Volgens Artikels

Deur Nico Strydom

Jaloesie kom ook in werkplek voor en ʼn jaloerse kollega kan skade aan jou reputasie en loopbaan aanrig.

Dit kan party keer baie duidelik wees dat jou kollega jaloers is op jou of dit kan minder sigbaar wees, maar daar is tekens waarop jy bedag kan wees. Die spesifieke kollega praat onophoudelik met ander en bly skielik stil wanneer jy nader kom of praat oor jou agter jou rug. Dit kan egter meer ernstig wees, soos ʼn kollega wat leuens oor jou versprei of jou saboteer.

Die belangrikste manier om ʼn jaloerse kollega te hanteer, is om seker te maak dat jy ten alle tye jou emosies beheer en nie betrokke raak by drama in die werkplek nie. Jy voel dalk dit is nodig om die spesifieke kollega aan te vat of te konfronteer maar dit kan dinge dalk net erger maak.

Indien jy voel dit is nodig om met die persoon te praat, moet jy dit beleefd en taktvol doen. Sê vir die persoon dat jy agtergekom het dat hy of sy jou anders behandel en dat jy graag wil weet hoekom. Indien dit iets is wat deur jou gedrag veroorsaak is, kan jy dit erken en om verskoning vra.

Dit is belangrik om jou eie gedrag te evalueer en te probeer identifiseer of jy dalk iets gedoen het om die jaloerse gedrag te vererger. Probeer jouself in jou kollega se skoene plaas om te probeer bepaal hoekom hy of sy ʼn sekere persepsie van jou het. Dit sal jou help om jou persoonlikheid in die werkplek te bepaal en te kyk watter veranderinge jy kan maak.

Bou verhoudings met jou kollegas. Wees professioneel, vriendelik en ondersteunend. ʼn Jaloerse kollega sal dalk poog om jou ander kollegas teen jou te draai, so dit is belangrik om goeie verhoudings te hê ten einde die effek wat dit kan hê te beperk.

Indien die jaloerse kollega se gedrag egter tot gevolg het dat jy nie jou werk kan doen nie of jou reputasie in die kantoor in gedrang probeer bring, kan dit nodig raak om rekord te hou van dinge soos e-posse, notas of oproepe. Maak inligting bymekaar oor wat presies gebeur het, wanneer dit gebeur het, waar dit gebeur het en ander kollegas wat daarvan kan getuig. Dit kan nodig wees indien die situasie onuithoudelik raak en jy jou bestuurder of departement menslike hulpbronne daarvan moet inlig.

Die belangrikste is om egter net op jou werk te fokus en dit so te doen dat jou jaloerse kollega nie ʼn voet het om op te staan nie. Bly altyd vriendelike en professioneel in die werkplek, selfs al is daar  kollegas wat nie dieselfde doen nie.

 

Bronne:

LinkedIn: https://www.linkedin.com/pulse/how-deal-jealous-coworker-nazir-arhim/

Business Today: https://www.businesstoday.in/opinion/columns/workplace-five-ways-to-handle-jealous-colleague-working-psychology/story/221680.html

Forbes: https://www.forbes.com/sites/lizryan/2018/01/09/ten-signs-your-coworkers-are-jealous-of-you/#3f345d91691e

Endthrive: https://endthrive.com/jealous-coworkers/

Millennial Boss: https://millennialboss.com/deal-competitive-coworkers-jealousy/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog