Volgens Artikels

Deur Nico Strydom

Empatie is die vermoë om in die emosies van ander te deel en dit te verstaan.

Dit beteken om dinge deur iemand anders se oë te sien en jouself in sy of haar skoene te plaas. Empatie is noodsaaklik om te verstaan, te kommunikeer en om verhoudings te bou in die werkplek. Dit behels om te kan luister, oopkop te wees en medelye te kan toon. Empatie sal vir jou kollegas wys dat jy respek het vir hulle en sal hulle waardevol laat voel.

Empatie in die werkplek kan ook ʼn noodsaaklike deel van probleemoplossing wees. Wanneer jy iemand anders se probleme verstaan, is daar potensiaal om saam te werk en die probleme op te los. Empatie lei ook tot minder konflik in ʼn werkplek aangesien mense meer begrip vir mekaar het en dit kan help om gespanne situasies vinnig te ontlont.

Deur empatie met ander te hê, kan ʼn bestuurder byvoorbeeld makliker raaksien as daar iets fout is, soos iemand wat oorstuur is of deur ʼn persoonlike krisis gaan wat sy of haar werk beïnvloed. Kollegas kan ook deur empatie te hê ʼn ondersteuningsnetwerk vir mekaar wees, wat ʼn beter werkomgewing vir almal sal skep.

Dit is egter nie altyd maklik om empatie te toon nie. Dit verg harde werk aangesien dit vereis dat iemand regtig moet luister en oplettend moet wees. Dit is nie altyd maklik om te verstaan hoe iemand voel of hoekom hy op ʼn sekere manier optree nie. Dit beteken jy moet ander voor jouself stel deur te identifiseer wat hulle regtig sê, deur nie net na hulle woorde te luister nie maar ook aandag aan hul nieverbale kommunikasie te gee.

Daar is verskeie maniere om empatie in die werkplek te toon. Benader probleme uit iemand anders se oogpunt. Dit sal jou help om sy denkproses te verstaan en hoekom hy tot ʼn sekere besluit gekom het. Deur baie vrae te vra, kan jy meer uitvind oor ʼn persoon se siening en deur ander se gevoelens te erken, sal hulle meer geneë wees om hul omstandighede te deel.

Empatiese mense luister aandagtig en fokus heeltemal op die persoon voor hulle. Dit stel hulle in staat om regtig te verstaan waardeur ʼn ander persoon gaan of hoekom hy op ʼn sekere manier dink. Empatie help ons om bter besluite te neem en om kollegas en hul aksies beter te verstaan. Dit wys ook dat ons belangstel in ander mense en help ons om simpatiek te wees teenoor mense wat deur ʼn moeilike tyd gaan.

 

Bronne

Smart Business: https://www.sbnonline.com/article/the-importance-of-empathy-in-the-workplace/

Centre for Creative Leadership: https://www.ccl.org/articles/leading-effectively-articles/empathy-in-the-workplace-a-tool-for-effective-leadership/

Oxbride Academy: https://www.oxbridgeacademy.edu.za/blog/empathy-workplace-matters-think/

Indeed: https://www.indeed.com/career-advice/career-development/how-to-be-empathetic

 

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog