Volgens Artikels

Deur Reon Janse van Rensburg

Die dae toe werksoekers die koerant gebruik het om werk te soek, is reeds lankal verby. Deesdae is daar geen beter manier om ʼn nuwe werk los te slaan nie as deur die internet en die talle webblaaie wat daar beskikbaar is nie. ʼn Mens hoef nie té lank te dink oor waar jy daardie droompos gaan soek nie voor name soos Werknet, PNet, LinkedIn en talle ander by jou opkom.

Die proses is doodeenvoudig: Jy laai jou CV op, lys jou vaardighede, vertel meer omtrent jouself en siedaar – jy is gereed om aansoek te doen vir ʼn wye reeks poste wat aanlyn geadverteer word. Ongelukkig is daar ook ʼn donker kant aan internet-werksoek verbonde en booswigte kruip om elke hoek en draai weg. Ons hoor deesdae gereeld van werksoekers wat die internet gebruik om werk te soek net om dan ingeloop te word deur booswigte in voorvalle wat met bedrog, die steel van persoonlike inligting en selfs ook geld verband hou wanneer desperate mense uitgebuit word as hulle moet opdok om werk te kry. Moenie een van die slagoffers word nie – wees ingelig oor die gevaartekens en hoe jy dié tipe nagmerrie kan verhoed.

Na watter rooi vlae moet ek oplet wanneer ek werk soek? Volgens Careers24 is dit wys om op die uitkyk te wees vir die volgende punte:

  1. Die salaris wat in die advertensie aangebied word, stem nie ooreen met die vaardighede of die mate van ondervinding wat benodig word nie. As ʼn junior pos geadverteer word waar jy meer geld as jou huidige bestuurder gaan verdien, moet jy weet dat dit heel waarskynlik te goed is om waar te wees.
  2. Die advertensie maak spesifiek melding daarvan dat geen ondervinding benodig word nie. Volgens Careers24 is dit ʼn aanduiding dat die adverteerder die net ver en wyd gooi om soveel as moontlik mense te lok. Vermy die een liefs – ʼn mens weet nie wat die motiewe is nie.
  3. Die adverteerder stel baie mense aan vir dieselfde rol. Die advertensie lees gewoonlik iets soos “25 gegradueerdes word benodig” of “20 uitbelagente benodig.” Vermy dit eerder– dit is ʼn té groot kans om te waag.
  4. Wanneer jy aansoek doen om ʼn pos by ʼn onderneming is daar gewoonlik ʼn skakel wat na ʼn afdeling van die onderneming se webblad gaan waar jy inligting oor jouself moet invul. Bekende maatskappye gebruik hul eie e-posadresse en sal nie vra dat jy jou e-pos na ʼn Gmail-, Yahoo- of ander e-posadres stuur nie. Beskerm jouself en jou inligting.
  5. Die onderneming vra geld om jou aansoek “te verwerk.” Dit is nooit werklik duidelik waarvoor die geld aangewend word en hoe jy daarby baat nie. Bly ver weg. Goeie en betroubare ondernemings sal nie geld vra wanneer jy daar aansoek doen om werk nie.

Indien jy nie seker is of die werksaanbod eg is nie, gaan kyk na die onderneming se webblad. Daar behoort ʼn afdeling te wees waar vakante poste geadverteer word. Indien dit nie daar is nie, skakel die onderneming en vra om met iemand wat in die mensehulpbron-afdeling werk te praat om seker te maak die advertensie is eg. Onthou – wanneer iets té goed is om waar te wees, is die kanse goed dat dit nie waar is nie. Wees op jou hoede en hou moed, jou droomwerk is jou beskore.

Indien jy op soek is na werk, besoek gerus Werknet se webblad waar jy ʼn gratis profiel kan skep en aansoek doen om ʼn verskeidenheid poste – www.werknet.co.za

 

Bron:

Job scam red flags – https://careeradvice.careers24.com/career-advice/job-hunting/job-scam-red-flags-20220407

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog