Volgens Artikels

Deur Essie Bester

Die verhouding wat jy met jou toesighouer of baas het, is die belangrikste verhouding in die werkplek. ‘n Negatiewe verhouding kan byna elke aspek van jou werklewe negatief beïnvloed.

Het jy so ’n baas? Jou eerste instink kan wees om te bedank, maar kenners reken die beste en mees produktiewe opsie is bloot om ‘n moeilike toesighouer te leer hanteer.

Die voordele wat daaruit sal spruit, sluit in minder werkverwante stres, ’n kleiner kans op siekte, hoër werkstevredenheid, beter verhoudings binne die werkplek asook verhoogde werksproduktiwiteit en groter potensiaal tot vordering.

Wenke wat jou kan help om te bepaal hoe jy ‘n veeleisende baas moet hanteer sluit in:

  • Bepaal sy motiverings en toon empatie

Probeer om beter te begryp waarom jou toesighouer op ’n sekere manier optree deur jouself in sy skoene te plaas. Daar is baie faktore wat ‘n invloed op sy gedrag kan hê (waarvan werksdruk maar een kan wees).

‘n Beter begrip van sy optrede kan jou help om dinge vanuit sy perspektief te sien en moontlikhede skep vir besprekings wat handel oor julle moeilike verhouding en hoe dit jou werklewe beïnvloed.

Belangriker nog, dit kan jou help om hierdie uitdagende situasie beter te aanvaar en die hoof te bied, aangesien jy sal verstaan dat jy nie die probleem is nie.

  • Neem verantwoordelikheid wanneer nodig

Soms kan ‘n verhouding met ‘n leier in ’n werkplek uitdagend wees as gevolg van beide individue se gedrag. Beoordeel jou rol in die verhouding en neem verantwoordelikheid vir enige bydrae tot die uitdagende aard van die verhouding. Dis nodig dat jy dit weet as jy die negatiwiteit aanhelp sodat jy daaraan kan werk om jou eie gedrag te verbeter.

  • Kies jou woorde noukeurig

Alhoewel dit belangrik is om eerlik en oop te wees, is dit ook belangrik om taktvol te wees en jou woorde goed te kies wanneer jy met ‘n moeilike toesighouer te doen het. Om die verkeerde ding op die verkeerde tyd te sê, oneerbiedig te wees of as oneerbiedig ervaar te word, sal die spanning tussen julle waarskynlik net verhoog.

Verseker dat jy op ‘n professionele en effektiewe manier met jou baas praat deur te sorg dat jy in julle gesprekke resultaatgerig bly. Dit beteken dat jy nie fokus op sy persoonlikheid of die probleme in julle verhouding nie, maar op werk of ander onderwerpe wat jou sal help om jou einddoel te bereik.

  • Moenie jou baas met kollegas bespreek nie

Om met iemand oor jou moeilike verhouding met jou baas te praat, kan ‘n belangrike deel van jou selfsorg wees. Dis kan ook ’n manier wees om van jou frustrasie ontslae te raak.

Dit is egter belangrik dat jy nie hierdie soort gesprekke met ander kollegas voer nie want dit kan negatiwiteit in die werkplek verder aanmoedig. Probeer eerder om met ‘n betroubare vriend of familielid wie se mening jy respekteer te praat.

  • Wees voorbereid op verwagtinge

Neem die tyd om vertroud te raak met jou baas se gewoontes, eise en verwagtinge. Sodoende kan jy sy versoeke verwag en só die verhoging van enige spanning in julle verhouding vermy.

Deur aan jou baas te wys dat hy nie nodig het om jou te mikrobestuur nie, kan dalk net daartoe lei dat hy jou meer vryheid bied. Heel moontlik hoef jy dan minder dikwels by hom aan te meld.

Moenie wag tot hy jou vra vir inligting wat jy weet hy op ’n spesifieke tyd wil hê nie – stuur dit so vroeg en so gedetailleerd as moontlik aan hom. Dit wys dat jy sy versoeke respekteer en jou werk ernstig opneem.

  • Beoefen jou leierskapsvaardighede

Gebruik jou moeilike situasie as ‘n geleentheid om jou leierskapsvaardighede te beoefen. Neem die inisiatief en neem waar moontlik besluite wat jy weet tot positiewe resultate vir die organisasie sal lei.

Jou kollegas mag dalk deur jou inisiatief beïnvloed word en jou stappe begin volg om resultate te behaal. Op dié wyse kan ‘n negatiewe omgewing in ‘n positiewe en proaktiewe omgewing verander word.

  • Bestudeer sy kommunikasiestyl

Neem die tyd om jou bestuurder se voorkeur kommunikasiestyl te bepaal. Dit kan help om meer effektiewe kommunikasie binne die werkplek te bevorder. As jou baas byvoorbeeld verkies om hoofsaaklik per e-pos te kommunikeer, moet jy dit jou gewoonte maak om eers ‘n e-pos aan hom te stuur voordat jy hom persoonlik met ‘n werkverwante saak konfronteer. Hoe beter jy verstaan ​​hoe jy met jou bestuurder moet kommunikeer, hoe groter is die kans dat julle verhouding sal verbeter.

Bronne:

https://www.indeed.com/career-advice/career-development/how-to-deal-with-a-difficult-boss

https://daknetwerk.com/nuus/hoe-om-beter-met-jou-baas-oor-die-weg-te-kom/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog