Volgens Artikels

Deur Wilma Bedford

Naomi Osaka, die tennissuperster wat uit die Franse Ope getree het nadat sy ʼn boete opgelê is omdat sy ʼn nuuskonferensie geboikot het, het die aandag op  geestesgesondheid gevestig wat veroorsaak word deur stres in die werksplek – in haar geval druk deur die media in die sportwêreld.  Osaka, wat ook aan depressie ly, het gekies om haar eie welstand te prioritiseer.  Sy het die kollig verplaas na persoonlike geesteswelstand en die verantwoordelikheid van werknemers  teenoor werkers se geestesgesondheid,  asook die arbitrêre standaarde wat in die werksplek heers, byvoorbeeld om ʼn been te breek is aanvaarbaar, maar om geestesongesteld te wees is onverskoonbaar.

Ongeag wat se werk jy doen, kan jou werk jou geestesgesondheid beïnvloed.

Uit ʼn meningopname wat deur Mental Health America gedoen is, het dit geblyk dat 71% van die arbeidsmag saamgestem het dat hul werksplek hul geestesgesondheid beïnvloed en dat vroue ʼn disproporsionele streslading dra. In Suid-Afrika is die prentjie ook nie rooskleurig nie, met een uit ses Suid-Afrikaners wat volgens die Suid-Afrikaanse Dwelm- en Angsgroep (SADAG) se bevinding aan angssteurnis of depressie ly of  dwelmafhanklik is. Depressie alleen veroorsaak uitputting, geheueprobleme, uitstel van take, angstigheid en maak ʼn impak op beide  produktiwiteit en menseverhoudinge.

Daar is verder bevind dat 10% (4.5 miljoen) van die Suid-Afrikaanse arbeidsmag aan depressie ly, waarvan werksonsekerheid, kunsmatige intelligensie en hoër werksverwagtinge die aanleidende faktore is. Omdat daar ʼn stigma aan depressie kleef, is werknemers nie geneë  om met hul bestuurders te praat oor moontlike oplossings of die bestuur van die toestand nie.

Gegewe dat die gemiddelde persoon in sy of haar leeftyd 90 000 uur in die werksplek sal deurbring, is dit te wagte dat die werksplek ʼn invloed op sy of haar geestesgesondheid sal hê.

Voel jy dat jou werk jou geestesgesondheid negatief beïnvloed en wat kan jy daaraan doen?

Bepaal die kern van jou probleem; sodoende kan jy ʼn strategie rondom die probleem beplan of poog om ʼn oplossing te vind. Begin deur ʼn joernaal te hou van jou gevoelens en belig die take en interaksies wat jou negatiewe emosies veroorsaak.

Evalueer jou eie gevoel ten opsigte van jou werk; verloor jy belangstelling in jou werk en het jou produktiwiteit gedaal? Sien jy daarna op om werk toe te gaan, voel jy angstig, vermy jy sosiale aktiwiteite en kommunikasie met ander, ly jou persoonlike verhoudinge met familie en vriende skade en is jou gesprek met jouself negatief? Is daar iets spesifiek in die werksplek wat hierdie gevoel veroorsaak of het jy ʼn onderliggende siektetoestand wat jou geestesgesondheid beïnvloed?

Verander jou perspektief van jou werk en jou beroep. In enige werk is daar dinge wat jou kwesbaar sal laat. Vra jouself wat jy eintlik wil hê: is dit jy of die werk wat jou terug hou?  Indien ʼn veranderde perspektief nie jou werkslewe gaan verander nie, vra jouself of jy nie in die verkeerde beroep is nie en indien wel, begin stappe om jou daaruit te kry.

ʼn Verkeerde beroepskeuse of werksplek kan jou gemoedstoestand affekteer. Jy mag voel jy mors jou lewe, onsekerheid ten opsigte van die permanensie van jou werk kan jou angstig maak, onderbesoldiging kan jou ongewaardeerd laat voel, ʼn boelie-kultuur en begunstiging van ander kan jou onwaardig laat voel, toksiese kollegas met ʼn negatiewe houding teenoor hul werk en ʼn strewe na ʼn eie doel lei tot struweling en versuur die hele werksplek vir jou. Vra jouself af of die waardes van die maatskappy waarvoor jy werk, ooreenstem met jou eie waardes.

Hoe kan jy jouself beskerm? Soek hulp, hetsy in die mediese veld of by ʼn familielid; depressie is net so ʼn geldige  realiteit soos ʼn gebreekte been. Onthou dat jou werk net ʼn segment van jou menswees is en deur jou verhouding met jou werk kort-kort weer te assesseer kan jy makliker ʼn oplossing vind vir die geestesongesteldheid wat jy ondervind. Stel duidelike grense en perke vir jouself. Skei  jou eie waarde as mens van jou werksfunksie en produktiwiteit en hoe jy deur ander geëvalueer word. Moenie  jou unieke talente uit die oog verloor nie.

Kry ondersteuning. Dit kan ʼn vriend, ʼn mentor  of ʼn terapeut wees, maar dit moet ʼn plek wees waar jy geen vrees vir negatiewe gevolge sal hê nie en waar jy onderskraag sal word. Gebruik die ondersteuningsprogramme vir werknemers indien jou maatskappy so iets voorsien.

Indien moontlik, vra ʼn onderhoud aan met jou maatskappy se afdeling vir menslikehulpbronne, bespreek jou omstandighede met hulle en stel ʼn oplossing voor. Wat benodig jy: siekteverlof, ʼn kort vakansie, flexi-werksure of werk van die huis af? Bepaal ook hoe jou behoefte die res van die span sal beïnvloed en hoe die span sal baat by jou voorstel. Indien jy jou toekoms by hierdie maatskappy sien, kan jy jou ongesteldheid, soos depressie of uitbranding, met hulle deel en vra vir siekteverlof of dat jou rol in die maatskappy verander word en meer in lyn kom met waar jy wil wees. Om oorwerk of in ʼn verkeerde rol te wees, is die twee vernaamste redes vir swak geestesgesondheid.

Op watter beskerming kan jy aanspraak maak in die werksplek? Die Wet op Arbeidsverhoudinge  beskerm die werknemer teen onbillike afdanking indien hy of sy siek of gestremd is. Indien ʼn mediese praktisyn ʼn werknemer afboek, kwalifiseer die werknemer vir siekteverlof, mits die werknemer genoegsame verlof tot sy of haar beskikking het. Die mediese praktisyn is ook onder geen verpligting om pertinent te noem wat die siekte is nie, “mediese toestand” is genoegsaam. Indien ʼn werknemer nie professionele hulp kan kry nie sal dit raadsaam wees om in ʼn eerlike gesprek met sy of haar werkgewer te tree en siekteverlof, flexi-tyd of ʼn ligter werkslading te beding.

Beskerming deur die wet is ook beperk  omdat alle geestessiektes nie as ʼn gestremdheid geklassifiseer kan word nie. Die werkgewer kan steeds die reg behou om te besluit wat is ʼn gestremdheid en wat nie en daarom sal flexi-tyd, ʼn stil werksplek, ʼn verminderde werkslading en siekteverlof ook gebaseer wees op die werkgewer se vertolking van “redelik”. Die wet kan nie aan die werkgewer voorskryf wat redelik is nie, die werkgewer kan  byvoorbeeld sê dat die maatskappy nie flexi-tyd toelaat nie. Die werkgewer kan dus besluit hoe ernstig ʼn toestand is om enige vorm van akkommodasie te regverdig, maar die wet verwag dat die werkgewer alles sal doen om die werknemer binne die raamwerk van die maatskappy te akkommodeer.

Wees bewus van watter beroepe of werksplekke hoë stresveerkragtigheid vereis en of jy die nodige uithouvermoë besit vir die werk voordat jy ʼn beroepsverandering maak. Mediese en onderwysberoepe met lae besoldiging, lang ure en min voordele is hoë-stresberoepe. Depressie en uitermatige stres kom veral voor in die nooddienste,  by publiekevervoerbestuurders, maatskaplike werkers en regslui.

Bronne:
When Your Job Harms Your Mental Health

Caron, Christina.  New York Times.   https://www.nytimes.com/2021/06/02/well/mind/job-work-mental-health.html?

What to Do When Your Job Is Hurting Your Mental Health

Robin Hoon  April 08, 2021 https://www.vault.com/blogs/workplace-issues/what-to-do-if-your-job-is-hurting-your-mental-health

Mental health in the workplace

https://www.who.int/teams/mental-health-and-substance-use/mental-health-in-the-workplace#:

How does work affect your mental health?

Oct 15th, 2018 RiseConsulting  https://www.riseconsulting.com.au/consulting-blog/how-does-work-affect-your-mental-health

Mental Health leave from Work: What the law says. Law For All

https://www.lawforall.co.za/work/mental-health-leave-south-africa/

Feeling depressed at work? This is what the law in South Africa says

News24Wire9 October 2017

https://businesstech.co.za/news/business/203648/feeling-depressed-at-work-this-is-what-the-law-in-south-africa-says/#:~:text=The%20law%20in%20South%20Africa%20s

 

 

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog