Volgens Artikels

By Anja van den Berg

Die Covid-19-pandemie het miljoene sonder ʼn verdienste gelaat. Indien jy een van diegene is wat weens die Koronavirus hulle werk verloor het en op soek is na werk, doen die volgende om te verseker dat jy bo die res uitstaan.

Bemagtig jouself vir die realiteit van afstand-onderhoude

Vir die voorsienbare toekoms sal baie werkonderhoude aanlyn geskied. Afstand-onderhoudvoering is ʼn splinternuwe konsep, en jy sal vertroud moet raak met al die eienskappe van die afstand-onderhoud. Jy sal ook moet poog om ʼn emosionele konneksie met die onderhoudvoerder te skep, iets wat nie so maklik is om digitaal eerder as in persoon te doen nie.

“Die virtuele aanbieding is die grootste verandering, en baie mense is nie gemaklik daarmee nie – details soos hoe om die kamera te posisioneer, hoe om met die kamera te praat,” sê loopbaan-afrigter Marianne Grady.

Doen ʼn toetslopie op jou skerm om na te gaan hoe jy sal oorkom. Let ook op jou agtergrond! Lees ʼn paar tuisontwerp-blogs of -tydskrifte en leer hoe om voorwerpe op so ʼn wyse te plaas dat hulle jou agtergrond komplementeer. ʼn Goeie riglyn is om ʼn skoon, rommelvrye toneel te kies en virtuele agtergronde te vermy. Trek ook professioneel aan in geval jy moet opstaan!

Knik en glimlag as ʼn teken dat jy betrokke is en probeer om nie vullers soos ‘um’ te gebruik om te bevestig dat jy aandag skenk nie.

Laastens, praat stadiger. Alhoewel dit ongewoon mag voel, sal om stadiger te praat dit vir jou luisteraar makliker maak om die gesprek te volg.

Kikker jou LinkedIn-profiel op

Of jy van LinkedIn hou al dan nie, dit gee dikwels aan ʼn werkgewer of aansteller ʼn eerste indruk van jou. Maak seker jy sluit onlangse, relevante, meetbare prestasies in jou opsomming in om bo die skare uit te staan. Voeg projekte en metings by jou ondervinding-afdeling. Vul jou vaardighede-afdeling aan en sluit skakels na persoonlike projekte in.

Vestig jouself ook as ʼn denke-leier. Deel artikels waarin jy aangehaal is of skakels na konferensies wat jy toegespreek het om jou as ʼn denke-leier in jou industrie ten toon te stel.

Gaan 360 met jou aanbevelings. Sluit onderskrywings in van nie net jou bestuurder nie maar ook van voormalige kollegas, verskaffers en sakevennote. Deur die perspektief van die verwysings te verbreed word die verskillende kante van jou as ʼn werkende beroepspersoon aangedui.

Berei jou CV voor vir die bots

Om vir ʼn werk oorweeg te word, moet jou CV deur die inisiële skerm kom: die bots.

Arran James Stewart, medestigter van ʼn werwingsplatform, sê dat die meeste toonaangewende werkborde  applikant-volgstelsels gebruik wat deur kunsmatige intelligensie gedryf word om potensiële kandidate te kortlys. Om te verstaan hoe hierdie stelsels werk, is net so belangrik as om te verstaan waarna werkgewers in ʼn voornemende aanstelling soek.

“Die masjiene wat  CV’s ‘lees’, teiken sleutelwoorde relevant tot die pos wat gevul moet word,” verduidelik Stewart. “Vir die beste kans om vorentoe te beweeg en jou CV voor ʼn werklike mens te laat beland, gebruik woorde uit die posbeskrywing in jou CV – natuurlik sonder om dit ʼn afskrif van die posvereistes te maak.”

Dit is noodsaaklik om jou CV by die werk aan te pas, op die laaste tien jaar van jou loopbaan te fokus en nie enige foto’s in te sluit nie (tensy die werkgewer dit eksplisiet versoek).

 

Bronne:

Enterprise Project: https://enterprisersproject.com/article/2020/8/how-get-job-during-covid-19-9-tips

East Coast Radio: https://www.ecr.co.za/lifestyle/family/unemployed-how-increase-your-chances-securing-job/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog