Volgens Artikels

Deur Theresa Michau

Dit voel of jy net vordering maak met ’n taak dan is daar iets belangriker wat jou aandag verg. Tussen verkeer, vergaderings en voorleggings weet jy nie waar jy tyd gaan kry om al jou ander werk af te handel nie.

Baie Suid-Afrikaners is ook steeds nie voltyds terug op kantoor nie en die skeidslyn tussen jou huislewe en werklewe raak al hoe meer vaag.

Hier is ’n paar wenke wat jou sal help om elke dag by die horings te kan pak.

Weet jy waar jou kosbare tyd verlore gaan?

Behoorlike tydsbeplanning is die antwoord. Jy sal meer georganiseerd en in beheer wees, om nie eens te praat van jou produktiwiteit nie!

  • Hou ’n tyd-dagboek
  • Jy gaan nie weet hoe om tyd te spaar as jy nie weet waarop jy jou tyd bestee nie. Doen ’n tyd-oudit. Skryf neer hoeveel tyd jy daaraan spandeer om e-posse te stuur of te beantwoord.
  • Laai ’n tyd oudit-toep af, soos Rescue Time.
  • Jy kan ’n toep vir jou slimfoon ook aflaai wat die hoeveelheid tyd moniteer wat jy op sosiale media, e-posse ens bestee. Apple het reeds dié funksie op hulle fone onder instellings (Settings) en dan skermtyd (Screen time).

Dalk kan jy later werk toe ry en verkeer mis? Miskien spandeer jy gans te veel tyd op e-posse? Miskien te veel tyd op YouTube of Facebook?

  • Maak ’n te-doen-lys
  • Maak daagliks die lysie en spesifiseer ’n spertyd teen wanneer die taak afgehandel moet wees. Daag jouself uit. As jy sê jy het twee ure vir daardie navorsing oor ’n nuwe produk wat jy moet doen, probeer dit in ’n uur-en-ʼn-half afhandel.
  • Doen die dringendste of moeilikste take heel eerste in die dag. As dit eers afgehandel is, sal dit jou motiveer vir die res van die dag. Jy het ook moontlik die meeste energie vroeg in die werksdag.
  • Maak jou te-doen-lysie so eenvoudig as moontlik. As jy ’n voorlegging het om te doen, moenie bloot sê ‘Skryf voorlegging’ nie. Breek dit af in die verskillende stappe of take soos 1) Doen navorsing, 2) Skryf raamwerk, 3) Doen grafika, 4) Laat dit goedkeur.
  • Besluit teen watter tyd of datum jy die minder belangrike take gaan afhandel en maak ’n nota op jou kalender ter herinnering
  • Beplan jou maand vooruit waar moontlik. Skryf opkomende afsprake of take neer.
  • Organiseer jou lessenaar voor jy die kantoor verlaat sodat jy die volgende oggend dadelik aan die werk kan spring.
  • Delegeer take na ander
  • Fokus op een taak op ’n slag
  • Moenie ʼn klomp take gelyk probeer hanteer Navorsing toon dit is onmoontlik om meer as een taak op ’n slag noukeurig te doen.
  • Moenie e-posse of jou foon nagaan terwyl jy besig is met ’n taak nie. Dit kan wag. Die taak gaan jou net langer neem om af te handel omdat jou aandag dwaal.
  • Sit spesifieke tye opsy om e-posse na te gaan en te organiseer
  • Kenners stel voor jy doen dit slegs twee keer ’n dag want dié is die een area wat die meeste tyd roof.
  • Verander jou roetine
  • Staan ’n uur vroeër op sodat jy daardie te-doen-lys kan saamstel of gebruik die tyd om aan kreatiewe idees vir jou werk te dink. Selfs in kreatiewe beroepe moet mens tyd opsy sit hiervoor. Skrywers skryf nie net wanneer hulle geïnspireer voel nie.
  • Jy mag ‘nee’ sê

– “Het jy gou ’n paar minute?” “Kom ons gaan rook.” As jy nie tyd het nie, mag jy vriendelik maar ferm ‘nee’ sê.

  • Maak ’n ‘GEDOENLYS’
  • Merk elke afgehandelde taak af en aan die einde van die week kyk jy of jy bereik het wat jy wou.
  • Gebruik ‘dooie’ tyd

Daardie tyd in verkeer? Luister na ’n oudioboek of ’n motiveringspraatjie. Onthou egter jy moet ook jouself tyd gun om te ontspan en saam met geliefdes te spandeer. Navorsing toon onomwonde dat gelukkige, gebalanseerde werkers die produktiefste is.

Gedagte vir die dag:

“Moenie sê dat jy nie tyd het nie. Jy het presies dieselfde hoeveelheid ure in ’n dag as wat Helen Keller, Louis Pasteur, Michelangelo, Moeder Teresa, Leonardo da Vinci, Thomas Jefferson en Albert Einstein gehad het.” ― H. Jackson Brown Jr.

Bronne:

https://corporatefinanceinstitute.com/resources/careers/soft-skills/time-management-list-tips/

https://www.forbes.com/sites/johnrampton/2018/05/01/manipulate-time-with-these-powerful-20-time-management-tips/#24c767ed57ab

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog