Volgens Artikels

Deur dr. Eugene Brink

Of jy nou ʼn kantoorpraktisyn is wat op hierdie oomblik van die huis of kantoor af werk, jou omgewing moet georganiseer wees ten einde doeltreffend te wees.

Dikwels is ons egter te besig of nie kundig genoeg om ons werkruimte effektief te rekonfigureer nie. En tog is dit essensieel dat jy jou werkruimte moet regstel. “Jy dink dalk dat jy nie tyd vir kantoororganisasie het nie, maar as jy werklik weet hoeveel tyd daardie wanorde jou kos, sal jy weer dink,” sê Royale Scuderi, ʼn kreatiewe strateeg en konsultant. “ʼn Relatief netjiese en ordelike kantoor baan die weg vir groter produktiwiteit en minder verkwiste tyd. Die organisering van jou kantoor hoef nie dae te vat nie, dit kan ʼn bietjie op ʼn slag gedoen word.”

Maar hoe doen mens dit en waar begin jy?

  1. Die groot skoonmaak

Scuderi beveel aan dat jy begin by ontrommeling, leegmaak en eenvoudig alles wat jy nie nodig het of nie wil hê nie, wegdoen. “Neem een area op ʼn slag. As dit defek is, stuur dit vir herstelwerk of gooi dit weg. As jy dit vir maande nie gebruik het nie en nie kan dink wanneer jy dit werklik sal nodig kry nie, weg daarmee. Dit geld vir meubels, toerusting, voorraad, ens. Moenie vergeet van die snuisterye, plante (regtig of nagemaak) en versierings nie – as hulle vol stof is en jou kantoor slordig laat lyk, is hulle geteiken.”

  1. Hou dit bymekaar

Laura Leist, voorsitter van die New Jersey-gebaseerde National Association of Professional Organisers, sê mense koop dikwels nog lêers, houers en krammasjiene voordat hulle voorraad neem van wat hulle reeds het. Sy beveel aan dat alle soortgelyke items saamgroepeer word en dat die rol wat hulle sal speel, beoordeel word voordat daar gekoop word. Gee jou fisiese en digitale lêers name sodat hulle maklik gevind kan word.

“Maak elke item bymekaar wat nie is waar dit moet wees nie en sit dit waar dit hoort,” sê Scuderi. “Sit items wat saam gebruik word in dieselfde laai, seëls by koeverte, kleefnotas by notaboekies, ens. Gebruik laai-organiseerders vir klein itempies – skuifspelde, drukspykers, ens. Gebruik ʼn afsonderlike laai vir persoonlike items.” Kry ook ʼn merker wat maklik is om te gebruik en merk rakke, bakke en laaie. “Dit sal jou nie net daaraan herinner waar goed moet kom nie, dit sal ook andere help wat iets in jou werkruimte moet vind, gebruik of bêre.”

  1. Plante en gadgets

Ron Radu, medestigter van Léon & George, sê plante kan ʼn omgewing skep wat bevorderlik is vir verhoogde produktiwiteit.

“Baie plante in die werkruimte help om skoner lug te produseer en dit motiveer werknemers om meer energiek en kreatief te wees. Wetenskaplikes het al bewys dat plante in kantore positief is. Daar is baie te sê vir plante, van stresvermindering tot verhoogde produktiwiteit en kreatiwiteit.”

Ten spyte van al hul voordele, moet tegniese toestelle nie nuwe rommel skep nie. “Deesdae het ons almal so baie skerms wat om ons aandag meeding, so skep ʼn ‘tuiste’ vir jou slimfoon, slimhorlosie en ander potensieel aandagafleidende gadgets,” sê Jamie Fertsch, direkteur en medestigter van Xdesk, ʼn VSA-gebaseerde maatskappy wat doelgemaakte lessenaars vervaardig. “Hou hulle in ʼn toegewyde plek sodat jy nie deur ʼn konstante stroom kennisgewings afgelei word nie.”

  1. ʼn Algemene fout

Josh Spiro skryf by Inc.com dat dit ʼn algemene fout is om goed te bêre waar daar plek is en nie waar hulle gebruik word nie. “As jou liasseerkabinet in die gangkas ingestop is en nie langs jou lessenaar is nie, sal die dokumente wat daarin is, misgekyk of misplaas word wanneer hulle die nodigste is.”

 

Bronne

Josh Spiro, 2010, “How to organise your workspace”, https://www.inc.com/guides/2010/06/organize-your-workspace.html.

Jennifer Post, 10 Januarie 2020, “How to create a workspace that improves productivity”, https://www.businessnewsdaily.com/7456-workspace-design-productivity.html.

Royale Scuderi, 2021, “15 best organising tips for office organisation and getting more done”, https://www.lifehack.org/articles/productivity/21-tips-to-organize-your-office-and-get-more-done.html.

 

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog