Volgens Artikels

Deur Anja van den Berg

Gedurende die vakansieseisoen kan dit soos ʼn kolossale taak lyk om selfs die geringste vordering by die werk te maak. Met die meeste mense op verlof – en weg – is dit nie maklik om gemotiveer te bly en noemenswaardige werk te doen nie.

“Om by die werk te wees kan nutteloos lyk en frustrerend wees as jy die enigste een is wat dinge aan die gang probeer hou,” sê Dorie Clark, die outeur van Entrepreneurial You, Reinventing You, en Stand Out.

Clark voeg egter by dat dit moontlik is om jouself te motiveer en jou tyd op kantoor te laat tel. Om die meeste van ʼn allesbehalwe ideale situasie te probeer maak, beveel Clark aan dat jy jou tyd balanseer tussen diep werk en minderbelangrike take. Gebruik ook elke dag tyd om jouself te beloon. Kom ons kry gou jou plan agtermekaar:

Begin met diep werk

Die geheim om buitengewone professionele sukses te behaal, is ons vermoë om te doen wat rekenaarwetenskaplike professor Carl Newport “diep werk” noem. Dit is die teenoorgestelde as “vlak werk”: die sloertake wat ons dae in beslag neem, soos die beantwoording van e-pos of in nuttelose vergaderings te sit.

Met professionele mense wat daagliks gemiddeld 122 e-posse stuur en ontvang, kan dit moeilik wees om tyd vir sinvolle take te vind, soos die ontwikkeling van jou gaan-mark-toe-strategie of die bekendstelling van ʼn nuwe podsending. Maar as die meeste van jou medewerkers en verskaffers elders op verlof is, word die getal inkomende boodskappe dramaties minder. Dit sal jou meer ruimte laat om ononderbroke blokke tyd te skeduleer vir belangrike projekte wat jy bly uitstel het maar wat jou loopbaan beduidend kan bevoordeel.

Ruim minderbelangrike take op

Volgende: minderbelangrike takies waarvoor jy nooit tyd kry nie. Spandeer een of twee ure per dag aan die afhandeling van kleiner lastighede wat deur die jaar jou produktiwiteit in die wiele gery het. “Ons het almal ʼn lys projekte wat gedoen behoort te word maar nooit die top van jou moet-doenlysie haal nie,” verduidelik Clark.

Miskien is dit die organisering van jou lessenaar sodat jy jou lêers kan kry wanneer jy hulle nodig het, in plaas daarvan om elke dag minute te mors terwyl jy deur ʼn wankelende stapel vroetel. Dit kan ook die afhandeling wees van die uitgaweverslae waarvoor die rekeningafdeling jou gevra het, of die skryf van ʼn aanbevelingsbrief vir jou vorige intern. Dit is ook nou die perfekte tyd vir die bywerking van jou professionele aanlyn profiele, soos LinkedIn, en die bywerking van jou CV met jou jongste prestasies. As jy tydelik ongemotiveer voel, sal die afhandeling van minderbelangrike take jou op die ou end ʼn gevoel van voldoening gee want jy kan ʼn klomp beuselagtige moet-doens van jou lys vee.

Laastens, beloon jouself

Beloof jouself verskillende bederfies op sekere tye of as ʼn taak afgehandel word. Maak byvoorbeeld nadat jy daardie strawwe verslag afgehandel het vir jouself koffie en sit agteroor vir tien minute. As jou werk vorder, doen dit geen kwaad om jouself bederftyd toe te laat om gedrewe te bly en op die res van jou take gefokus te bly nie.

Jou eerste keuse sou natuurlik nie gewees het om tydens die feestyd by die werk te wees nie. Maar selfs al is jy nie met vakansie nie kan jy steeds voordeel trek uit andere wat af is. Die beloning vir omsien na alles is ononderbroke tyd om sinvolle werk te doen, om spinnerakke op te ruim wat jou produktiwiteit belemmer het, en ekstra tyd om jou vir ʼn suksesvolle 2021 voor te berei.

 

Bronne

Harvard Business Review: https://hbr.org/2016/08/how-to-stay-motivated-when-everyone-else-is-on-vacation

Pertemps: https://www.pertemps.co.uk/candidates/career-advice/life-at-work/heres-how-to-stay-motivated-when-everyone-else-is-on-vacation/

Bellecommunication : https://bellecommunication.com/5-ways-to-stay-motivated-at-work-during-the-holidays/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog