Deur Dr Eugene Brink

Die omwenteling wat met die Covid-19-pandemie gepaard gegaan het, het baie mense bloot dankbaar gelaat omdat hulle steeds werk het, terwyl ander hulle werk laat vaar het as deel van die sogenaamde “Groot Bedanking”-tendens.

Met ekonomieë, belastingbetalers, maatskappye en verbruikers onder enorme druk weens die gevolge van die pandemie en die huidige oorlog in Oekraïene, is bevordering nie iets wat te geredelik bespreek en verwag word nie. Maar behoort dit te wees? Per slot van rekening lyk dit asof die pandemie besig is om af te neem en alhoewel daar ʼn paar taai huidige en toekomstige uitdagings bestaan, moet maatskappye vooruit dink en beplan.

Die behoud van talent behoort bo-aan hulle lys (of ten minste amper bo-aan) te wees, en om daaraan uitvoering te gee sluit tog vir seker in om diesulkes te bevorder.

Die huidige scenario

In 2022 het die bestuurskonsultante CMI sy lede uitgevra oor verhogings en bevorderings en die volgende bevind:

  • Die meerderheid bestuurders (73%) het nie in 2021 ʼn bevordering verwag nie
  • Net onder die helfte (48%) het nie ʼn verhoging verwag nie
  • 47% het ʼn verhoging verwag, maar die meerderheid het verwag dat dit net inflasionêr sou wees.

“Dink aan hoe jy te midde van ʼn pandemie ʼn verhoging kan kry. Hoe bewys jy dat jy gereed is vir die volgende stap as almal op dieselfde manier ingeperk is? Om te differensieer word moeiliker,” sê CMI se voormalige president Bruce Carnegie Brown.

ʼn Britse meningsopname deur HowNow in 2021 het bevind dat die getal bevorderings in die vorige 12 maande 48% laer was as in die vorige jaar. Net 24% van die respondente het gesê daar was bevorderings in hulle span, vergeleke met 72% die vorige jaar. Werknemers ouer as 55 was minder waarskynlik om bevorder te word, terwyl diegene tussen 35 en 44 meer waarskynlik bevorder sou word.

Dit is interessant dat die navorsing ook bevind het dat die gemiddelde maatskappy gedurende hierdie tydperk 67% minder aan opleiding bestee het. Daar is baie aanvaarbare verduidelikings hiervoor, byvoorbeeld dat maatskappye probeer om sekere uitgawes te sny. Hoe dit ook al sy, die negatiewe kant is dat maatskappy nie in hulle werknemers belê het nie en hulle op bevordering voorberei het nie, en nie lojaliteit gekweek het om hulle te behou nie.

Dit is nie verrassend dat ʼn derde (35%) van respondente besig was om aktief na nuwe werk te soek nie. In 42% van dié gevalle het werknemers ʼn gebrek aan groei in hulle huidige rol as die hoofrede aangedui.

Uit die kantoor, uit die hart

Meera Jagannathan, ʼn joernalis vir MarketWatch, vertal die verhaal van Alyson, ʼn administratiewe assistent by ʼn indiensnemingsagentskap in Cincinnati, Ohio. Sy ly aan verskeie onderliggende toestande en is dus ook kwesbaar vir Covid-19.

Sy voel haar departement – die enigste in haar maatskappy wat steeds hoofsaaklik van die huis af werk – word agtergelaat ondanks die feit dat hulle produktiwiteit met rasse skrede styg. Gevolglik word mense op kantoor bevorder, in teenstelling met mense wat vanaf ʼn afstand werk. Haar bekommernis is dat moontlike toekomstige werkgewers rooi ligte sal sien weens haar gebrek aan bevordering, ten spyte daarvan dat sy nuwe verantwoordelikhede buite haar nuwe rol aanvaar.

“Baie mense word bevorder – en die meeste van hulle is op kantoor,” sê Alyson, wat in haar middel-20’s is. “Alhoewel jy tuis betyds by jou lessenaar opdaag en aanmeld, en jy werk die hele dag en doen baie … is dit asof, omdat hulle jou nie in persoon sien nie, dit nie eintlik werklik is nie.”

Die ander kant van dieselfde munt is egter dat daar ʼn normatiewe skuif gekom het in die manier waarop werk verrig word.

Nelson Sivalingam, HUB en medestigter van HowNow, sê terwyl werknemers in die voor-pandemie era tevrede was om hulle werk te behou, dit nou baie makliker is om te bedank. Tegnologie en ʼn langtermyntendens om van die huis af te werk is van die belangrikste oorsake.

“Diegene wat ontevrede is, blyk nou hulle werksoektog op te skerp. In die huidige omgewing waar om van werk te verander in wese só daar uitsien: dieselfde huis, ander Zoom-oproep en die koste om dit te verander is nie te hoog nie, is dit selfs meer belangrik om werknemers te betrek en hulle te behou deur in hulle voortgesette leer en ontwikkeling te belê,” het hy gesê.

“Deur aan hulle die geleentheid te gee om hulle vaardighede te verbeter en sodanige ontwikkeling met insentiewe vir bevordering te beloon, staan jy ʼn baie beter kans om jou werknemers te behou.”

 

Bronne

CMI. 2021. Pay rises and promotions in the time of Covid. https://www.managers.org.uk/knowledge-and-insights/article/pay-rises-and-promotions-in-the-time-of-covid/.

Francis Churchill. 2021. Number of promotions halved during Covid, research suggests. https://www.peoplemanagement.co.uk/article/1742957/number-of-promotions-halved-during-covid.

Meera Jagannathan. 2021. ‘A lot of people are getting promotions — and most of them are in the office’. https://www.marketwatch.com/story/who-wins-and-loses-in-the-return-to-the-office-and-how-to-avoid-a-diversity-crisis-11626460985.

https://www.marketwatch.com/story/who-wins-and-loses-in-the-return-to-the-office-and-how-to-avoid-a-diversity-crisis-11626460985

https://www.peoplemanagement.co.uk/article/1742957/number-of-promotions-halved-during-covid

https://www.managers.org.uk/knowledge-and-insights/article/pay-rises-and-promotions-in-the-time-of-covid/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog