Volgens Artikels

Deur Paul Maritz

In die ideale wêreld sou mense regoor planeet aarde elke dag uit die bed uit spring soos vuurpyle op pad na die buitenste ruimte, omdat hulle nie kan wag om nog ’n dag by die werk te spandeer nie.  Die realiteit is egter dat werk nie noodwendig vir almal ewe lekker is nie. Daar is heelwat mense, veral jongmense, wat dalk oorlaai is met administrasie, of nie noodwendig deel vorm van hul maatskappy of praktyk se belangrike besluite nie, vir wie werk soms meer van ’n uitdaging as ’n plesier is. Soos groente eet, kan werk toe gaan nie vermy word nie, veral nie as ’n mens finansieel selfstandig en onafhanklik wil wees nie. Die beste plan wat jy dan kan maak is om werk vir jouself lekker te maak. Hier is vyf stukkies advies oor hoe om enige werk vir jouself lekker te maak:

  1. Bou vir jouself speletjies en kompetisies in.

In die bekende Disney-film, Mary Poppins is daar ’n aanhaling: “In elke werkie wat gedoen moet word is daar ’n bietjie pret te vinde.”  Moet jy elke dag presies dieselfde tipe briewe tik? Dan kan jy ’n stophorlosie opstel, en kyk of jy jou tyd van die vorige dag kan verbeter. Moet jy daaglikse sosiale media plasings op ’n professionele rekening maak? Dan kan jy die daaglikse nuwe volgers, of aandag wat jou plasings kry as manier sien om van dag tot dag met jouself te kompeteer. Sodoende gaan dit nie meer oor die dikwels vervelige takies nie, dit gaan oor die pret van jouself konstant uitdaag om beter te wees.

  1. Breek groot take op in kleiner, verteerbare take.

’n Groot opdrag kan maklik soos ’n berg vir ’n mens wag – só groot dat jy nie eens mooi weet waar om te vat en waar om te los, of selfs net waar om te begin nie. Deur die taak in kleiner stukkies op te breek kan jy in plaas van een groot taak vyf klein takies aanpak, elkeen meetbaar en doenbaar. Op hierdie manier voel jy asof jy vorder, omdat jy dalk twee, drie, of vier klein takies voltooi het, waar jy andersins gedurig sou voel dat jy nie eens hierdie een groot taak afgehandel kry nie, en nie weet of jy enigsins vorder nie.

  1. Hou die groter prentjie in gedagte.

By verre begin die meeste mense heel onder in ’n nuwe besigheid, firma of praktyk. Selfs jongmense met skaars kwalifikasies en goeie punte ervaar soms dat hulle koffie moet maak, basiese takies moet verrig, en nie veel moet dink in hul werke nie. Die realiteit is dat organisasies ’n goeie rede vir so ’n hiërargie het. Jong en onervare werkers moet eers leer hoe werk ’n besigheid of bedryf voordat hulle in bestuursposisies beland – dit gaan nie oor jou nie, so moet dit nie persoonlik opneem nie.  Vir hulle wat hard en getrou werk en inkoop by die besigheid se groter visie is daar gewoonlik ’n goeie loopbaanpad wat lei na bestuur of ten minste na meer verantwoordelikheid.

  1. Beloon jouself vir klein oorwinnings.

Hierdie stukkie advies kan gevaarlik wees as jou idee van belonings iets onverantwoordelik soos groot hoeveelhede lekkernye is, maar dit is nietemin iets om te oorweeg. Hou jy daarvan om vir jouself ’n lekker koppie koffie te maak? Beloon jouself nadat jy ’n opdrag voltooi het met so ’n lekker koppie koffie, juis omdat dit jou sal motiveer om te fokus en die opdrag klaar te kry. Het jy ’n lekker stukkie vleis of lekkertjie ingepak vir middagete? Verdien daardie bederfie met ’n duidelike en meetbare doelwit. Soms moet ’n mens jouself so bietjie aan die neus lei.

  1. Bly besig!

Geen dag by die werk sloer so lank soos die dag wat jy niks het om te doen nie, óf wanneer jy dit wat jy moet doen vermy nie. Spring aan die werk, en laai net-net te veel dinge op jou program vir een dag, want al bly daar een of twee onbelangrike takies oor teen tjailatyd het jy ’n vol en produktiewe dag gehad, en het jy so gewerk dat die dag nie genoeg vir jou was nie, eerder as wat jy nie genoeg vir die dag was nie. Bly besig, en jy sal sien hoe vlieg die werksdag om, en as ’n bonus gaan jy sommer met ’n groot glimlag huis toe ry.

Werk, selfs die beste werk, is soms maar net werk, en is nie altyd lekker nie. ’n Mens het egter die vermoë om sy of haar eie lewe lekker te maak, en ’n werksdag hoef nie hiervan te verskil nie. Neem vandag en toets hierdie wenke op jou eie werksdag uit. As jy weer sien sal jy ’n lang lysie afgemerk hê, en jy sal amper nie kan wag om môre weer te begin nie!

Foto krediet: Brooke Cagle | Unsplash

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog