Volgens Artikels

Deur Nico Strydom

Die Covid-19-pandemie en gevolglike inperkings het die werkplek in baie opsigte onherroeplik verander.

Verskillende inperkingsvlakke het tot gevolg dat mense soms van die huis af moet werk en wanneer hulle wel op kantoor is, moet daar maskers gedra en aan ander protokolle voldoen word. Kenners meen die impak van Covid-19 sal nog baie lank gesien kan word ondanks die vordering met die bekamping van die pandemie.

“Covid-19 en die gevolglike inperkings het die manier waarop ons as mense leef, werk, ons kinders opvoed, inkopies doen, vermaak en interaksie met die wêreld rondom ons fundamenteel verander,” sê Georgina Barrick, besturende direkteur by ADvTECH se Network Contracting Solutions. “En hoewel ons aanvanklik gehoop het dat die ontwrigting wat deur die streng inperking veroorsaak is al verby sou wees, moet ons aanvaar dat sommige van die dinge wat ons gedink het slegs tydelike veranderings en aanpassings sou wees, nou hier is om te bly. ”

Volgens Barrick is daar nie meer sprake van “wanneer dinge na normaal gaan terugkeer” soos in die eerste paar maande van die pandemie nie. “Ons verstaan nou dat daar geen terugkeer is nie. Alhoewel hierdie radikale, dinamiese en deurlopende veranderinge daaglikse uitdagings vir leierskap skep, is dit ook waar dat dit unieke geleenthede bied om te herkalibreer en positief vorentoe te gaan, met ʼn begrip van die veranderinge, uitdagings en die strategie wat nodig is.”

Barrick wys op ses duidelike tendense wat nou aan die lig kom en wys op die nuwe rigting van die wêreld van werk.

ʼn Hibriede werkmodel

Afstandwerk soos dit in 2020 gesien is, word nou stadigaan vervang deur ʼn hibriede huis- en/of kantoorwerkmodel. Daar moet volgens Barrick werk gemaak word daarvan om die regte kultuur vir hibriede spanne te skep – ʼn kultuur wat tegnologie en positiewe interne kommunikasie inspan om alle spanlede gereed te kry en bymekaar te bring, ongeag waar hulle gevestig is.

Uiteindelik moet daar ook gedink word aan die skep van ”trekfaktore” vir kantoorruimte, om sosiale interaksie en aktiewe betrokkenheid aan te moedig, sodat die tyd wat op kantoor spandeer word, handel oor samewerking aan spangebaseerde projekte, terwyl take wat meer introspeksie of stiltetyd verg en alleen gedoen kan word, tuis gedoen word.

ʼn Platter organisatoriese struktuur

As gevolg van die manier waarop tegnologie die inligtingsvloei verbeter het, neem meer ondernemings platter organisasiestrukture aan en geniet die voordele van laer bedryfskoste, verbeterde kommunikasie en verhoogde motivering.

Deurlopende ontwikkeling

Post-Covid-19, voortdurende en vinnige verandering, tegnologie wat ontwikkel en toenemende inligting, maak voortdurende ontwikkeling ʼn moet, nie net om die kompetisie te oortref nie, maar ook om onvermydelike leemtes in vaardighede te vul, sê Barrick. Daar moet deurlopende ontwikkeling wees van ʼn kombinasie van die regte harde en sagte vaardighede.

Hoër werknemeromset

Namate die pandemie afneem, sal ʼn langdurige vertraging in die stelsel veroorsaak dat baie mense ophou werk, van werk verander of emigreer en ondernemings moet hul dus staal vir ʼn hoër werknemeromset, waarsku Barrick.

‘n Niepermanente arbeidsmag

Barrick sê dat namate omset en die vaardigheidsgaping verder toeneem, ʼn niepermanente arbeidsmag sentraal sal wees in die talentstrategie van die onderneming. Spesialiste wat korttermynprojekte kan behartig, die huidige kwessies kan hanteer of talentgapings kan aanvul, is in aanvraag.

Volhoubare tempo ononderhandelbaar

Die enigste ware langtermynoplossing vir ʼn onvolhoubare pas weens die pandemie is om ʼn volhoubare pas te skep. Dit beteken om projekte noukeurig te kies, die kuns te bemeester om nee te sê, tyd in jou dagboek in te werk vir ʼn blaaskans en om dinge wat nie vroeg reeds werk nie te staak. Die prys van ʼn onvolhoubare tempo is uitbranding en niemand kan dit regtig bekostig nie.

“Terwyl ons voortgaan om optimaal te probeer funksioneer in ons huidige omgewing, is dit noodsaaklik dat ons die lesse van die afgelope jaar en ʼn half identifiseer en daaruit leer om te verseker dat ons die pad vorentoe so glad as moontlik maak.”

 

Bronne

Network Contracting Solutions: https://www.networkcontracting.co.za/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog