Volgens Artikels

Deur Nico Strydom

Persoonlike probleme kan ʼn groot invloed op werknemers se prestasie by die werk hê en ook uiteindelik op hul loopbane.

Persoonlike probleme is deel van ons alledaagse bestaan, hetsy dit familieprobleme, geldelike probleme, lewensveranderende situasies of emosionele uitdagings is. Ons spandeer die meeste van ons tyd by die werk en dus kan ons persoonlike probleme maklik na die werkplek oorspoel.

Dit is nie noodwendig ʼn krisis as jou persoonlike probleme soms jou werk beïnvloed nie. Die meeste maatskappye het begrip vir werknemers se omstandighede en sal moontlik probeer om hul werknemers in die verband by te staan.

Dit raak egter ʼn probleem wanneer jou persoonlike probleme jou verhoed om jou werk behoorlik te doen of jou prestasies by die werkplek oorskadu.

Indien ʼn persoonlike probleem jou vermoë beïnvloed om jou werk te doen, is dit noodsaaklik om oop kaarte met jou bestuurder te speel. Dit sal verseker dat daar begrip is vir jou situasie en ook dat jy die nodige ondersteuning kry.

Dit is egter ook belangrik om nie alle besonderhede rondom jou persoonlike lewe met almal by die werk te deel nie. Indien jy te veel van jou probleme met mense by die werk deel, kan dit tot gevolg hê dat hulle jou vermoëns in twyfel trek en sekere persepsies oor jou vorm. Indien dit ook blyk dat jy altyd die een of ander persoonlike probleem het, kan dit tot wrywing en frustrasie in die werkplek lei.

Persoonlike probleme sal dikwels ook jou emosies beïnvloed, wat tot gevolg kan hê dat jy gereeld in trane by die werk uitbars of vinnig opgewen raak en op jou kollegas skree. Dit is egter baie belangrik om te alle tye professioneel by die werk op te tree. Emosionele uitbarstings kan tot gevolg hê dat jy anders hanteer en uitgesluit word in die werkplek. In ernstige gevalle kan dit ook daartoe lei dat jy dissiplinêr verhoor word en jou werk kan verloor.

ʼn Manier om jou persoonlike probleme uit die werkplek te hou, is om vir jou grense te stel deur byvoorbeeld nie persoonlike oproepe gedurende werktyd te neem of die heeltyd aandag aan persoonlike kwessies te gee nie. Jy moet ook jou kop regkry deur vir jou die uitdaging te stel om net op werk te konsentreer wanneer jy by die werk is. Wanneer jy hard aan die werk is, sal daar minder tyd wees om oor jou persoonlike probleme te tob. Maak seker dat jy genoeg ondersteuning in die werkplek het om jou persoonlike probleme te hanteer.

 

Bronne

The Balance Careers: https://www.thebalancecareers.com/how-to-deal-with-personal-issues-at-work-526107

Lifehack: https://www.lifehack.org/articles/productivity/why-bringing-your-baggage-work-hurts-you-2.html

The Nest: https://woman.thenest.com/workplace-anxiety-8934.html

Forbes: https://www.forbes.com/sites/rachelritlop/2016/11/15/how-millennials-can-stop-personal-issues-from-affecting-their-work/?sh=1d4b2dcc2ea9

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog