Volgens Artikels

Deur dr. Eugene Brink

Die vakansie is amper op ons en terwyl baie uitsien na ʼn welverdiende verposing na byna twee jaar van Covid-19-beperkings, gaan baie ongereelde ure werk om ons veilig te hou of eenvoudig hul organisasies aan die gang te hou.

Nagskof is dus ʼn werklikheid vir baie werkers in Suid-Afrika en wêreldwyd. Volgens die Sleep Foundation se dr. Abhinav Singh en Danielle Pacheco kan alle werkskedules wat êrens buite die 0700–1800-tydperk van die dag val, as skofwerk beskou word. Beroepe wat aan skofwerk onderworpe is, sluit onder andere die volgende in:

  • voedselbereiers en -bedieners
  • haarkappers, fiksheidafrigters en ander persoonlikesorgdeskundiges
  • verkoop- en kleinhandelpersoneel
  • polisieamptenare, brandbestryders en ander reaksiepersoneel
  • dokters, verpleegsters en ander mediese personeel
  • vervoer-, pakhuis- en vervaardigingsaanlegwerkers

Die tol op jou gesondheid

“Skofwerk en lang werkure word verbind met ʼn aantal gesondheidskwessies, volgens die Nasionale Slaapstigting. Dit sluit in ʼn vergrote risiko van metaboliese probleme, hartsiektes, gastroïntestinale probleme, obesiteit en sekere kankers,” skryf Hannah Nichols vir MedicalNewsToday.

“Nagskofwerk kan ook inmeng met die liggaam se vermoë om DNS-skade te herstel wat uit normale selprosesse voorkom. Die onderdrukking van melatonien – die hormoon wat vir die regulering van die interne liggaamsklok verantwoordelik is – kan ʼn rol speel.

Heers oor die nag(skof)

Hoewel jou skofwerk en die nadele daarvan dalk nie oornag sal weggaan nie, is daar maniere om hierdie las te verlig.

Die St Augustine Universiteit se departement gesondheidswetenskappe raai aan dat mens moet probeer om nagskofte saam te groepeer. “Dit help om jou nagskofte saam te groepeer en by ʼn nagskofslaapskedule te hou, selfs op jou afdae. Op daardie wyse kan jou liggaam aan een skedule gewoond raak en is dan nie altyd in ʼn aanpasmodus nie. Een studie het gevind dat verpleegsters wat roterende skofte gewerk het – ʼn groep nagskofte gevolg deur dagskofte – minder werktevredenheid, verminderde gehalte en hoeveelheid slaap en meer dikwelse moegheid aangemeld het. Hulle het ook ʼn groter risiko geloop om sielkundige en kardiovaskulêre simptome te ontwikkel.”

Hulle erken dat dit nie vir almal prakties is nie. “As jy na ʼn meer normale skedule wil terugkeer na jou laaste nagskof van die week, probeer om in die oggend te gaan slaap – maar staan vroeg in die middag op en bly aktief tot ʼn meer normale slaaptyd. Neem gedurende die volgende paar dae kragslapies. Bly dan op jou laaste vry aand so laat as moontlik op, slaap in en neem dan ʼn lang slapie voor jou eerste skof.”

Singh en Pacheco beveel aan dat jy moet seker maak dat jou lewensmaat, kinders, kamermaats en almal wat nog jou blyplek deel weet van die belangrikheid van jou aangewese slaaptyd. “Hulle moet jou nie wakker maak nie tensy daar regtig ʼn noodtoestand is. Lig en geraas kan ook kwessies wees as daar bedags geslaap word. Probeer die blindings toemaak of met ʼn oogmasker te slaap as jou slaapkamer geneig is om te lig te wees bedags. Oorpluisies en witruismasjiene kan effektief wees om klank van buite te blokkeer.”

Nichols waarsku ook teen aktiwiteite en stowwe wat jou wakker laat voel voor slaaptyd. Vermy byvoorbeeld rook en alkohol voordat jy gaan slaap. Jy moet doelbewus slaap en nie sloer daarmee as jy nagskof werk nie. Dit sal keer dat jy aan die slaap raak wanneer jy moet werk.

Probeer jou koffie-inname beperk terwyl jy by die werk is Dit kan ʼn nodige hupstoot gee, maar slegs matig (ʼn koppie koffie elke twee ure is genoeg). Waterinname is net so belangrik om gehidreer te bly. Probeer om jou bloedsomloop aan die gang te kry deur te loop of te strek. ʼn 20-minute-kragslapie, indien dit moontlik is, kan ook help.

 

Bronne

Abhinav Singh and Danielle Pacheco, 9 Oktober 2020, “Tips for Shift Workers”, https://www.sleepfoundation.org/shift-work-disorder/tips.

Hannah Nichols, 30 Oktober 2017, “Life hacks: How to cope with night shifts”, https://www.medicalnewstoday.com/articles/319918.

University of St Augustine, Julie 2020, “How to Work the Night Shift and Stay Healthy: 12 Tips”, https://www.usa.edu/blog/how-to-work-night-shift-and-stay-healthy/.

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog