Volgens Artikels

Deur Anja van den Berg

Afstandwerk is hier om te bly, en per definisie, so ook is aanlyn onderhoude. Talle skrywers en gesaghebbendes bied wenke oor hoe kandidate tydens aanlyn onderhoude moet optree: stel vooraf die agtergrond op, moenie iemand in die rede val nie, en dra die regte klere vir die geleentheid. Wat sal jou egter werklik van die ander in die groot poel van potensiële kandidate onderskei?

Rae Ringel, ‘n leierskapsontwikkelingskonsultant, sê dat kandidate met wie ʼn onderhoud gevoer word, hierdie medium kan bemeester om sodoende oor ʼn afstand as die beste talent geïdentifiseer te word. Hier is drie maniere waarop kandidate hulself kan onderskei:

  • Fokus op emosionele intelligensie

Vaardighede en intelligensie is noodsaaklik, maar in ʼn post-Covid-19-wêreld is die wyse waarop jy jou emosionele intelligensie (EQ) uitbeeld, belangriker as ooit tevore. Jou EQ omskryf jou vermoë om met ander te skakel, konflik te navigeer en die (Zoom-) vertrek te “lees”. Wanneer ʼn virtuele onderhoud gevoer word, mag dit aanloklik wees om die EQ-aspek tersyde te stel, aangesien dit kan lyk na ʼn eienskap wat die beste in ʼn persoonlike onderhoud beoordeel kan word, sê Ringe. Die kandidate wat egter uiteindelik werksaanbiedinge ontvang, is diegene wat tussen die (virtuele) lyne kan lees, klein nuanses raaksien en tydens die onderhoud ʼn gepaste sin vir humor ten toon stel.

  • Benut die intimiteit van die skerm

Ringel sê daar is ʼn sekere intimiteit wat deur skerms bereik kan word. Tydens ʼn afstandsonderhoud is die onderhoudvoerder en die kandidaat se gesigte slegs sentimeters van mekaar af. Tog skep die skerm ʼn gevoel van sielkundige veiligheid, wat mense toelaat om meer openhartig te wees as wat hulle in ʼn persoonlike onderhoud sal wees. Jy as die kandidaat kan voordeel trek uit hierdie verskynsel. Hoewel jy ten alle tye professioneel en hoflik moet bly, kan jy meer ontspanne en outentiek wees.

  • Onthou dat jy ook ʼn onderhoud voer met die bestuurder wat die aanstellings doen

Onderhoude is veronderstel om aan albei partye waardevolle inligting te gee oor of ʼn voornemende werknemer vervuld en betrokke sal voel in die pos. Bestuurders is daarvan bewus dat hedendaagse werksoekers nie slegs op soek is na ʼn hoër salaris nie. Hulle streef na buigsaamheid, welstand en ʼn werkplekkultuur wat met hul waardes en gevoelens ooreenstem. Maak van hierdie geleentheid gebruik om goed ingelig te wees, en stel die belangrike vrae wat in jou gedagtes is. Kyk hoe die onderhoudvoerders hulself bekendstel. Moenie net na hulle kleredrag kyk nie; let ook op hulle stemtoon, stembuiging en keuse van onderhoudsvrae.

 

Bronne:

Harvard Business Review: https://hbr.org/2021/10/8-tips-for-conducting-an-excellent-remote-interview

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog