Deur Nico Strydom

Die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperking het tot gevolg gehad dat mense van die huis af moes werk en hoewel al hoe meer mense reeds teruggekeer het kantoor toe, is daar werknemers wat nou permanent van die huis af gaan werk.

Talle werkgewers het tydens die inperking besluit om hul werkswyses te verander. Sommige werkgewers het hulle kantoorspasie opgegee en hul werknemers permanent van die huis af laat werk. Daar is ook ander opsies wat geïmplementeer word, soos dat werknemers sekere dae van die kantoor af en ander dae van die huis af werk.

Helene Vermaak, besigheidsdirekteur by The Human Edge, sê dié aanpassing om meer of selfs permanent van die huis af te werk, laat talle werknemers egter onbetrokke en onproduktief voel.

ʼn Meningspeiling wat deur VitalSmarts, The Human Edge se vennoot in die VSA, gedoen is, het bevind die vyf grootste uitdagings wat mense ervaar wanneer hulle van die huis af werk, is dat hulle verwyderd voel van hul kollegas, beperkte of verouderde tegnologie tot hul beskikking het, daar te veel afleiding is, ʼn gebrek aan fokus en dat hulle nie georganiseerd voel nie.

“Wanneer ons lewens verander, of dit nou omstandighede, doelstellings, verwagtinge of waardes is, moet ons ook verander.” Vermaak sê deur gewoontes te kweek, kan beweeglikheid en doeltreffendheid verhoog word. “Om die gewenste resultate te behaal, moet ons in staat wees om ons gedrag in lyn te bring met ons bedoelings en om dit te kan doen, moet ons vertroue hê in die vestiging van gewoontes.”

In sy bekroonde boek, The Power of Habit, voer Charles Duhigg aan dat ‘n gewoonte drie dele het: ʼn sneller, ʼn roetine en ʼn beloning.

“Die sneller sê vir jou brein om in outomatiese modus te gaan en watter gewoonte jy moet gebruik. Dan is daar die roetine, wat ons gewoonlik as die gewoonte beskou. Uiteindelik is daar ‘n beloning wat jou brein kan help bepaal of hierdie spesifieke gewoonte die moeite werd is om vir die toekoms te onthou.”

Volgens Vermaak is dit moontlik om te weet hoe om die wetenskap van gewoontes op die ‘nuwe normaal’ toe te pas en beter van-die-huis-af-werk-gewoontes te implementeer.

“Identifiseer in watter areas jy nie die gewenste resultate kry nie en identifiseer die gewoontes wat jou terughou. Identifiseer nou die gewoontes wat vir jou die gewenste resultate sal kry. Indien jy nie kan sien waar jy vashaak nie, kan jy jou mentor of bestuurder vra in watter areas jy kan verbeter.”

Skep ʼn roetine rondom die nuwe gewoonte deur jou omgewing aan te pas sodat dit bevorderlik is vir die gewoonte. “Beloon jouself elke keer wat jy jou nuwe roetine voltooi,” sê Vermaak.

 

Bron:

The Human Edge: https://www.humanedge.co.za/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog