Volgens Artikels

Deur Nico Strydom

Millenniërs is diegene wat behoort tot die demografiese generasie (Generasie Y), d.w.s. mense wat van 1981 tot 1996 gebore is.

Dié generasie word dikwels as lui, selfbehep en eiegeregtig gebrandmerk. Millenniërs het grootgeword in ʼn wêreld van tegnologie en dit word ook dikwels voorgehou as ʼn rede vir hul soeke na onmiddellike bevrediging.

Tegnologie het ook tot gevolg dat millenniërs die werplek anders betree as hul voorgangers. Danksy tegnologie kan daar met ʼn paar muisklikke toegang gekry word tot ʼn magdom werkgeleenthede, ʼn CV kan gestuur word, ʼn onderhoud kan aanlyn gevoer word en werk kan ook makliker as ooit tevore aanlyn gedoen word.

Millenniërs maak nou meer as 50% van die werkmag uit en die groep het dus ʼn groot invloed op onder meer werkplekkultuur. Die generasie het onder meer ʼn behoefte aan meer buigsaamheid in hul werk ten einde hul lewens te kan struktureer soos dit hulle pas. ʼn Gesonde werk-lewe-balans is dus ook baie belangrik. Volgens navorsing het meer as 50% van millenniërs reeds kinders en wil hulle genoeg tyd tot hul beskikking hê om dit saam met familie en vriende deur te bring.

Dié generasie is ook dikwels gekant teen die tradisionele konsep van kantoorwerk. Hulle wil ook afstandswerk kan doen en buigsaamheid hê. Vir die generasie is hul werk deel van hul lewe en om dié rede is balans en buigsaamheid vir hulle so belangrik. Persoonlike welstand is hoog op die generasie se prioriteitslys en millenniërs baie sal maklik ander werk soek en van werk verander indien hulle meen hul welstand word nie in ag geneem of bevorder by hul huidige werkgewer nie.

Navorsing het bevind dat millenniërs waarde heg aan werkplekke waar daar samewerking is en wat prestasiegerig is. Hulle hou ook omgewings waar hulle kreatief kan wees. Dit moet ʼn positiewe omgewing wees waar daar ook tyd is vir pret en waar daar deurlopend terugvoer gegee word. Millenniërs wil ook graag voel dat hulle die geleentheid het om te ontwikkel, dat hulle invloed het en ʼn waardevolle bydra lewer.

Daar is ook bevind dat die generasie deursigtigheid soek wanneer dit kom by vergoeding, belonings en loopbaanbesluite. Millenniërs wil ook voel dat hulle hul eie baas is deur verantwoordelikheid te neem, self hul werktevredenheid te bepaal en te weet hul ontwikkeling word bepaal deur dït wat hul elke dag doen en bydra.

 

Bronne

Forbes: https://www.forbes.com/sites/ellevate/2020/07/23/millennials-want-a-healthy-work-life-balance-heres-what-bosses-can-do/?sh=5cdf2a4d7614

Gallup: https://www.gallup.com/workplace/324218/millennials-finally-workplace.aspx

Digital Pulse PwC: https://www.digitalpulse.pwc.com.au/millennials-five-generations-workplace/

21st Century: https://www.21century.co.za/a-millennials-view-of-the-working-world/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog