Volgens Artikels

Deur Paul Maritz

Jy het sekerlik al van werksetiek gehoor, en jy het moontlik ’n redelike goeie idee wat dit is, maar het jy al ooit vir ’n oomblik nagedink oor jou eie werksetiek, of selfs vir ’n oomblik nagedink oor wat werksetiek werklik is, en of jy goeie werksetiek het? In hierdie artikel delf ons ’n bietjie dieper en gaan soek ons na die ware aard van goeie werksetiek.

Eerste dinge eerste: Wat beteken werksetiek? Werk is natuurlik die take wat jy verrig omdat dit van jou verwag word deur jou werkgewer of jou opleidingsinstansie soos jou skool of universiteit, en moontlik omdat jy ’n ooreenkoms het om dit te voltooi. Etiek kom van die Griekse woord “ethos” wat verwys na die manier waarop ’n mens of ’n groep hom-, haar-, of hulleself gedra. Werksetiek gaan kortom oor hoe jy jouself gedra wanneer jy by die werk is, of besig is met werk.

Wat is goeie werksetiek, en is daar ooit so iets? As jou houding teenoor werk ’n positiewe of opbouende effek op jou werk, jou kollegas, en jou besigheid of firma het, is dit heel moontlik goeie werksetiek. Die lys van kenmerke wat as goeie werksetiek beskou word is lank, maar hier is sewe van die belangrikste kenmerke:

  1. Wees betyds, of selfs ’n bietjie vroeg. Ander mense wag vir jou, of jy het ’n ooreenkoms aangegaan dat jy ’n sekere tyd met jou werk sal begin. Om daarby te hou is belangrik.
  2. Gefokusde benadering tot werk. Wanneer jy werk, dan moet jy werk. Dit help nie dat jy elke tien minute na jou foon kyk, of vinnig loer wat op Facebook aangaan nie. Sluit jouself af van dinge wat konstant jou aandag aftrek.
  3. Toegewyde benadering tot werk. Suid-Afrika is die land ter wêreld met die hoogste jeugwerkloosheid, daarom is dit belangrik vir jongmense om te besef dat ons nie maar net daar is om die stoele vol te maak nie. Gee jou beste, en werk asof dit jou eie besigheid is waarvoor jy werk.
  4. Werksetiek het baie te make met hoe jy jou kollegas hanteer, en hoe jy jouself in en om die werkplek gedra. Alles van die regte aanspreekvorme, die regte drag vir ’n werksdag of ’n vergadering, en die orde van jou lessenaar tel as professionalisme. Die woord sê dit tog self – jy is nie nou by die huis nie, jy is by die werk (al sit jy dalk nog by die huis…)
  5. Dryf om te verbeter. Goeie werksetiek behels dat jy nie maar net doen wat gedoen moet word nie, maar dat jy in jou benadering tot werk so optree dat jy jou besigheid, jou pos, of jou afdeling beter agterlaat as wat jy dit gevind het.
  6. Dryf om probleme op te los. Dit sou maklik wees om maar net hande in die lug te gooi, veral as die probleem niks met jou te doen het nie, en jy geen idee het wie die kliënt aan die ander kant van die e-pos of oproep is nie. Wees oplossingsgedrewe; probeer nog ’n bietjie!
  7. Alle ander punte kom saam in hierdie laaste kenmerk van goeie werksetiek – wees produktief. ’n Besigheid of firma het besluit om jou aan te stel en ’n kans op jou gevat. In ruil daarvoor wil hulle ’n som arbeid van jou af terug kry. Maak seker dat jy produktief is, dat jy die nodige uitsette lewer waarvoor jy aangestel is, en waar moontlik, selfs meer.

Onthou dat goeie werksetiek raakgesien word, en in ag geneem sal word wanneer dit tyd raak vir die maatskappy om bevorderings of bonusse te oorweeg. Selfs al sien niemand jou raak nie, onthou, jy sien jouself, en integriteit is die vermoë om by jou woord te hou, selfs al kyk niemand oor jou skouer nie.

So hoe lyk jou werksetiek?

Indien jy nou besef dat jy bietjie hulp benodig, en dat jou houding en gedrag by die werkplek nie heeltemal is wat dit moet wees nie, is hier ’n paar punte van praktiese advies:

  1. Moenie uitstel nie, begin dadelik. Om te sloer en tyd te mors is nooit ’n goeie idee nie, en dit word later ’n gewoonte wat jy nie kan breek nie.
  2. Lysies dien as krukke wanneer jy nie jouself vertrou om self te staan nie. Maak vir jouself lysies van dinge om te doen en hoe lank jy daaraan wil spandeer, en hou daarby!
  3. Neem slim en verantwoordelike breuke. Suiker en stysel kan jou maklik só moeg laat voel dat jy skaars jou oë kan oophou. Gaan stap ’n bietjie rond, en eet iets gesond. Wees aan jou eie kant!
  4. Sny tegnologie se draadjie af! Niks maak ons so onproduktief soos tegnologie nie. As jou horlosie konstant vibreer, stel dit so in dat boodskappe nie daarop deurkom nie. Facebook en WhatsApp behoort net oop te wees op jou rekenaar as jy betaal word om daarmee te werk.

Kry jou werksetiek vandag nog reg, en jou loopbaansukses sal volg!

 

Luister hier na ‘n podsending oor hierdie artikel:

https://soundcloud.com/user-401729332/radio-laeveld-praat-met-solidariteit-jeug-oor-goeie-werksetiek

 

Bron:

https://www.paycor.com/resource-center/7-characteristics-good-work-ethic

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog