Volgens Artikels

Deur dr. Eugene Brink

Covid-19 het die groot bewegings in die arbeidsmark blootgelê en terselfdertyd ʼn meer tydelike hupstootjie aan sekere vaardighede en dienste gegee.

ʼn Career Junction-indeks wat verlede jaar vrygestel is, het getoon dat die top-indiensnemingsektore in Suid-Afrika besigheid en bestuur, verkope, inligtings- en kommunikasietegnologie (ICT), bemarking, reiniging, instandhouding en herstel, en argitektuur en ingenieurswese is.

Besighede soek meer sagtewareontwikkelingsvaardighede en verkoopskonsultantvaardighede. Die vraag na verkoopspersoneel het tussen Junie en November verlede jaar met ʼn yslike 35% toegeneem. Boonop is veral finansiële bestuurders en sagtewareontwikkelaars reeds ʼn tyd lank hoog in aanvraag.

ʼn Verslag deur Career Junction vir Februarie 2021 het getoon dat bestuursvaardighede gekombineer met bestuursdeskundigheid in aanvraag is – veral middel- en departementsbestuurders. Senior bestuur is egter ook een van die neigende werke met die gemiddelde salarisse vir ʼn deskundige vlak wat wissel tussen R59 454 en R78 732 in Gauteng en R46 439 en R55 394 in die Wes-Kaap.

Dit korreleer sterk met langer-termynneigings en werp lig op die feit dat, in stede van die arbeidsmark heeltemal te omvorm, dit bloot sekere bestaande neigings vererger en bevorder het.

Nogal verbasend bly klerklike, administratiewe en kantoorwerk hoog in aanvraag in Suid-Afrika ten spyte van die veronderstelde beweging na outomatisering en digitisering wat hierdie poste toenemend in gevaar sal stel. Neigende poste in die Career Junction-indeks sluit in kliënteondersteuning en administratiewe klerke. Daar is egter ʼn groot aanbod van arbeid in hierdie professies en dit beteken dat daar waarskynlik ʼn mate van kompetisie vir poste sal wees – veral vir die meer lukratiewes. Desnieteenstaande is hierdie poste skynbaar veilig en in aanvraag, ten minste oor die kort termyn.

Dr Yudhvir Seetharam, hoof van ontleding, insigte en navorsing by FNB Business, sê die rol van datawetenskaplikes is tans groter as ooit tevore in die bemagtiging van en inligtingoordrag na besigheidstrategie.

Datawetenskaplikes kombineer rekenaarwetenskap, statistiek en sosiale wetenskap om groot hoeveelhede gestruktureerde en ongestruktureerde data te versamel en te ontleed. Dan gebruik hulle modelle om hierdie data te interpreteer en modelleer om uitvoerbare planne vir maatskappye te skep. Omdat hulle werk dikwels kruisfunksioneel is, moet hulle ewe bedrewe wees met kommunikasie as met leiding.

Dusver was datawetenskap ʼn integraal in die geveg teen die pandemie. Die interpretasie van groot data het gehelp om die dinamika van die siekte en sy verspreiding te verstaan, en ook besighede wat data gebruik om die benodigdhede en behoeftes van kliënte beter te verstaan. “Teen hierdie agtergrond kan ʼn mens vergewe word as hy aanvaar dat datawetenskaplikes nou lekker ingeboude werksekuriteit het,” sê dr. Seetharam.

Volgens Payscale-data is die gemiddelde salaris van ʼn Suid-Afrikaanse datawetenskaplike R432 310.

Hoewel die bedreiging van Covid-19 in die laaste tyd ietwat bedaar het, is daar steeds die werklike bedreiging van ʼn dodelike derde vlaag in die wintermaande. ʼn Verslag deur Adzuna het getoon dat die vraag na Covid-19- mediese poste – soos geregistreerde verpleegsters, aptekersassistente en beroepsgesondheidspesialiste wat maatskappye kan help om siek werkers te help – die hoogte ingeskiet in Suid-Afrika.

“Dit is interessant om te sien hoe hierdie openbaregesondheidramp besig is om ʼn  reeks werksoorte te skep wat daarop gemik is om die siekte te beveg. Poste soos dié van aptekersassistent en geregistreerde verpleegsters het vinnig toegeneem. Ons verwag egter dat die vraag na hierdie vaardighede selfs groter sal word in die komende maande,” sê Jesse Green, landbestuurder vir Adzuna Suid_Afrika.

Hierdie opwelling is dalk net tydelik, maar die siektes in die openbaregesondheidsektor en die vraag na gehaltegesondheidsorg het dit meer langtermynsaak gemaak.

Opvoeding word al hoe meer aanlyn en Covid-19 het hierdie neiging versnel. Hierdie dralende vrees dat skole weer kan sluit en die skuif na afstandswerk en –skoolgaan vergroot die vraag na aanlyn onderwysers en tutors. “Ons opvoedingslandskap is ook deur die pandemie getransformeer. Selfs voor die inperking was afstandsopvoeding iets wat ʼn klomp Suid-Afrikaners oorweeg het. Adzuna verwag dat ‘tuisonderwyser’ ʼn gesogte rol gaan word, dalk iets waarheen huidige onderwysers in hul loopbane kan skuif,” sê Green.

Die emosionele en sielkundige tol wat Covid-19 van mense geëis het, sal dalk die behoefte aan maatskaplike werkers en sielkundiges laat toeneem – ten minste oor die kort termyn.

 

Bronne

Business Insider SA, 8 Julie 2020, “These ‘coronavirus jobs’ are in demand in SA, including Covid-19 safety officers and tutors”, https://www.businessinsider.co.za/skills-in-demand-in-south-africa-2020-7.

BusinessTech, 17 Maart 2021, “The most in-demand job skills in South Africa right now”, https://businesstech.co.za/news/business/476754/the-most-in-demand-job-skills-in-south-africa-right-now-6/.

BusinessTech, 26 Januarie 2021, “This high-paying job is likely to be in demand post Covid-19 in South Africa”, https://businesstech.co.za/news/technology/463470/this-high-paying-job-is-likely-to-be-in-demand-post-covid-19-in-south-africa/.

BusinessTech, 16 November 2021, “These are the most in-demand job skills in South Africa right now”, https://businesstech.co.za/news/business/448861/these-are-the-most-in-demand-job-skills-in-south-africa-right-now-16/.

Cape Business News, 17 Maart 2021, “The most in-demand job skills in South Africa right now”, https://www.cbn.co.za/featured/the-most-in-demand-job-skills-in-south-africa-right-now/.

Masterindatascience.org, 2021, “What is a data scientist?”, https://www.mastersindatascience.org/careers/data-scientist/.

McKinsey Global Institute, 2021, “The future of work after Covid-19”, https://www.mckinsey.com/featured-insights/future-of-work/the-future-of-work-after-covid-19.

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog