Volgens Artikels

Deur Melodie Veldhuizen

Vrydag 24 September 2020 is Bring jou maniere werk toe-dag. Hierdie dag is deur die Protokolskool van Washington in die lewe geroep om mense daaraan te herinner om hul kollegas hoflik en met respek in die werkplek te behandel.  Goeie maniere is egter elke dag noodsaaklik vir die bevordering van goeie verhoudings en om vir jou deure na nuwe geleenthede oop te maak.  Hoewel baie van hierdie dinge voor die hand liggend mag wees, is dit goed om net weer jou geheue te verfris.

  • Wees te alle tye vriendelik en hoflik. Dit beteken nie dat jy heeldag met ʼn glimlag moet loop nie, maar wees vrygewig met “asseblief” en “dankie”.  Groet altyd vriendelik en verneem na jou kollegas se welstand.
  • Bied aan om vir jou kollegas wat die kantoor met jou deel ook koffie of tee te maak of iets van die kafeteria af saam te bring.
  • Sê “verskoon my” wanneer iemand jou pad versper, as jy per ongeluk in iemand vas loop, of wanneer jy noodgedwonge ʼn gesprek moet onderbreek.
  • Vra om verskoning indien jy bewus of onbewus kortaf, ongemanierd of ongeduldig was of iemand op die een of ander manier te na gekom het.
  • Hou die deur of hysbakdeur oop indien jy eerste inloop en ʼn kollega op pad is om in- of uit te klim. Indien jy in die pad staan wanneer iemand in- of uit die hysbak wil klim. staan hoflik opsy.
  • Klop voor jy iemand anders se kantoor binnegaan.
  • Telefoonetiket: Indien jy ʼn kantoor met kollegas deel, praat sag wanneer jy op die landlyn of op jou selfoon gesels, of vra of jy later kan terugskakel wanneer jy alleen is. Indien ʼn kollega besig is met ʼn foonoproep, praat sagter sodat die persoon darem die een aan die anderkant kan hoor. Skakel jou selfoon se klank gedurende kantoorure of tydens vergaderings af en moenie kort-kort op jou foon kyk vir boodskappe nie (tensy jy ʼn belangrike boodskap verwag).
  • Indien jy met een kollega in die kantoor gesels, hou dit gedemp, veral indien nie almal belang het by wat bespreek word nie.
  • Moenie oor nietighede kla nie.
  • Weerhou ongevraagde raad. Indien iemand jou raad nodig het, sal hulle jou vra.
  • Vermy dit om na skinderpraatjies te luister of stories oor ander te versprei.
  • Weerhou negatiewe persoonlike opmerkings oor ʼn kollega se voorkoms of kleredrag.
  • Ruim alle gemeenskaplike areas op nadat jy dit gebruik het – die fotostaatkantoor, kombuis, ontspanningsarea en kleedkamers.
  • Beperk persoonlike versorging tot die privaatheid van jou huis of die kleedkamers. Grimeer, naels vyl en hare kam in die kantoor is taboe.
  • Dis ʼn frustrasie om onderbreek te word wanneer jy met ʼn dringende taak besig is, maar indien ʼn kollega dringend iets met jou moet bespreek, luister hoflik en finaliseer die situasie so gou moontlik. Of vra of julle op ʼn tyd wat vir albei geleë is die saak kan bespreek.   Probeer om nie ʼn kollega onnodig te pla nie, veral as die saak per e-pos of later persoonlik bespreek kan word.
  • Stiptelikheid: Daag betyds op vir werk, vergaderings en ander afsprake. Indien iets onvoorsiens gebeur, laat weet dat jy laat gaan wees. Indien jy in beheer is, moenie vergaderings langer laat aanhou as die geskeduleerde tydsduur nie. Handel projekte betyds af.
  • Moenie ʼn kollega (ʼn senior of ʼn spanlid) voor ander kollegas teregwys of kritiseer nie, en wees altyd taktvol. Hanteer ook konflik privaat. Bly kalm en moenie emosioneel of kwaad word nie.
  • Komplimenteer ʼn kollega wat lof verdien.
  • Waak teen (openlike) jaloesie indien ʼn kollega bevorder word of ʼn pluimpie ontvang vir goeie werk.
  • Kommunikasie: Swak kommunikasie kan tot misverstande lei. As kommunikasie mondelinge geskied, maak seker dat almal presies verstaan wat jy bedoel.  Volg op met ʼn e-pos, maar vermy ellelange e-posse wat onnodige inligting bevat en tyd verkwis. Maak seker die toon van alle skriftelike kommunikasie (e-pos) is vriendelik en die betekenis daarvan duidelik.
  • Wanneer jy vir lang tye nie op kantoor gaan wees nie, laat ʼn uit die kantoor-boodskap op jou e-pos en foon.
  • Persoonlike sake: Moenie persoonlike sake (soos jou en jou man se konflik voor werk, of jou kind wat sukkel met wiskunde) aan almal uitblaker nie. Selfs al is jy vriende met van jou kollegas, moenie die grense oorskry nie. Dis onprofessioneel om besonderhede oor jou persoonlike lewe met kollegas te deel.
  • Moenie kollegas bombardeer met versoeke vir borgskappe, donasies of kaartjieverkope vir jou kind se skoolbedrywighede nie. Baie mense het hul eie kinders wat hulle moet ondersteun en jy stel hulle in die verleentheid as hulle nie kan of wil bydra nie.
  • Tee- en etenstye: Of julle in ʼn gemeenskaplike lokaal of in die kantoor jul tee en etes geniet, neem die mense rondom jou in ag. Vermy kos met sterk geure en eet sonder irriterende geluide.
  • Bly by die huis wanneer jy siek is (veral belangrik in die tyd waarin ons onsself tans bevind).
  • Moenie parfuum of reukweerder met ʼn oorweldigende of bedwelmende reuk  op kantoor gebruik nie.
  • Trek professioneel aan volgens die maatskappy se kleredragkode.
  • Waak teen opmerkings oor jou kollegas op Facebook of Twitter. Al is die instellings privaat, kan dit dalk net hul ore bereik.
  • Respekteer jou kollegas en die maatskappy se eiendom.
  • Betoon respek en wees professioneel teenoor kollegas en kliënte, selfs teenoor diegene van wie jy nie hou nie.
  • Moenie ander se negatiewe gedrag vergeld deur hulle na te boots nie.

 

Bronne 

Days of the Year. https://www.daysoftheyear.com/days/bring-your-manners-to-work-day/?timezone_offset=nan

Forbes. https://www.forbes.com/sites/lisaquast/2014/04/07/office-etiquette-tips-to-overcome-bad-manners-at-work/#34681ee74a37

The Spruce. https://www.thespruce.com/office-etiquette-tips-1216803

Town and Country. https://www.townandcountrymag.com/society/a10276858/office-etiquette/

Workopolis.  https://careers.workopolis.com/advice/15-rules-of-good-workplace-manners/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog