Volgens Artikels

Deur Anja van den Berg

Almal waardeer ʼn opregte kompliment en om erkenning vir ʼn prestasie te kry. Om komplimente te gee en ontvang, speel ʼn belangrike rol in die vorming van werkplekverhoudings.

En tog toon navorsing dat die meeste mense angstig en ongemaklik voel oor die uitruil van komplimente.

“Hierdie oënskynlik positiewe interaksies kan vir sowel die komplimenteerder as die ontvanger verbasend bedrieglik wees om te hanteer,” sê Christopher Littlefield, ʼn internasionale spreker wat in werknemerwaardering spesialiseer.

Mense bekommer hulle daaroor om as valse vleiers of kruipers gesien te word – of dat hul kompliment verkeerdelik as seksuele belangstelling of flirtasie beskou sal word.

Aan die ontvangkant voel mense dat hulle dit nie verdien nie, bevraagteken die komplimenteerder se bedoelings, of is bekommerd dat hulle in die toekoms nie dieselfde resultaat sal kan lewer nie.

“Om te weet hoe om andere te komplimenteer en erkenning te gee, is ʼn fundamentele leierskapvaardigheid,” voeg Littlefield by. Baie min van ons weet egter hoe om dit effektief te doen.”

Oor die afgelope dekade het Littlefield met duisende mense onderhoude gevoer en hulle waargeneem om te verstaan wat ʼn sterk kompliment is. Hier is sy aanbevelings om die vaardigheid te bemeester:

  1. Wees opreg

ʼn Praktiese reël vir komplimente by die werk: moenie iemand prys omdat jy voel jy moet nie. Komplimenteer hulle omdat jy verplig voel om hulle te laat weet dat hulle ʼn indruk op jou en andere maak. Verreweg die belangrikste is dat jy opreg moet wees. As jou bedoeling nie opreg is nie is jou kompliment ook nie. As jy vals is in jou erkenning kan mense dink dat jy ook op ander gebiede vals is. Moenie lof toeswaai om hulle sag te maak om jou met iets te help of om die skok te versag voordat jy moeilike terugvoer gee nie.

  1. Wees spesifiek

Gee besonderhede en voorbeelde om die persoon die konteks van jou kompliment te help verstaan. Vae lofprysinge klink geforseerd en laat vrae by die ontvanger. Die volgende is ʼn voorbeeld van ʼn onduidelike kompliment:

Dankie dat jy notas by die vergadering geneem het!

Hierdie soort opmerking laat die ontvanger met die volgende interne dialoog: Dis my werk. Hoekom bedank sy my uit die bloute?

Littlefield beveel aan dat die vae kompliment deur die volgende vervang word:

“Jan, ek weet dis jou werk om notas by die vergadering te neem maar omdat jy dit so goed doen, weet ek dat ek kan ontspan en fokus op my werk. Baie dankie.”

  1. Fokus op die proses, nie die resultaat nie

Littlefield sê mense wil selde vir die resultate erkenning hê. Hulle wil jou erkenning hê vir die moeite wat aan die resultaat bestee is. Komplimente wat net fokus op die resultaat kan kommer by die ontvanger laat onstaan. Wat as hy in die toekoms nie dieselfde resultaat kan lewer nie? Wanneer jy erkenning vir die prestasie gee, wys dat jy die tyd, opoffering, kreatiwiteit en sorg wat aan die werk bestee is, waardeer.

ʼn Kompliment gaan dikwels meer oor die komplimenteerder as die ontvanger. Wanneer jy iemand komplimenteer, erken jy die impak wat hulle aksies op jou gehad het. As jy ʼn sterk kompliment wil gee, gee die persoon insig in hoe hulle harde werk ʼn positiewe resultaat verder af in die lyn gelewer het. Oorweeg dit om te deel hoe hulle leierskap die span beïnvloed het, die maatskappy se resultate geraak het, of hoeu hulle houding die spanomgewing aangehelp het.

 

Bronne

Harvard Business Review: https://hbr.org/2019/10/how-to-give-and-receive-compliments-at-work

Entrepreneur South Africa: https://www.entrepreneur.com/article/234668

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog