Volgens Artikels

Deur Nico Strydom

Die Covid-19-pandemie het groot veranderinge te weeg gebring, waarvan een van die grootste die manier is waarop mense oor hul lewens dink.

Die pandemie het onder meer tot veranderinge gelei rakende die maniere waarop ons sosialiseer, reis, na ons gesondheid omsien,  inkopies doen, besigheid doen,  ons ons tyd struktureer en die manier waarop ons werk, sê Chris Blair, uitvoerende hoof van 21st Century.

“Werknemers wêreldwyd het vir maande lank tuis gewerk weens die pandemie en toe werkgewers hulle gevra het om terug te keer werk toe, was hulle al daaraan gewoond om van die huis of van enige plek af te werk. In hierdie tydperk het baie mense introspeksie gedoen van hul eie doel en die doel van hul werk. As hul doel nie in lyn was met hul werk en hul werknemerwaarde-aanbod nie, het dit daartoe gelei dat werknemers bedank het, selfs al het hulle nog nie ‘n nuwe werk gehad nie.” Dit het gelei tot die term Die Groot Bedanking (The Great Resignation) – mense wat in groter getalle as voor die pandemie bedank het.

Baie van die bedankings was die gevolg van mense wat hul lewens herevalueer het en werk gekies het wat hulle die buigsaamheid en outonomie gegee het wat hulle gedurende die eerste jaar van die inperking ervaar het, sê Blair. Tradisioneel was beter betaling die hoofrede vir bedanking, gevolg deur beter loopbaangeleenthede en -ontwikkeling. Hierdie tendens het egter omgekeer, met slegs ongeveer 20% van werknemers wat nou bedank vir beter betaling, terwyl meer as 70% bedank vir ‘n beter werk-lewe-balans, buigsaamheid, loopbaanontwikkeling, ‘n gesonder kultuur en leierskap.

Volgens Blair het hierdie faktore die sogenaamde gebeurlikheidswerknemer tot gevolg gehad. ‘n Gebeurlikheidswerknemer is in ‘n diensverhouding wat gewoonlik kom met beperkte werksekerheid, betaling in kontant sonder beperkte voordele, betaling op ‘n projekbasis of betaling op kontraktuele basis vir uitsette of tyd gewerk. Gebeurlikheidswerknemers staan ook bekend as vryskutwerknemers, konsultante, kontrakteurs, nie-permanente werkers, tydelike personeel en onafhanklike werkers.

Dié werknemers plaas meer gewig op die “voorwaardes” van werk wat volledige outonomie, volledige buigsaamheid in werksure, buigsaamheid in waar hulle kan werk, die opskerp van vaardighede en ontwikkeling, verminderde reiskoste en verbeterde werk-lewe-balans moontlik maak.

“Baie van hierdie werknemers stel lewensgehalte bo salarisse en vergoed vir die verskil in inkomste deur in laerkoste-gebiede te woon, minder te reis en eenvoudiger gesinsgefokusde lewens te hê. Solank hulle goeie konnektiwiteit en rekenaartoerusting het, kan hulle meer doeltreffend, meer effektief en met minder bestuurstoesig as tradisionele werknemers werk. Dit beteken beide die werknemer en die werkgewersmaatskappy wen – die werknemer se nuwe doel word bereik, terwyl dit minder bestuur en verantwoordelikheid vir hierdie werkers van die werkgewer vereis.”

 

Bron:

21st Century: https://www.21century.co.za/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog