Volgens Artikels

Deur Nico Strydom

In Suid-Afrika bly kandidate gemiddeld sowat twee jaar en 10 maande in dieselfde pos voordat hulle aanbeweeg.

Wanneer mense al vir langer as drie jaar in dieselfde pos is, word dit as bogemiddeld beskou, die gemiddelde werkstermyn in ag genome.

Volgens ‘n verslag van die werwingswebwerf Career Junction wys navorsing daarop dat werknemers wat gewaardeer voel, meer verantwoordelikheid gegee word en mededingende salarisse verdien, geneig is om langer in hul posisies te bly.

Vier van die poste waarin mense gemiddeld die kortste bly (minder as twee jaar in dieselfde pos) is: onderwysassistent (een jaar en nege maande), bemarkingsassistent (een jaar en 10 maande), telebemarker (een jaar en 10 maande) en kelner/kroegman (een jaar en 11 maande).

Die vier poste waarin mense gemiddeld die langste bly (meer as drie en ‘n half jaar), is: aankoper (drie jaar en sewe maande), opsigter by oproepsentrum (drie jaar en agt maande), uitvoerende bestuurder/direkteur (vier jaar) en senior bestuurder (vier jaar en een maand).

In die algemeen dui die jongste data daarop dat werknemers in bestuurs-, professionele en verwante beroepe geneig is om langer in hul werk te bly. Werknemers in verkope en die gasvryheidsektor is geneig om vinniger na ‘n nuwe werk te beweeg.

Career Junction se data wys daarop dat ouer mense langer in een pos bly. Generasie Z (27 jaar oud en jonger) bly gemiddeld net een jaar en vier maande in ‘n pos. Dit kan volgens die verslag daaraan toegeskryf word dat hulle eers onlangs die arbeidsmark betree het.

Baby Boomers (58 tot 77 jaar oud) is geneig om gemiddeld die langste in ‘n pos te bly – sewe jaar en een maand. Generasie X (43 tot 57 jaar oud) bly gemiddeld vyf jaar in ‘n pos terwyl generasie Y (28 tot 42 jaar oud) gemiddeld twee jaar en ses maande in ‘n pos bly.

Die navorsing wys dat ouer generasies geneig is om langer in hul werksrolle te bly, terwyl jonger generasies, veral generasie Y, gereeld van werk verander in die nastrewing van nuwe loopbaangeleenthede. Generasie Y, wat tans die grootste deel van die Suid-Afrikaanse arbeidsmag uitmaak, is meer geneig om van een geleentheid na die volgende te beweeg as hulle nie bemagtig voel om die vlakke van loopbaansukses te bereik wat hulle by hul huidige organisasie najaag nie.

Van die ander poste waarin mense gemiddeld nie te lank bly nie, sluit in oproepsentrum-operateur (twee jaar en een maand), joernalis/kopieredakteur (twee jaar en drie maande), meganiese ingenieur (twee jaar en drie maande), kommunikasie-/skakelbeampte (twee jaar en vier maande) en persoonlike assistent (twee jaar en nege maande).

Van die ander poste waarin mense gemiddeld langer bly, sluit in IT-projekbestuurder (drie jaar), eise-assessor (drie jaar en een maand) en elektrisiën (drie jaar en drie maande).

 

Bron:

Career Junction: https://www.careerjunction.co.za/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog