Volgens Artikels

Deur Reon Janse van Rensburg

Dit is weer daai tyd van die jaar waar ons afskaal en soms ’n bietjie langer gesprekke in die kantoor se kombuis aanknoop as wat ons normaalweg sou doen. Ons droom van die somervakansie wat voorlê en sien daarna uit om geliefdes te sien, selfs meer as gewoonlik, omdat daar te veel gesinne is wat vanjaar onverwags geliefdes aan die dood afgestaan het. Dit beteken egter ook dat ons lang rye in winkels gaan trotseer om kersgeskenke te koop en ʼn oormaat kos gaan koop wat op Kersdag verorber moet word. Moet egter nie bekommerd wees nie – jou nuwejaarsvoorneme sal sorg dat jy daai ekstra rolletjies vinnig-vinnig afskud, of hoe?

Voor ons ons oë uitvee is ons weer terug op kantoor na die feesseisoen en doen ons alles weer van voor af. Hierdie keer doen ons dit net beter.

2022 gaan waarskynlik weer talle uitdagings bied. Met Solidariteit aan jou kant, hoef jy egter nie té bekommerd oor jou loopbaanpad te wees nie. Solidariteit skep geleenthede vir die jeug deur Solidariteit Jeug. S-leer bied Solidariteit-lede die geleentheid om hulle vaardighede te verbeter en uit te brei terwyl die beroepspesifieke gildes lede met bedryfsrelevante advies en ʼn professionele netwerk van werknemers wat in dieselfde beroep werksaam as jy is, bystaan.

Wat is die werkplekneigings vir 2022?

Volgens Dan Schawbel, New York Times topverkoper-outeur en besturende vennoot van Workplace Intelligence, sal Covid-19 steeds ʼn belangrike rol in die vorming van die werkplek speel. Hy is van mening dat leiers nuwe entstofmandate moet aanspreek en toegewyd moet bly om hulle kantore veilig te hou.

Terselfdertyd het die pandemie baie positiewe neigings versnel – van die opkoms van die hibriede model tot ’n hernieude fokus op die werknemer se stem, hulle welstand en hulle voordele. Ons sal ook sien dat loopbaanontwikkeling en -opleiding in die kollig kom namate mense probeer om weer beheer oor hulle eie lewens te neem.

Die Covid-19-pandemie beïnvloed steeds wêreldwye ekonomiese groei. Vir 2022 het Goldman Sachs sy voorspelling vir die jaarlikse Amerikaanse BBP-groei tot 4% afgegradeer vanaf ’n vorige skatting van 4,4%. Intussen word daar voorspel dat streeksgroei in Europa en Sentraal-Asië tot 3,4% in 2022 sal matig, en die Wêreldbank merk op dat die vooruitsigte hoogs onseker bly.

Volgens Schwabel is daar verskeie faktore wat hierdie ekonomiese aanwysers beïnvloed. Pogings om inentingsyfers te verhoog sal egter ’n sleutelrol in die stabilisering van die wêreldekonomie speel. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het byvoorbeeld ’n strategie bekendgestel waar hulle wil poog om die wêreld se populasie teen middel 2022 ten volle teen Covid-19 in te ent. Die nuwe strategie skets ’n plan om die WGO se teikens te bereik om 40% van die bevolking van elke land teen die einde van hierdie jaar en 70% teen middel 2022 in te ent.

5 werkplekneigings vir 2022

  1. ’n Sterk digitale ingesteldheid sal deurlopende besigheidskontinuïteit ondersteun

In 2022 sal ons groei in ’n gebied, genaamd hiper-outomatisering, sien. Hierdie benadering behels die orkestrasie van veelvuldige outomatiseringstegnologieë, wat organisasies in staat stel om na ’n meer gekoppelde en effektiewe outomatiseringstrategie oor te skakel. Kenners voorspel dat die wêreldwye mark vir hiper-outomatiseringstegnologie byna $600 miljard in 2022 sal bereik, en daar word verwag dat besighede wat hierdie benadering gebruik hulle bedryfskoste met 30% sal verlaag.

Natuurlik sal tegnologie ook ’n sleutelrol in die hibriede werkplek speel. Samewerkingsinstrumente is ’n gegewe, maar ons sal sien dat ander tegnologieë ook opduik. Byvoorbeeld, meer as 80% van organisasies sal teen 2022 wolkgebaseerde stelsels aanneem. Ondernemings sal ook nutsmiddels bied vir wanneer personeel die kantoor binnegaan, byvoorbeeld toepassings wat kontakopsporing ondersteun, kantoor- of lessenaarbespreking, of ’n aanrakingvrye werkplek. Ons sal selfs waarskynlik alles-in-een werknemerbestuurtoepassings volgende jaar in die kollig sien kom, om ’n meer naatlose ervaring vir werkers en leiers te bewerkstellig.

  1. Leiers sal meer as ooit tevore op werknemers se insette en terugvoer staatmaak

ʼn Kwessie wat die pandemie aan die lig gebring het, is dat die stem van sommige werknemers vir te lank geïgnoreer is. Dit sluit noodsaaklike werkers en versorgers in, en nou sien ons dat afgeleë werkers ook agtergelaat kan word. ’n Wêreldwye studie wat deur Workplace Intelligence en UKG gedoen is het bevind dat 86% van werknemers voel dat mense by hulle organisasie nie regverdig behandel word, of gehoor word nie.

Maatskappye wat nie hulle werknemers se terugvoer soek of na hulle luister nie kan sukkel om talent te behou in ’n tyd waar arbeidsmagbehoud sleutel tot ’n maatskappy se sukses is. Hulle sal ook idees en innovasie mis wat kan help om die winspunt te dryf, want werkers sal nie praat as hulle voel hul dat hulle insette nie verlang word nie. Daarom sal leiers in 2022 verder gaan as om net na hulle mense te luister – hulle sal insigte in aksie omsit met die fokus op die verbetering van ondernemingsuitkomste en werknemerervaring.

Schwabel voer aan dat indien maatskappye dít wil bereik, sal hulle robuuste werknemer-terugvoerprogramme moet skep wat tegnologie benut en verskeie terugvoerkanale insluit. IBM, byvoorbeeld, hou globale “Innovation Jams” wat leiers help om die stem van die werknemer te versamel en daarvan sin te maak. Intussen doen Microsoft elke dag opnames van meer as 2 500 werknemers. Eenvoudig gestel: die toekoms vir die stem van die werknemer is soveel meer as ’n jaarlikse betrokkenheidsopname.

  1. Organisasies sal veg om talent te lok en te behou te midde van die “groot bedanking”

Sedert April 2021 het meer as 15 miljoen mense in die VSA hulle werk verlaat in ’n neiging wat die “groot bedanking” genoem word. Alle tekens dui daarop dat die beëindigingskoers in 2022 sal aanhou versnel, en 55% van professionele persone in die werkplek sê hulle verwag dat omset van werknemers volgende jaar sal toeneem.

Wat gaan werkgewers dus doen om die arbeidstekort in 2022 te bekamp? Sommige begin met die basiese beginsels – maatskappye soos Amazon, Costco en Walmart het hulle salarisse verhoog in ’n poging om werkers te lok. Ander bou hul voordelepakkette uit en bied byvoordele soos aandele-opsies of finansiële welstandaansporings en baie ondernemings fokus daarop om hulle bestaande arbeidsmag op te gradeer, of weer op te lei.

Vir die meeste mense sal byvoordele en betaling egter nie genoeg wees nie. Nuwe navorsing van Oracle vind dat 88% van werkers voel asof die betekenis van “sukses” verander het, en hulle prioritiseer nou hulle werk-lewe-balans, hulle geestesgesondheid en om ’n betekenisvolle werk bo ’n bestendige salaris te hê. Dit is hoekom mense in 2022 nie meer maatskappye sal duld wat hulle swak behandel nie, en hulle sal werkgewers op ’n hoër standaard as ooit tevore plaas. Werkgewers het geen ander keuse as om tot die stryd toe te tree indien hulle talent te midde van ’n werknemergedrewe mark wil lok en behou nie.

  1. Die meeste maatskappye sal ’n hibriede of afgeleë-eerstebenadering volg

Volgens Schwabel sal werknemers meer keuses gebied word oor waar hulle wil werk en sal ondernemings in 2022 ook hulle mense toelaat om meer beheer te hê oor wanneer hulle werk. In Schwabel se navorsing met WeWork het beide werknemers en die C-suite opgemerk dat buigsaamheid, skedulebeheer en balans tussen werk en lewe die belangrikste voordele van die hibriede model was. ’n Paar maatskappye, insluitend Kickstarter en Bolt, loods selfs ’n 4-dag werkweek om wydverspreide uitbranding onder hulle werkers te help bekamp.

Baie maatskappye het gehoop om in 2021 na ’n hibriede model oor te skakel, maar die opkoms van die Covid-19 Delta-variant het veroorsaak dat die meeste van hulle hul kantoorheropeningsplanne opgehou het. Dinge lyk egter meer belowend vir 2022, ten minste in die VSA waar sake relatief bestendig bly.

Organisasies wat reeds planne aangekondig het dat hulle ’n hibriede benadering gaan aanneem, sluit in Microsoft, Apple, Adobe, Citigroup en vele ander. Intussen volg maatskappye soos Twitter, Dropbox en Amazon ’n volledig afgeleë benadering en laat hulle korporatiewe werknemers toe om onbepaald van die huis af te werk.

  1. Die hibriede model sal ’n tweeledige arbeidsmag skep

Hoewel die hibriede model baie voordele bied, het dit ook sy nadele. Een kwessie wat reeds na vore kom, is dat afgeleë werkers dalk nie regverdig behandel word in vergelyking met hulle kantoor-eweknieë nie. Trouens, nuwe navorsing van Workplace Intelligence en Kahoot! bevestig ’n sterk vooroordeel teen afgeleë werkers. Daar is ontdek dat meer as 6 uit 10 mensehulpbronne-leiers sê dat kantoorwerknemers meer geneig is om bevorder te word en gereelde verhogings te ontvang, en hulle word as harder werkers en meer waardevol beskou.

In 2022 sal sakeleiers daarop moet fokus om hierdie vooroordeel te oorkom as hulle wil hê dat die hibriede model vir hulle onderneming moet slaag. ’n Kulturele verskuiwing sal beslis vereis word, en bestuurders sal stappe moet neem om te verseker dat alle werkers gelyk behandel word en ingesluit voel. ʼn Studie het egter aan die lig gebring dat die beste samewerkingstegnologieë ook ’n kritieke rol kan speel om ’n regverdige werkplek vir almal te verseker.

Talle hoof- uitvoerendebeamptes en leiers stem saam dat die hibriede benadering tot ’n tweeledige werkplek kan lei. Sid Sijbrandij, uitvoerende hoof van GitLab, het die hibriede model beskryf as “die slegste van albei wêrelde”. Rich Barton, uitvoerende hoof van Zillow, het ook sy kommer uitgespreek en beklemtoon dat “Ons ’n gelyke speelveld moet verseker vir alle spanlede, ongeag hulle fisiese ligging”.

Hierdie artikel is verwerk vanaf die oorspronklike een wat op LinkedIn gepubliseer is.

 

Bron:

The Top 10 Workplace Trends for 2022 – https://www.linkedin.com/pulse/top-10-workplace-trends-2022-dan-schawbel/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog