Volgens Artikels

Deur Anja van den Berg

Met al hoe meer mense wat die Covid-19-entstowwe kies, maak baie kantore weer hul deure oop om hul werknemers toe te laat – of van hulle te vereis – om terug te kom.

Maar baie werknemers is nie gretig om terug te gaan nie en dis maklik om te sien hoekom baie mense van die huis af werk. Die gevreesde gependel is van die tafel gevee. Die nuutgevonde buigsaamheid beteken dat werknemers ʼn groter keuse het aangaande hul werktye; hulle kan hul werktyd skeduleer om ander verpligtinge te akkommodeer, soos die versorging van kinders. Vir baie verbleek die nadele van tuiswerk vergeleke met die voordele.

Uit die aard van die saak verset baie mense hulle teen die bestuurder se beroep om terug te keer kantoor toe. As jy bang is om terug te gaan kantoor toe, kan dit dalk help om daaraan  herinner te word hoe persoonlike werk jou kan bevoordeel. Hier is ʼn paar oorwegings:

Tuishoort en sosiale identiteit

Dr. Tracy Brower, outeur van The Secrets to Happiness at Work,  sê dat ʼn gevoel van gemeenskap en tuishoort vervulling bring, maar ʼn gevoel van tuishoort kom nie net van aan ʼn groep behoort nie. Dit kom uit ʼn gedeelde gevoel van sosiale identiteit. En navorsing toon dat dit waarskynliker is om ʼn gevoel van sosiale identiteit met jou span te hê as julle ʼn agtergrond deel. Browler verduidelik dat ons sedert die Eerste Industriële Revolusie toe mense uit die platteland na die stede getrek het die meeste van ons gedeelde gevoel van  doelgerigtheid met medewerkers gedeel het. In ons moderne werk soek ons steeds na konneksies en dit bevredig dikwels die meeste as ons saam met ons medewerkers in die loopgrawe staan. Om probleme saam op te los en ons talente as ʼn span saam te gooi is bronne van geluk en vervulling.

Gesondheid en welstand

Selfs introverte het die een of ander soort konneksie met andere nodig. Navorsers sê as ons nie genoeg aangesig-tot-aangesig-tyd kry nie, ondervind ons afnames in welstand, toenames in siektes, en verkorte lewensverwagtings. Tegnologie kan ons help konnekteer maar dit is nie genoeg nie omdat ons nie nieverbale aanduidings so goed kan lees as in persoon nie. Daarbenewens word ons beperk deur vertragings, tegniese foute en hoë datakoste. Om voor ʼn kamera te wees, kan ons hiperversigtig maak oor hoe ons voorkom en skep dikwels ʼn intensiteit in die werkdag. Om saam te wees in ʼn kantoor kan teg-vermoeidheid verminder en dit is kritiek vir ons fisiese en emosionele gesondheid.

Loopbaanontwikkeling en leer

Afstandwerk is hier om te bly, ten minste in ʼn sekere mate, en organisasies wat hul sout werd is, waardeer alle werknemers se bydraes – ongeag waar hulle werk. Maar, sê Brower, dis ook in die mens se natuur om aandag te gee aan wat direk voor hom is. Mense is primêr gefokus op wat hulle onmiddellik kan sien, hoor en ervaar, wat implikasies vir jou sigbaarheid en loopbaan het. Om in die kantoor te wees, gee jou ʼn geleentheid om aan jou sosiale kapitaal te bou. Dit beteken ook dat jy op die radar is en in die onlangse geheue van leiers wat daaraan dink om hul span uit te brei of sleuteltalent te bevorder.

Sosiologies is die belangrikste manier waarop mense leer deur ander mense dop te hou. Ons is altyd besig om ander mense se gedrag dop te hou en na te boots. Jou spanmaats het jou talent, jou sin vir humor en jou unieke talente nodig. Om by te dra tot die gemeenskap help jou om vervul te voel want dit herinner jou aan jou waarde en staaf al die maniere waarop die groep by jou individuele vaardighede kan baat.

 

Bronne

Forbes: https://www.forbes.com/sites/tracybrower/2021/07/11/the-real-reason-to-go-back-to-the-office-hint-its-not-for-your-employer/?sh=31efb83417ca

Harvard Business Review: https://hbr.org/2021/07/why-you-may-actually-want-to-go-back-to-the-office

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog