Volgens Artikels

Deur Paul Maritz

Aan die begin van ´n nuwe jaar is ons dikwels baie ywerig om sommige dinge anders te doen as in vorige jare.  Een van die dinge wat jy kan oorweeg om jou werkplekroetine en jou algemene doeltreffendheid by die werk te verbeter, is om vanjaar jou blaaskans oor middagete as ´n  bate te gebruik om jou werkdag beter te maak en om jouself as mens te verbeter.  Dit is maklik om sommer maar op dieselfde plek te bly sit waar jy heeldag sit en jou broodjie te kou terwyl jy deur sosiale media blaai, maar dit is nie naastenby die beste manier om jou kosbare blaaskans te benut nie.  Hier is vyf dinge wat jy eerder kan doen:

  1. Vat ´n regte egte blaaskans!

Met die wêreld wat besiger en besiger word, kom dit voor asof al hoe meer mense verkies om nie regtig ´n ordentlike blaaskans in hul werksdag te neem nie.  Oggend word maar net middag, en middag word maar net aand. Die realiteit is egter dat ´n dag waartydens jy vir agt ure lank 100% gee baie meer vir jou loopbaan en vir jou firma gaan beteken as ´n dag waar jy vir nege of tien ure lank 75% gee.  ´n Blaaskans help jou brein om te rus; dit keer dat al jou gedagtes maar net ´n deurmekaarspul sonder begin of einde word.  Maak dit deel van jou dagbeplanning – ´n blaaskans is belangrik!

  1. Eet iets, en verkieslik iets gesond

Met soveel mense wat deesdae verkies om etes oor te slaan in die naam van een of ander vas-roetine, kies baie werkende mense om nie tydens middagete iets te eet nie.  Die probleem hiermee is dat kos die bron van energie is, en ´n mens se brein het energie nodig om te fokus.  Kossoorte soos bloubessies, avokado’s, salm, en selfs ´n klein stukkie donker sjokolade is regtig baie goed vir jou brein.  Net soos wat jou karretjie in ´n stadium nie verder sal kan ry as jy nie brandstof ingooi nie, gaan jou brein in ´n stadium nie meer kan dink as jy dit nie van genoeg energie voorsien nie.

  1. Beweeg ´n bietjie rond

Ons almal weet dat hierdie stukkie advies waar is – om op te staan en ´n bietjie rond te beweeg is ´n baie goeie blaaskansbesluit.  Wanneer jou liggaam beweeg, verhoog jou hartklop, wat natuurlik ´n bietjie meer bloed na belangrike organe (soos jou brein) stuur.  Jy sien ook nuwe dinge rondom jou, wat ´n verfrissende effek op jou brein het en dele daarvan aanskakel wat dalk tussen jou nege-en-dertigste en vier-en-vyftigste e-pos weggeraak het …

  1. Gaan ´n bietjie buitentoe

Daar is dinge daar buite wat nie binne is nie, en twee van hulle is sonskyn en vars lug.  Dit maak nie saak hoe gesofistikeerd jou kantoor se lugversorgingstelsel is nie, dit vervang nie vars lug nie.  Net soos wat jou brein kos nodig het om te werk, het dit suurstof ook nodig.  Al is dit net ´n paar minute op die stoepie of ´n vinnige stappie om die kantoorgebou, ´n bietjie buite-tyd sit jou produktiwiteit weer in die hoogste rat!

  1. Werk jou pad deur ´n goeie boek

As buitentoe gaan of rondbeweeg werklik nie ´n opsie is nie, is dit nogtans nodig om jou oë van daardie skerm af weg te kry en jou brein vir ´n ruk op ander dinge te laat fokus.  Neem dan maar vir jou ´n lekker boek saam en lees vir ´n rukkie.  Nie net fokus jou oë op iets anders nie, maar jy prikkel ook dele van jou brein wat vir ure lank toegesluit was terwyl jy korporatiewe chaos in orde probeer omskep het.

´n Blaaskans by die werk is in ´n sekere sin soos om ´n toets vir jou bestuurderslisensie te gaan doen – jy kry net een kans per dag, en as jy nie jou kans benut nie, moet jy môre terugkom en weer ´n slag probeer.  Maak seker dat jy jou eerste keer laat tel; gebruik jou blaaskans om jou energievlakke, suurstofvlakke en fokusvlakke weer ´n bietjie woema te gee!

 

Bron:

https://www.projectmanager.com/blog/lunch-break-worth-taking

https://www.inc.com/rhett-power/want-to-get-ahead-10-things-to-do-during-your-lunch-break.html

Foto krediet: Louis Hansel @shotsoflouis | Unsplash

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog