Volgens Artikels

Deur Dr. Eugene Brink

Ons almal het al van die bohaai rondom kunsmatige intelligensie (KI) in die gemeenskap en die werkplek gehoor, maar watter impak het dit en hou dit aan om te hê?

Sommige beoordelings van KI se impak is somber, terwyl ander meer positief is. Oor die algemeen, is beide beoordelings waarskynlik regverdig, maar die enigste sekerheid is dat dit definitief, soos vorige tegnologiese rewolusies, ’n toenemende invloed op die verrigting van werk gaan hê.

“Daar is baie negatiewe voorspellings rondom KI en hoe robotte ons werk gaan oorneem. Dit sal egter nie gebeur nie. KI sal sommige werksgeleenthede van die mark verwyder, maar dit sal ander skep. KI is hier om ons te help,” het Christian Grossman, HUB van die arbeidstegnologie-firma, Beekeeper, gesê.

Hy verduidelik sy positiewe analise as volg: “KI sal ons nie van die werkplek verwyder nie, maar dit sal alledaagse en herhalende take outomatiseer en tyd losmaak vir ons om meer komplekse take te verrig. KI sal die effektiwiteit van werknemers in die werkplek verbeter.”

James Timbie, ’n vooraanstaande besoekende genoot van Annenberg aan die Hoover Institution en ’n kenner van opkomende tegnologieë, stem saam dat KI produktiwiteit sal verhoog, maar waarsku ook dat dit ’n ontwrigtende effek kan hê. “Kunsmatige intelligensie gekombineer met ander tegnologieë – soos robotika en 3D-drukwerk – sal lei tot ’n meer doeltreffende produksie van goedere en dienste. Die samelewing as ’n geheel sal baat vind by verhoogde produktiwiteit en laer koste, maar baie individue sal nadelig geaffekteer word.

Volgens hom dui navorsing aan dat ongeveer helfte van vandag se werkers in industrieë is wat kwesbaar vir ontwrigting in die nabye toekoms is. “In sommige gevalle, bv. by vragmotorbestuurders sal masjinerie werknemers vervang. Op ander terreine – onderwys en medies – sal werk getransformeer word met masjinerie wat sommige take in nabye samewerking sal verrig tesame met bekwame mense wat ander take uitvoer.”

Hy sê selfs sommige goed betaalde “kognitiewe” werke is kwesbaar vir ontwrigting. Dit sluit radioloë, regsgeleerdes, leningsversekeraars, versekeringsaanpassers, finansiële ontleders, vertalers en selfs sommige joernaliste en sagteware-ingenieurs in.

Van aanstelling tot spioenasi

Bernard Marr, toekomsvoorspeller en strategiese besigheidskonsultant, wys daarop hoe KI reeds deel van elke proses is en ook deel van elke proses sal bly. Reeds voordat ons die werkplek betree is KI toenemend besig om te verseker dat ons inderdaad die regte persoon vir die pos is. “Die vooraf-deursoek van kandidate met behulp van KI om te besluit wie geskikte kandidate vir ’n onderhoud sal wees, is toenemend ’n algemene praktyk by groot ondernemings waar duisende mense jaarliks aansoek doen én wat soms miljoene aansoekers se aansoeke om werk ontvang.”

Die volgende stap is om KI te benut om deurlopende, of lewenslange, individuele en organisatoriese onderrig te vergemaklik. “Dit sal ook help met die oordrag van vaardighede van een generasie na die volgende. Soos wat werknemers dan by ander organisasies gaan werk, of moontlik aftree kan dit help dat hulle die waardevolle ondervinding wat hulle opgedoen het agterlaat vir ander om by baat te vind en hulle kan dit ook saam met hulle neem.

Nietemin, KI het ook ’n potensiële donker kant. “Volgens ’n Gartner-opname gebruik meer as 50% van maatskappye met ’n omset van meer as $750 miljoen, digitale instrumente om data te versamel om werknemers se aktiwiteite en prestasie te monitor. Dit sluit in die ontleding van werknemers se e-posinhoud om hulle tevredenheid en betrokkenheid te bepaal. Sommige maatskappye is bekend daarvoor om opsporingstoestelle te gebruik om die frekwensie van badkamerbesoeke te monitor, so wel as klankontledings te gebruik om personeel se spanningsvlakke in hulle stemtoon te bepaal wanneer hulle met mekaar in die kantoor praat.”

Samewerking tussen mens en masjien

’n Voorbeeld van hoe KI die werkplek sal versterk en dit nie heeltemal sal domineer nie, is by mediese diagnose. “’n Diagnose is ’n bepaling van hoe inligting van ’n pasiënt by ’n patroon, kenmerkend van ’n siekte, inpas. Dit is iets wat masjiene goed doen,” het Timbie gesê. Hy voer ook aan dat masjiene baie meer data as mense in ag neem en dus beter op hoogte kan bly as die nuutste navorsing.

So, wat sal ’n dokter se rol dan wees? “Die dokter se primêre rol is om die uitkoms of diagnose aan die pasiënt oor te dra en die pasiënt te help om dit te verstaan en te aanvaar sodat die pasiënt met die behandelingsplan voortgaan.”

KI kan ook data-insigte bied om groot veranderings in patrone te identifiseer, neigings te isoleer, gedetailleerde verslae te skep en om veranderinge in klante se optrede te ontbloot, sê Grossman.

 

Bronne:

Bernard Marr, 29 May 2019, “Artificial Intelligence In The Workplace: How AI Is Transforming Your Employee Experience”, https://www.forbes.com/sites/bernardmarr/2019/05/29/artificial-intelligence-in-the-workplace-how-ai-is-transforming-your-employee-experience/?sh=66f4a5c453ce.

Christian Grossman, 23 May 2021, “3 Surprising Benefits of Artificial Intelligence in the Workplace”, https://www.beekeeper.io/blog/3-reasons-you-want-ai-in-the-workplace/.

Clifton Barker, 17 May 2018, “Artificial intelligence will both disrupt and benefit the workplace, Stanford scholar says”, https://news.stanford.edu/2018/05/17/artificial-intelligence-workplace/.

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog