Volgens Artikels

Deur Eugene Brink

Perfeksie klink byna altyd edel en prysenswaardig. Wie wil dan nie perfek wees en voorkom nie?

Dit is ʼn goeie vraag met meer uitsonderings as antwoorde. Om jou werk goed te doen en na perfeksie te strewe is per se nie ʼn slegte ding nie, maar is wel as dit obsessief word en doeltreffendheid in die wiele ry.

Jules Shroeder, ʼn loopbaankundige by Forbes wat op Milleniërs fokus, sê perfeksie kan verlammend wees. “Aan die een kant vereis dit hoë standaarde van jou en verseker dat jy slegs uitstaande werk lewer. Maar aan die ander kant bind dieselfde standaarde jou, wat veroorsaak dat jy uitstel, aksie vermy, en minder doeltreffend is.”

Bogenoemde is veral van toepassing op kantoorwerkers, wat dikwels verskeie administratiewe en ander verpligtinge gelyktydig moet baasraak. “Sielkundig gesproke jaag ons perfeksie na omrede die veiligheid wat dit verskaf. Dit is maklik om jou tekortkominge agter die sluier van perfeksionisme weg te steek, en slegs iets te onthul of op te tree wanneer jy oortuig is jy gaan suksesvol wees. Maar sodoende eindig jy dikwels waar jy jouself en jou loopbaan beperk,” sê sy.

Maar hoe presies ondermyn dit jou loopbaan? In der waarheid, op baie maniere.

  1. Verspeelde kanse vir groei en tydvermorsing

Loopbaan-blogger Jessica Thiefels sê perfeksioniste maak ʼn punt daarvan om alles te vermy waarmee hulle nie goed is nie. “As jy nie die sterspeler is nie, wil jy nie eens in die span wees nie. Om die beste te wil wees, is motiverend, maar om na totale perfeksie te strewe kan jou daarvan weerhou om jouself kwesbaar te stel; beide is krities vir groei in jou loopbaan.

“As jy voel jy stagneer in jou beroep, mag vrees vir mislukking die skuldige wees. Vind maniere om ten minste een keer per week meer kwesbaar te wees, hetsy deur ʼn uitdagende projek te aanvaar of jou mening in ʼn vergadering te deel.”

Kat Boogaard, wat vir The Muse skryf oor loopbane en die lewe, sê niemand wil hulself blootstel daaraan om ʼn neerlaag te ly en in die verleentheid gestel te word nie, maar om jouself terug te hou van geleentheid vir groei, verbetering en leer om  potensiële vernedering te vermy is ook nie aan te beveel nie. “Om perfek te wees te stel bo  menslik te wees is ʼn doodsekere manier om jouself te beperk, professioneel sowel as persoonlik.”

Leer om dan en wan te “laat gaan” en met foute saam te lewe. Beperk ook jou risiko vir mislukking. Beplan en moenie met enorme groot ondernemings begin nie. Begin klein en as jy misluk, misluk jy ook klein. “Moenie dat jou hoë standaarde jou verlam nie,” sê Shroeder.

Om oor klein dingetjies te tob kan jou aandag ook aflei van die groot dinge en op hierdie wyse jou vermoëns en groei belemmer. Om te bly fokus op iets wat die eerste keer amper perfek was toe jy dit voltooi het, mors kosbare tyd wat jy op die uitvoer van ander take kon bestee het.

  1. Dit beroof jou van al die vreugde wat voortspruit uit met iets goed te wees

Jou behoort jou oorwinnings te kan vier en ʼn oorwinningsdans uit te voer. Per slot van rekening is dit waarvoor jy gewerk het en waaroor die lewe gaan. “Eerlikwaar, om ʼn perfeksionis te wees slurp jou heeltemal op. Ek het totaal en al daarop gefokus om iets te poets tot dit skitter, totdat iemand my dwing om aan te beweeg en dit in te handig. En dan, sodra ek daardie taak of projek oorgegee het, beweeg ek dadelik aan na die volgende toe.”

Sy sê die probleem hiermee is nie net die plesier wat jy prysgee en die voortdurende gevoel van onderprestasie nie, maar die feit dat dit uiteindelik tot uitbranding lei.

  1. Jy is ʼn power spanspeler

Of jy nou ʼn bestuurder of medewerker in ʼn kantooropset is, perfeksionisme en die manier waarop dit almal om jou tot waansin dryf, sal mense van jou laat wegdraai.

Boogaard sê nie almal wil voldoen aan die belaglike standaarde wat jy vir jouself stel nie. “Mense verskil. Net omdat jy versot is op die idee van perfeksie beteken nie noodwendig almal is nie. En – laat ons maar eerlik wees – die meeste perfeksioniste word op die ou einde volslae beheervrate.”

Dit sal nie bevorderlik wees vir jou spanlede se sterktes nie en sal waarskynlik net ʼn gevoel van minderwaardigheid by hulle laat posvat, in plaas van om hulle tot nuwe hoogtes aan te spoor.

Thiefels sê ʼn bykomende probleem is dat jy nooit vir hulp vra nie en daarin misluk om te delegeer en ʼn klankbordsessie met kollegas te deel. Dit ontsluit nie al die kapasiteit in ʼn span nie.

Uiteindelik is ʼn gesonde perfeksionisme die pad om te volg: Probeer om soveel te doen as wat jy kan, so goed jy kan, binne die tyd wat jou beskore is.

 

Bronne

Jessica Thiefels, 3 April 2017, “6 Ways Being A Perfectionist Is Hurting Your Career”, https://good.co/blog/6-ways-perfectionist-hurting-career/.

Jules Shroeder, 9 February 2017, “How Perfectionism Is Sabotaging Your Career”, https://www.forbes.com/sites/julesschroeder/2017/02/09/how-perfectionism-is-sabotaging-your-career/?sh=7e961b1779c1.

Kat Boogaard, 2021, “5 Reasons Being a Perfectionist Actually Is Your Biggest Weakness (and Not Just in Interviews)”, https://www.themuse.com/advice/5-reasons-being-a-perfectionist-actually-is-your-biggest-weakness-and-not-just-in-interviews.

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog