Volgens Artikels

Deur Anja van den Berg

Om te bepaal hoe om werknemers te evalueer en te beloon is geen maklike taak nie. Tydens die Coronavirus-krisis word bestuurders gekonfronteer met ʼn magdom toestande wat die taak nog moeiliker maak. Waarom is dit die geval? In hulle verslag verduidelik ʼn navorsingspan by Stanford Universiteit die redes soos volg:

Eerstens, in enige krisis is mense minder geneig om toegang tot die “stadig dinkende” gedeeltes van die brein te vind en meer geneig om vinnige oordele te vel. Vinnige oordele word dikwels deur stereotipes beïnvloed en is dus gebrekkig. Tweedens, dubbelsinnigheid in hoe assesserings gedoen word, kan tot meer vooroordeel lei.

Die derde rede is die sogenaamde ideale ‘werker-norm’. Hierdie idee verwys na die (dikwels implisiete) voorkeur vir werkers wat sonder onderbrekings op werk kan fokus (soos vir gesinsverpligtinge) en wat beskikbaar is wanneer ook al die bestuurder hulle benodig.

Die volgende stappe kan bestuurders help om hulle werknemers regverdig te evalueer en beloon:

Stap 1: Definieer kriteria duidelik voordat kritieke besluite oor werknemers geneem word.

Vaagheid in die kriteria wat gebruik word, lei tot bevooroordeelde uitkomste. Leiers moet begin deur te oorweeg wat noodsaaklik is vir die rol. Van daar  af moet hulle bedryfsdefinisies beskryf en ontwikkel. Die suksesfaktore moet konkrete en meetbare terme wees. By voorbeeld, “innoverend wees” is nie meetbaar nie, maar “mense met verskillende funksies en perspektiewe in forums saambring om idees te deel en probleme op te los” is.

Stap 2: Kyk vir verskuilde voorkeure.

Volgende, kyk vir onopsetlike gevolge of verskuilde voorkeure in die kriteria. By voorbeeld, “tree na vore wanneer nodig” mag impliseer dat van die persoon verwag sal word om dag en nag te werk. “Sigbaar wees” is ʼn kriterium wat ʼn verwoestende uitwerking op mense se werk-lewebalans kan hê. ʼn Werkende ouer mag byvoorbeeld nie alle vergaderings kan bywoon nie en dus minder sigbaar wees. Nogtans kan hy of sy steeds ander betekenisvolle bydraes maak.

Stap 3: Sluit alle besluitnemers in.

Te midde van die nuwe wêreld van werk wat Covid-19 teweeggebring het, moet besluite in ʼn gedeelde konteks geneem word. Dit is nie genoeg vir maatskappybeleide om duidelik te wees oor evalueringskriteria nie. Bestuurders moet ook hulle werknemers betrek by die vasstelling van daardie kriteria. Bestuurders en spanlede moet hulle gedagtes deel om by realistiese verwagtings uit te kom. Uiteindelik moet die stel metingskriteria eksplisiet, presies en bestendig wees.

Die Coronavirus-pandemie bied die ideale geleentheid vir organisasies om deeglik na te dink oor wat hulle waarlik waardeer, veral onder die huidige omstandighede. Bestuurders moet nie net ou metingskriteria uit vorige evalueringsiklusse oordra nie. Uitsonderlike leiers bestee ook besondere aandag aan gedrag en vaardighede wat voorheen oor die hoof gesien is en in die nuwe konteks belangrik geword het.

 

Bron:

Harvard Business Review: https://hbr.org/2020/12/how-do-you-evaluate-performance-during-a-pandemic

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog