Volgens Artikels

Deur dr. Eugene Brink

Covid-19 het vir seker die werk-van-die-huis-af-tendens ʼn hupstoot gegee en dit sal beslis voortduur.

Kantore sal egter nie heeltemal verdwyn nie en sal waarskynlik ontwikkel in die een of ander soort hibriede model (ofskoon oorgedoen) wat kantoor en huis saamvat. Kom ons kyk na wat kantoorwerkers kan verwag versover dit ontwerpe en mate betref wat hulle waarskynlik in die toekoms sal omhul – om hulle teen die virus te beskerm terwyl optimale produktiwiteit verseker word.

  1. Herontwerp

Die bestuurskonsultasiediens McKinsey sê tradisioneel is min kantore ontwerp om spesifieke organisatoriese prioriteite te ondersteun. Dit moet dus in die na-Covid-era heeltemal herbedink word en sekere pertinente vrae moet gevra word.

“Organisasies kan werkplekke skep wat spesifiek ontwerp is vir die ondersteuning van die soort interaksies wat nie oor ʼn afstand kan plaasvind nie,” volgens McKinsey. “Byvoorbeeld, as die hoofdoel van ʼn organisasie se ruimte is om spesifieke momente van samewerking te akkommodeer eerder as individuele werk, moet 80% van die kantoor dan uit samewerkingskantore bestaan? Moet organisasies dan alle werknemers wat in afskortings werk en selde gevra word om groepvergaderings by te woon, vra om van die huis af te werk? As kantoorruimte slegs nodig is vir diegene wat dit nie kan doen nie, is werkruimtes na aan waar werknemers bly ʼn beter oplossing?”

  1. Verseker sosiale afstand

Besighede wat in die verlede oop strukture gebruik het, kan in die toekoms groter tafels gebruik om baie werkers te akkommodeer – veral diegene wat nie die hele dag op kantoor is nie, sê die kantoorontwerpfirma Vicus Partners. Stoele sal steeds rondom die tafel gesprei moet word om ʼn groterige werkafstand te verseker. “ʼn Tafel wat byvoorbeeld agt persone kon huisves, moet nou dalk net drie huisves. Maar die ander vyf kan dalk op daardie dae van die huis af werk. Hierbenewens kan besighede ‘werkstasieafskortings’ soos deursigtige plastiek- of glasafskermpanele byvoeg wat werknemers kan beskerm maar hulle tog toelaat om mekaar te sien en te wisselwerk.”

Clayton Whitman, ʼn joernalis by Work Design Magazine, skryf dat ten einde by laer besetting aan te pas, kantoorontwerp gebruik moet maak van wat hy nutsruimtes (touhdown spaces) noem. Hierdie ruimtes sal soortgelyk wees aan privaat telefoonkamers, maar sal effens groter wees om een of twee mense te akkommodeer. Nutsruimtes in kantore sal begin lyk soos meubelvertoonlokale: volledig funksioneel maar dit behoort nie aan een persoon nie.

“Eerder as om ʼn lessenaar te hê wat net 50% van die tyd gebruik word, sal nutskamers mense toelaat om kantoor toe te kom op die dae wat hulle wil en dan ʼn plek te hê om te werk sonder om die ruimte van ʼn persoonlike lessenaar in beslag te neem.”

  1. Die meubels en toestelle van die toekoms

Dit is veilig om te aanvaar dat die pandemie nie gou sal oorwaai nie, en meubels – synde die voorwerpe wat ons die meeste in ons werkruimte gebruik – moet by hierdie werklikheid aangepas wees. Algemene praktiese aspekte moet ook in gedagte gehou word. Liggewig-, kinetiese en aanpasbare meubels wat maklik geskuif, hergroepeer en gesaniteer kan word sal help om te verseker dat jou werknemers veilig is en jou die aanpasbaarheid bied om jou vloerplanne te verander wanneer dit nodig is. Hierbenewens is miroveselbanke en –stoele maklik om skoon te maak as daar gestort word,” sê Vicus Partners

Whitman sê daar gaan ook toenemend van antimikrobiese oppervlakke in werkplekontwerp gebruik gemaak word, maar “dit beteken nie dat alle kantore volgemaak gaan word met natuurlik antimikrobiese metale soos silwer nie”. Houtsoorte en natuurlike klip is ook geskikte keuses vir antimikrobiese doeleindes.

 

Bronne

Clayton Whitman, 2021, “A Look Into The Workplace Post-COVID-19: The ‘Anti-Office’ ”, https://www.workdesign.com/2020/06/a-look-into-the-workplace-post-covid-19-the-anti-office/.

McKinsey, 8 June 2020, “Reimagining the office and work life after COVID-19”, https://www.mckinsey.com/business-functions/organization/our-insights/reimagining-the-office-and-work-life-after-covid-19.

Vicus Partners, 2021, “How to Ensure Employees Feel Safe In Their Post COVID-19 Office Space”, https://vicuspartners.com/articles/6-office-design-trends-post-covid-19/.

 

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog