Volgens Artikels

Deur Anja van den Berg

Die meeste korporasies het wigte en teenwigte in plek om etiese gedrag te propageer. Waardestellings maak ʼn gereelde deel uit van maatskappye se etos. Riglyne vir korporatiewe sosiale verantwoordelikheid is ʼn moderne steunpilaar. Sommige werknemers kies selfs om fluitjieblaserprogramme in plek te hê.

Nogtans is dit dikwels onuitgesproke sielkundige dinamika wat werknemers – sowel as leiers – daartoe dryf om etiese lyne oor te steek.

Warren Buffet sê dat diegene wat etiese lyne oorsteek, “nóg heiliges nóg misdadigers is, maar leiers wat dit goed bedoel en soms versuim om hulle morele kompas te raadpleeg terwyl hulle voortjaag in ʼn landskap gevul met slagysters en slaggate.”

Hoe kan jy agterkom wanneer jy, of jou span, op pad na ʼn etiese misstap is? Dr Merete Wedell-Wedellsborg, ʼn organisatoriese sielkundige, verduidelik die sielkundige dinamika agter onetiese gedrag: almag, kulturele verlamming en geregverdigde versuim.

  1. Almag

Vele morele misstappe kan teruggevoer word na ʼn gevoel dat jy onoorwinlik, onaantasbaar en hiper-bekwaam is, verduidelik Wedell-Wedellsborg. Die leier wat oortuig is dat hy almagtig is, glo dat reëls en norms op almal behalwe hom van toepassing is. Om ʼn etiese lyn oor te steek word beskou as minder van ʼn oortreding en meer as iets wat aan hulle verskuldig is. Hulle dink hulle het die reg om die lyn te knip en die beleid oor te skryf.

  1. Kulturele verlamming

Kulturele verlamming ontwikkel wanneer ʼn persoon van belang (gewoonlik die leier of mense binne ʼn invloedryke groep) die reëls subtiel buig. Ander speel dan saam of boots hulle gedrag na. Van daar af aan begin die span geleidelik afwykende norms aanvaar en beliggaam.  Wedell-Wedellsborg waarsku dat, ongeag hoe beginselvas jy is, “die rigtings van jou morele kompas na die kultuur van jou organisasie of span sal skuif”. Met verloop van tyd sien jy hulle nie meer raak nie; aanstootlike taal word byvoorbeeld die norm, of jy begin op maniere optree wat jy nooit sou verwag het deel van jou repertoire sou wees nie.

  1. Geregverdigde versuim

“Die menslike denke is vaardig met die regverdiging van klein oortredinkies wanneer tasbare beloning op die spel is – en wanneer die risiko om uitgevang te word laag is,” waarsku Wedell-Wedellsborg. Geregverdigde versuim verwys na wanneer mense nie etiese breuke aan die kaak stel nie omdat hulle meer behep is met onmiddellike belonings, soos om in die goeie boekies van die magtiges te bly. “Baie leiers is al gekonfronteer met ʼn keuse tussen beloon te word of die regte ding te doen,” gaan Wedell-Wedellsborg voort. Die afdraande pad begin onmiddellik wanneer jy aksies begin rasionaliseer en jouself en ander vertel: ‘Hierdie is ʼn buitengewone situasie’”. So ʼn aanvanklike glips veroorsaak ʼn tuimeling afwaarts na meer flaters, wat in gewoontes verander.

Ten spyte van korporatiewe pogings word ware etiese vrae nie altyd vergesel van ʼn handleiding nie. Morele besluitneming maak dikwels staat op persoonlike oordeel. Omdat etiese dilemmas merendeels geassosieer word met dit wat kontroversieel of taboe is, voel mense ongemaklik om hulle innerlike worstelings te bespreek.

Wedell-Wedellsborg sê dit kan ongemaklik wees om te erken dat jy verskeurd of onseker voel oor hoe om op te tree. Nogtans moet jy erken dat dit deel is van jou professionele groei. Om jou onsekerheid direk en openlik aan te spreek (hetsy teenoor ʼn vertroude vriend of ander vertroueling)  kan ver gaan om jou te help om jou dilemma op te los.

 

Bronne:

Harvard Business Review: https://hbr.org/2019/04/the-psychology-behind-unethical-behavior

Pioneering Minds: https://www.pioneeringminds.com/PQPosts/psychology-behind-unethical-behavior/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog