Volgens Artikels

Deur Wilma Bedford

As dit kom by vergaderings, hetsy aanlyn of persoonlik, het baie van ons raad nodig oor hoe om meer dikwels te praat – en sommige van ons het raad nodig oor hoe om ʼn bietjie meer besadig te wees.

By die meeste vergaderings is daar saaklike en pittige opmerkings, waar almal bydra en almal luister. As daar te veel nadenkende, stil introverte of spraaksame ekstroverte is, kan alles onproduktief word.

Om by vergaderings te praat, is ʼn belangrike manier om jou profiel in jou maatskappy te versterk en erkenning te kry vir jou werk – as jy dit reg doen. Die volgende is ʼn paar idees oor hoe om jou bydraes by vergaderings te verbeter, aan watter kant van die persoonlikheidskloof jy ook al is.

  • Wees voorbereid

As jy ʼn introvert is, hou jy waarskynlik daarvan om voorbereid te voel, so om vooraf te besluit wat jy gaan sê, kan in jou guns tel. Dit kan jou ook help om vroeg in die vergadering ʼn bydrae te lewer sodat mense hul opmerkings aan jou sal rig en seker sal maak dat jy jou nie onttrek nie. As jy kan, sê iets gedurende die eerste tien minute, al is dit net om ʼn vraag te vra of met iemand saam te stem. Sielkundig sal dit keer dat jy in vertwyfeling verval.

“Om jou gedagtes vooraf agtermekaar te kry, kan ook help om een van die eerstes te wees wat praat, wat waarskynlik nie jou normale styl is nie. Dit is oor die algemeen beter om jou idees vroeg aan te bied,” sê Susan Cain, skrywer van Quiet: The Power of Introverts in a World That Can’t Stop Talking.

Lees die agenda en kry jou idees agtermekaar voordat jy na die vergadering toe gaan. Dit sal jou meer selfvertoue gee vir wat jy wil sê en jy sal baie meer geneë wees om te praat. Dit is veral nuttig as jy eers jou reaksie wil oordink eerder as om op jou voete te moet dink.

  • Oefen wat jy wil sê – en wees saaklik

Oefen met die hulp van ʼn kollega om te sien watse reaksie jy kry, of staan voor ʼn spieël.

ʼn Ander minder gebruiklike vaardigheid by vergaderings is om “by die punt uit te kom”. So, wanneer jy voorberei, maak van die geleentheid gebruik om te oefen hoe om jou sleutelpunte uit te lig sonder dat hulle in onnodige detail verlore gaan. Jou bydraes sal beter onthou word as hulle bondig is.

“Is jou boodskap sterk en bondig genoeg om in 140 karakters of minder in te pas? Indien nie, dryf hulle net rond. Snoei en versterk,” sê die stigter van die loopbaankonsultfirma Push Consultant Group.

  • Moenie vir iemand anders wag om te praat nie

Deel van skaam wees om te praat, is om jou te verbeel niemand wil hoor wat jy te sê het nie. Dit is dus die moeite werd om daaraan te dink dat ander mense presies dieselfde voel, dieselfde gedagtes het en desperaat wag vir iemand om dit te verwoord.

“Daar buite in die groot heelal is daar waarskynlik iemand wat hoop of sê presies wat jy wil sê of doen. Die wêreld sal stilstaan as ons almal ewe beleefd wag vir iemand om ons gedagtes te artikuleer.”

  • Luister na wat ander mense sê

Baie mense praat nonsens by vergaderings. Maar luister na wat hulle sê. Sommige mense praat net om te kan praat, luister nie na ander nie en praat sommer net ʼn klomp nonsens. Jy stel die dwarslat baie hoër as wat dit werklik is en verwag baie meer van jouself as wat nodig is.

  • Leer by andere wat dit goed doen

Identifiseer iemand wat goed kommunikeer by vergaderings. Luister na die toonaard en -volume van hul stemme en hoe vinnig hulle praat. Hoe is hulle lyftaal en oogkontak? Let op die respons wat hulle van ander kry. Kies sommige elemente van wat hulle goed doen en probeer om dit self te gebruik.

  • Wees bewus van jou lyftaal

Wees bewus van jou lyftaal al dra jy nie by tot die vergadering nie. Daardie senuagtige, ineengekrimpte lyftaal wat jy vertoon kan verdedigend en onbelangstellend voorkom.

Probeer ʼn oop houding inneem wat die indruk van selfvertroue gee. Leun vorentoe, glimlag en maak oogkontak. Dink aan ʼn onsigbare tou van die bokant van jou kop na die plafon wat jou optrek. Stuur seine van bekwaamheid en warmte deur jou skouers te laat ontspan en hulle af te trek na jou rug. Om op jou gemak te lyk skep ʼn positiewe persepsie by mense wat jy probeer beïnvloed.

  • Vra vrae

Jy moet gewoond raak daaraan om jou eie stem by vergaderings te hoor. Die beste manier om dit te doen, is om vrae te vra. Vra iemand om ʼn punt te verduidelik of uit te brei daarop.

  • Ontpersoonlik jou idees

Voordat jy jou nek uitsteek met ʼn kontroversiële idee maar een waarin jy glo, ontpersoonlik jou stelling. Alles gaan oor die woorde wat jy gebruik. Probeer byvoorbeeld een van die volgende in plaas van “Ek dink …”:

“Het enigiemand al gedink oor … ”
”Sommige mense sê … ”
”Kan ons weer kyk na … ”
”Het iemand genoem … ”
”Moet ons net weer gou dink oor ons aanname dat … ”
” Miskien moet ons dit ook oorweeg … ”

  • Kry jou ingesteldheid reg

ʼn Bestuurshouding gaan oor meer as hoe jy lyk en lyftaal. Fundamenteel is dit jou mentaliteit.

Vermy verskonende taal soos “Ek’s jammer, ek kan dalk heeltemal verkeerd wees”. Tentatiewe taal kan byvoorbeeld van pas wees tydens ʼn dinkskrum, maar nie wanneer jy as beslis en ʼn deskundige gesien wil word nie. Let op jou infleksie, net soos jy dit teenoor ʼn ander sou doen – en sonder om sinne af te sluit asof jy ʼn vraag vra – en dat jy nie aan die einde van jou sinne wegraak nie.

  • Virtuele vergaderings

As gevolg van die voortdurende pandemie wonder selfs toppresteerders hoe om die immer ontwykende bestuurshouding tydens virtuele vergaderings ook vas te vang.

Die vermoë om tydens videovergaderings met selfvertroue te praat is essensieel vir bestuurders wat afstandswerk doen tydens die pandemie, sê loopbaanafrigter Melody Wilding.

Charismatiese windmakerigheid is egter nie die introvert se styl nie. En dit kan moeilik wees vir hulle om hulself bo-oor meer ekstroverte kollegas te laat hoor. Met ʼn fyner ingestelde senustelsel beteken dit dat hulle elke geringe beweging en reaksie monitor, wat kan lei tot oorweldiging, afleiding, en toeslaan wanneer dit eindelik tyd is om ʼn mening te lug. Die groter druk om te presteer is genoeg om hulle in vertwyfeling en die indringersindroom te laat verval.

Maar daar is desnieteenstaande baie maniere om jou bestuurshouding in ʼn virtuele vergadering te laat geld. Dit spruit voort uit jou voorkoms op kamera, so maak seker dat jy jou behoorlik posisioneer, oogkontak maak en ʼn goeie houding inneem, natuurlike beligting gebruik en virtuele agtergronde vermy.

Praat met ʼn helder sterk stem, glimlag vir die kamera en nie vir jou kollegas nie, en maak alle kennisgewings stil.

Jy moet effens vinniger praat as in persoon. Kyk hold people’s attention.

Bou daardie selfvertroue

Hoewel baie van hierdie voorstelle dalk eenvoudig lyk, skep hulle gesamentlik ʼn persepsie van bekwaamheid, vertroue en geloofwaardigheid.

Selfvertroue kom uit ondervinding, so, hoe meer jy bydra hoe makliker word dit. Jy hoef nie die spraaksaamste persoon in die kamer te wees om jouself as ʼn sukses te sien nie. Jy wil net elke vergadering verlaat met die wete dat jy ten volle bygedra het.

Spreek jou gedagtes uit. Deel jou idees. Jy verdien jou plek by daardie tafel. Dis tyd om hulle te wys hoekom.

Bronne

9 confidence hacks to help you speak up in meetings

DJYArwood. November 2017.

https://the smartermanager.com/2017/11/speak-up-in-meetings

The do’s and don’ts of speaking in meetings

https://www.barnsley.ac.uk/the-dos-and-donts-of-speaking-in-meetings

9 techniques to help you appear more confident during virtual meetings

Melody Wilding. 13 Jan. 2021

https://www.businessinsider.com/tecniques-to-help-you-appear-more-confident-on-zoom

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog