Deur Anja van den Berg

Het jy al opgelet dat jou span die afgelope tyd baie kortgebakerd is? Miskien het jy raakgesien dat vriende en kollegas onverwagte lewensveranderings maak. Jy mag self die afgelope paar maande voos en sonder fokus voel.

Hierdie gedrag is reaksies op die oorweldigende omstandighede waarmee mense die afgelope drie jaar gekonfronteer word, sê Robin Abrahams en Boris Groysberg, akademici by Harvard Business School.

Dié navorsingsduo verduidelik dat byna almal iemand of iets verloor het – “ʼn werk, ʼn verhouding, hulle gemoedsrus”. Die nood mag gekwyn het, maar mense ervaar steeds ʼn sielkundige krisis.

Abrahams en Boris bied advies vir leiers om hulle spanne te help om dinge te hanteer en nie enige bykomende angs te veroorsaak bo en behalwe wat werknemers alreeds mee te kampe het nie.

  • Wys hulle dis in orde om menslik te wees.

ʼn Leier gee die pas aan oor wat gepaste gedrag in hulle span is. Skep ʼn ruimte waar dit in orde is om menslike onvolmaaktheid te wys, vir hulp te vra en ʼn blaaskans te neem. Wees ʼn rolmodel vir inklusiwiteit, sielkundige veiligheid en emosionele eerlikheid. Moedig jou span aan om na hulle geestelike welstand en fisiese gesondheid om te sien.

  • Wys hulle dis in orde om te sê: ‘Ek weet nie’.

Verandering mag die enige onveranderlike wees, maar die afgelope drie jaar het die wêreld in ʼn chaotiese onbekende wentelbaan geplaas. Nuwe inligting rol voortdurend in, en omstandighede speel gereeld wipplank. Die bombardering van stres, trauma en uitputting belemmer mense se geestelike skerpte. Wys hulle dis in orde om te sê ‘Ek weet nie’ deur ook te erken dat jy nie seker is oor ʼn spesifieke uitkoms nie. Erken botsende impulse en waardes, en wys hulle dis aanvaarbaar om van gedagte te verander wanneer nuwe inligting na vore kom.

  • Hersien beleide en prosesse wat dalk tot stres mag bydra.

Hersien die maatskappy se beleide en informele prosesse om te verseker dat hulle nie onnodige stres op jou span laai nie. Moet jy regtig elke oggend van die week om 08:00 ʼn vergadering hou? Kan verslae elke tweede maand, of selfs kwartaalliks ingehandig word in plaas van elke maand? So ver as moontlik, minimaliseer stressors in jou eie en jou werknemers se lewens.

Maak seker jou span verstaan dat jy hulle privaat tyd verstaan en respekteer. Vind uit watter nie-werk aktiwiteite en identiteite vir jou span saak maak en moedig hulle aan om aan hierdie belangstellings deel te neem. Ideaalgesproke kan jy hulle ook help om hulle uitsette met hulle persoonlike belangstellings te belyn of hulle werk aan hulle nie-werkverwante doelwitte te verbind. Voorbeelde sluit in ʼn buigbare skedule vir onderhoude, geleenthede vir voortgesette opleiding of reis, en kinderversorgingsdienste by die werk.

 

Bron:

Harvard Business Review: https://hbr.org/2022/03/leading-an-exhausted-workforce?registration=success

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog