Volgens Artikels

Deur Wilma Bedford

Al hoe meer maatskappye het begin om hulle spanne af te skaal omdat dit goedkoper is om vryskutwerkers te huur. Daarbenewens het die Covid-19-pandemie onwillekeurig ʼn “nuwe normaal” geskep, waar om van die huis af te werk die norm geword het en diegene wat hulle werk verloor het of uit pure verveeldheid weens die inperking ʼn nuwe stokperdjie begin het of ʼn oue hervat het dit in ʼn sakesuksesverhaal verander het. Dit het daartoe gelei dat hulle vryskutwerkers geword het en nou ʼn nuwe toekoms betree.

Vryskutwerk is egter alles behalwe maklik en nie almal is daarvoor gebou of ten volle toegerus nie. Hoe moeilik vryskutwerk vir jou is, mag afhang van jou persoonlikheid, werkstyl, en hoe goed jy onsekerheid kan verduur.

Die valstrikke van vryskutwerk

–            Jou inkomste sal op- en afgaan en dikwels onvoorspelbaar wees

Sommige vryskutwerkers noem dit die “skep of droogte”-siklus. Een maand mag hulle so baie vryskutwerk hê dat hulle sukkel om alles te hanteer. Die volgende maand droog hulle werk op. Dit is die balans waarmee alle vryskutwerkers gekonfronteer word: om genoeg te werk ten einde voorbereid te wees vir die “af”-periodes.

–            Jou uitgawes mag styg

Alhoewel jy nie die onkostes van werk toe en terug hoef te betaal nie, mag jy vind dat jou uitgawes styg. As jy ʼn nuwe skootrekenaar, ʼn nuwe stoel of enige sagteware of toerusting vir jou vryskutwerk benodig, moet jy dit uit jou winste aanskaf.

Afhangende van wat jy alreeds het en die tipe vryskutwerk wat jy van voorneme is om te doen, kan jou onkostes uiteindelik ʼn enorme hap uit jou inkomste neem – ten minste in die vroeë maande.

  • Geen gevoel van sekuriteit

Verskeie faktore dra hiertoe by. Om kliënte te vind is moeilik, die kompetisie is taf, en somtyds is dit moeilik om uit te staan. Jy is gevolglik bang om projekte af te wys alhoewel jy alreeds te veel het, want jy wil nie geleenthede toelaat om by jou verby te gaan nie.

Jy bekommer jou dikwels oor huur want jy het letterlik niks aan die gang nie.

–       Werk-lewe-balans

Die finale ironie van vryskutwerk is dat jy inspring met die gedagte dat jy uiteindelik meer vrye tyd gaan hê, maar in werklikheid word dit moeiliker om af te skakel en ʼn blaaskans te neem. Om van die huis af te werk laat die lyn tussen werk en lewe verdof en op die ou einde meng jy die twee.

Dis regtig maklik om aan te hou werk wanneer jy eintlik jou rekenaar moet afskakel en bedwaarts keer. En omdat jy weet werk is nie so stabiel nie, sit jy ekstra werk in om ʼn soliede spaarfonds te verseker.

  • Selfbestuur

Met geen baas wat oor jou skouer loer nie, word aansienlik meer selfbeheer vereis om take betyds af te handel. Om op YouTube te kuier of na ʼn Netflix-rolprent te kyk lyk baie meer aantreklik as om daardie verslag, artikel of ontwerp klaar te maak.

Daar mag meer administratiewe pligte wees om af te handel as wat jy verwag het. Jy werk nou op jou eie en skielik is jy boekhouer, administratiewe personeel, netwerker, skeduleerder, bemarker, verkoopspersoon en projekbestuurder. Dit alles gaan nie tot jou basiese inkomste bydra nie.

  • Moeilike kliënte

Kliënte kan wonderlik wees om mee saam te werk of kan ʼn lewende nagmerrie wees. Hulle mag onduidelik wees oor wat hulle wil hê maar verwag van jou om die korrekte produk te lewer, het probleme en verskonings rakende jou betaling, of betaal glad nie eens nie.

  • Dit kan eensaam wees

Jy mag dit moeilik vind om te fokus sonder die sosiale interaksie waaraan jy gewoond is. Om nie by kantoorpolitiek of -drama betrokke te wees nie kan ʼn seën wees, maar as jy daaraan gewoond is om met kollegas te gesels gedurende die werkdag, mag vryskutwerk eensaam en vreemd voorkom. Dit mag moeiliker vir ekstroverte as vir introverte wees, maar selfs geharde introverte mag uiteindelik vind hulle het genoeg van hulle eie geselskap gehad.

  • Belastings en versekering

Werknemervoordele en belastingbydraes bestaan nie in die vryskutwêreld nie. Vryskutwerkers moet dit óf self doen, óf ʼn boekhouer huur. Jy sal ook jou eie mediese versekering moet reël en jou eie spaar vir aftrede moet daarstel. Maak seker jy weet wat is vir jou beskikbaar en dat jy weet hoe om mediese versekering te hanteer voordat jy bedank.

  • Dit kan tyd neem om jou vryskutbesigheid te vestig

Die meeste besighede word nie oornag suksesvol nie. Om die punt te bereik waar jy jouself en jou gesin kan onderhou, neem tyd. Jy moet oor ʼn standvastige kliëntelys beskik, in staat wees om jou werklading te hanteer, georganiseerd bly, en die slegte tye kan trotseer.

Die voordele van vryskutwerk

–         Jy verdien geld deur iets te doen waarvoor jy lief is

Een van die grootste voordele van vryskutwerk is om ʼn groot deel van jou werkdag te kan wy aan iets waarvoor jy lief is, in plaas daarvan om elke dag  ʼn vervelige en versmorende werk in die gesig te staar

  • Jy is jou eie baas

Wanneer jy ʼn suksesvolle vryskutwerker word, is jy ten volle in beheer. Jy besluit watter projekte om te aanvaar en jy kan kliënte afwys saam met wie jy nie wil werk nie. Jy kan jouself selfs ʼn verhoging gee. Sodra jy ʼn goeie poel tevrede kliënte gevestig het, kan jy maklik jou pryse verhoog.

–        Jy stel jou eie ure vas om by jou omstandighede te pas

Dit is ʼn groot voordeel van vryskutwerk, veral as jy kinders het of iemand moet versorg. Jy sal natuurlik moet kies of jy kliënte gelukkig wil hou deur dringende werk te aanvaar wat mag vereis dat jy lang ure of tot laat in die nag moet werk. Hiervoor maak jy op met “vrye” tyd wanneer dit moontlik is.

Jy kan ook jou werk skeduleer vir die ure wanneer jy op en wakker en mees produktief is.

Jy is nie gebind aan normale 9-5 ure nie, maar jy kan daardie 9-5 ure werk as jy wil.

–        Jy werk van die huis af (of so te sê net waar jy wil)

In 2020 het mense wêreldwyd opgeëindig deur van die huis af te werk. Die voordele is dat jy jou werkruimte kan opstel net waar jy wil, na die musiek van jou keuse kan luister, en selfs ʼn middagslapie inkry.

–        Jy werk slegs saam met mense van wie jy regtig hou

In jou vryskutloopbaan is jy ontslae van irriterende kollegas, ʼn baas wat jou altyd moniteer en eindelose vergaderings. Onaangename kliënte kan ontslaan word. Jy kan selfs aktief kliënte en besighede opsoek met wie jy regtig wil saamwerk.

Volhard

Om geld met vryskutwerk te verdien is uitdagend. Maar dit kan vir jou goeie winste oplewer as jy ʼn haalbare strategie daarstel en daarvolgens werk. As jy gretig en passievol is om jou vryskutloopbaan te begin, bly kalm en volstaan met jou plan. Jy sal uiteindelik jou doelwit bereik.

 

BRONNE:

Why is freelancing so hard?

Kyle Prinsloo. 13 Apr. 2021

https://www.freecodecamp.irg./news/why-is-freelancing-so-hard

What is freelancing?

Ariel Gardner. 18 Jan. 2021

https://illenialmoneymom.com/what-is-freelancing

The beginner’s guide to freelancing in 2021

Ali Luke. 13 May 2021

https://smartblogger.com/freelancing

How to start your freelancing career without prior knowledge

Ravi Sharma. 31 Oct. 2020

https://www.rswebsols.com/tutorials/misc/start-freelancing-career-with-knowledge

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog