Volgens Artikels

Deur Anja van den Berg

Ons werkwyse – en die metodes wat ons gebruik om ons werk gedoen te kry – is besig om fundamenteel te verander. Selfs voor die globale skuif na afstandswerk as gevolg van die Covid-19-krisis het data onthul dat 30% voltydse werknemers oor naweke en vakansiedae werk.

Nou, meer as ooit tevore, is die formele grense wat werktyd van persoonlike tyd skei, besig om te verdof. Werknemers het botsende gevoelens oor watter tyd vir werk bedoel is en watter nie.

“Baie mense neem aan dat buigsaamheid ten opsigte van wanneer ons werk motivering ʼn hupstoot sal gee,” sê Laura Giurge, ʼn postdoktorale navorsingsgenoot by die London Business School. Haar navorsing fokus op tyd, geluk en die toekoms van werk.

“Om ons eie skedules te kan bepaal, behoort ons te bemagtig om ons dae só te koördineer dat ons produktiwiteit by die werk maksimaliseer, wat dit sou kon laat lyk dat mense eintlik meer gemotiveer kan wees as hulle oor naweke en vakansiedae werk.”

Giurge en haar genoot se navorsingsverslag dui daarop dat die teenoorgestelde waar kan wees. Hulle rapporteer dat “om oor naweke en vakansiedae te werk een van die belangrikste faktore ondermyn wat bepaal of mense volhard in hul werk: intrinsieke motivering.”

Hul navorsingsverslag verduidelik dat mense intrinsiek gemotiveer voel as hul deelneem aan aktiwiteite wat hulle interessant, genotvol en sinvol vind.

Die navorsingsverslag verduidelik dat, net soos baie mense aan Maandag as die begin van die week dink, mense oor die algemeen hul tyd kategoriseer as synde vir werk of plesier.

As hulle werk gedurende die tyd wat hulle as ontspantyd beskou, ervaar hulle konflik tussen hul verwagtinge en realiteit. As gevolg hiervan vind hulle hul werk minder boeiend en minder sinvol.

Die navorsers het data ontleed van ʼn nasionaal verteenwoordigende monster van 1 298 werknemers. Werknemers het aangedui of hulle oor vakansiedae of naweke gewerk het, of slegs van Maandag tot Vrydag. In hierdie datastel is intrinsieke motivering vasgevang deur stellings soos: “Die werk wat ek doen, is sinvol vir my”, en “My werk laat my al my vaardighede en vermoëns gebruik”.

Die data het bevestig dat mense wat selfs net oor sommige naweekdae gewerk het oor die algemeen minder intrinsiek gemotiveer vir werk gevoel het.

Die navorsers het vir baie potensiële veranderlikes gekontroleer, waaronder huishoudelike inkomste, opvoedingsvlak, weeklikse werkure, en algemene lewensatisfaksie. Die analise het gevind dat die verband tussen werktyd en intrinsieke motivering behoue gebly het.

Een stipulasie waarop gelet moet word, is dat intrinsieke motivering nie enigste soort motivering is wat mense inspireer om te werk nie, sê Giurge. “Mense werk as gevolg van ekstrinsieke motivering, hou daarvan om ʼn salaris te kry en ʼn gesin te onderhou, ens.”

Giurge en haar genoot het gevind dat, terwyl werk gedurende tyd af intrinsieke motivering om te werk benadeel, daar geen bewyse is dat dit mense se ekstrinsieke motivering beïnvloed nie.

ʼn Afsonderlike navorsingsverslag van Kaitlin Woolley en Ayelet Fischbach het getoon dat, sonder intrinsieke motivering, ekstrinsieke motivering dikwels nie genoeg is om mense tevrede te hou en hul beste werk te laat doen nie.

 

Bronne

Harvard Business Review: https://hbr.org/2020/07/dont-work-on-vacation-seriously

Harvard Business Review: https://hbr.org/2017/04/what-separates-goals-we-achieve-from-goals-we-dont

 

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog