Deur Charlize Herman

Ek werk heeltyd oortyd, dit moet tog ’n grap wees? Is my baas besig om ’n poets te bak met sy alewige geraas? Hoekom is dit só moeilik om balans te handhaaf? Hierdie eerste jaar van werk voel soos die einde van my lewe. As hierdie woorde by jou aanklank vind, voel jou eerste jaar van werk dalk vir jou soos een vet Aprilgek-grap. Jy het gedink die grootmenslewe gaan lekker wees en toe is dit presies die teenoorgestelde. Hier is ´n bietjie raad as jy in daardie bootjie is.

  • Verandering is nie veronderstel om maklik te wees nie

Elke fase van ons lewens bring nuwe uitdagings, maar daarmee saam ook nuwe lesse. Probeer om hierdie “verandering” te sien as “vernuwing” en ’n geleentheid om te leer en groei, eerder as om dit te vrees. Verandering is nie maklik nie; dit is veronderstel om jou wortels op te trek en jou in nuwe grond te plaas waar jou wortels kan verdiep.

2) Dit gaan ook verby

Onthou jy hoe jy in matriek gespanne was oor die skoolwerk, en toe was jy op universiteit ook gespanne oor die nuwe hoeveelheid werk? As jy nou terugkyk, was matriek eintlik maklik, né? Nee, dis net omdat jy gegroei en aangepas het. Jy sal in jou werksplek ook aanpas, oor ’n jaar of twee sal dit makliker wees om in te pas en aan te gaan. Moeilike tye gaan ook verby.

3) Hou dit lig

Ons raak maklik ingesuig deur kantoorpolitiek of selfbejammering omdat ons nog nie alles weet nie. Dalk moet jy probeer om te aanvaar dat jy weer ’n “groentjie” is, en jou verwagtinge effens laat sak. Hou jou gemoed so lig as moontlik, lag vir jou foute en trek saam met ander nuwelinge wat deur dieselfde grootword-grap gaan.

Al voel dit nou vir jou asof als ’n nare grap is wat nooit einde kry nie, al is jy so moedeloos dat jy net lag van moegheid, hou moed. Een van die dae lag jy werklik uit jou maag, sodra jy aangepas en ingegroei het.

Sterkte!

 

Bronne

https://www.psychologytoday.com/us/blog/the-truth-about-exercise-addiction/201608/why-is-change-so-hard

https://grammar.yourdictionary.com/style-and-usage/comforting-words-for-hard-times.html

https://hbr.org/2016/09/how-to-get-better-at-dealing-with-change

Foto krediet: Okay Deer

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog