bly, verduidelik Uys dat daar beslis positiewe aspekte is rakende die vinnige uitwerking op werkplekkultuur.

“Werkgewers vind dat aanlyn werk en virtuele ruimtes ʼn katalisator word vir innovering. Een van die belangrikste gevaartekens wat ons wel al sien, is dat organisasies wat na aanlyn    werk gemigreer het, meer tyd spandeer om die produktiwiteit van werknemers na te gaan en sodoende meer onnodige administratiewe take skep wat vermy kan word,” voeg Uys by.

James Thomas, ʼn vennoot van PwC Strategy&, meen die hoofde en bestuurders van organisasies moet oorweeg watter kultuurveranderinge hulle wil behou en watter hulle moet teëwerk.

“Die pas waarteen hierdie veranderinge plaasvind is ʼn probleem. Organisasiekultuur word gedefinieer deur die kollektiewe gedragsnorme wat individue binne ʼn organisasie vertoon. Oor die algemeen verander die kultuur van ʼn werkplek nie baie of baie vinnig nie. Die afgelope jaar het dinge sommer binne ʼn paar dae handomkeer verander.”

Om van aangesig tot aangesig kontak met kollegas te hê, is egter steeds ook belangrik aangesien dit verhoudings en vertroue bou. “Net so vind mense ook sin in hul daaglikse rituele – om gereed te maak vir werk, te pendel werk toe, ʼn koppie koffie te maak en hul waterbottel vol te maak voordat hulle by hul lessenaar sit. Afstandwerk kan dalk na ʼn goedkoop opsie lyk maar dit kan verborge koste vir ʼn maatskappy se kultuur meebring.”

 

Bronne

Immersion Group: https://immersion-group.com/

Strategy&: https://www.strategyand.pwc.com/m1/en/articles/2020/how-the-pandemic-can-change-workplace-culture-for-the-better.html

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog