Volgens Artikels

Deur Dr. Eugene Brink

Ten spyte daarvan dat ernstige kommer oor die pandemie begin vervaag en  langtermyn-afstandwerk ter sprake is, het die debat oor waar die werk verrig sal word nog lank nie uitsluitsel bereik nie.

Terwyl base soos Elon Musk hulle werknemers aansê om terug te keer kantoor toe of die gevolge te dra, is baie organisasies minder voorskriftelik en meer akkommoderend weens die skuiwende norme en houdings in hierdie verband.

Maar hoe voel werkers regtig oor afstandwerk? Die beste manier om dit vas te stel is om om na data en navorsing oor hierdie onderwerp te kyk.

A Sustainable Work Model: Towards Remote and in-the-Office Work, ʼn opname uitgereik deur die globale IESE Business School en die raadgewende maatskappy Savills Aguirre Newman, dui aan dat ʼn skamele 12% van werkers verkies om elke dag afstandwerk te verrig.

“Van hierdie groep is die meeste vroue (64%) met ʼn gemiddelde ouderdom van 39. Die meeste is getroud en het ʼn vaste maat (70%), die meeste het kinders (58%) en die meeste werk al vir vier jaar of langer vir hulle maatskappy (56%). Die drie top redes wat aandui waarom werk van die huis af verkies word, is die volgende: om beter na hulle gesinne om te sien (61%), om geld te spaar deur nie te pendel nie (48%) en om tyd te hê vir ʼn sport of stokperdjie (48%),” sê IESE in ʼn artikel op sy webwerf.

Aan die ander kant van die spektrum dui slegs 4% van die respondente aan dat hulle verkies om nooit telewerk te doen nie. Die meeste (61%) beskik nie oor die middele om tuis te werk nie en 54% beweer hulle wil nader aan hulle spanne wees.

Dit laat die “goue middeweg”-meerderheid wat iets in die middel verkies: Diegene wat afstandwerk vir drie dae per week verkies (36%), gevolg deur twee dae per week (32%) en vier dae per week (9%). “Teen verwagtings in, blyk ouderdom nie ʼn rol te speel in werknemers se voorkeur om tuis of op kantoor te werk nie, het die opname bevind.”

In ʼn soortgelyke strekking het PwC US se opname oor afstandwerk bevind dat konsensus steeds tussen werkgewers en werknemers ontbreek oor die optimale balans tussen werk en kantoordae. “Meer as die helfte van werknemers (55%) sou verkies om vir ten minste drie dae per week tuis te werk nadat kommer oor die pandemie afgeneem het – min verandering van die 59% wat in Junie 2021 dieselfde gesê net. Terwyl die meeste bestuurders opsies oor afstandwerk verwag, is hulle van hulle kant af ook bekommerd oor die gevolge: 68% sê ʼn tipiese werknemer moet ten minste drie dae per week op kantoor wees om ʼn duidelike maatskappykultuur te handhaaf.”

In Suid-Afrika het ʼn Michael Page-studie bevind dat 83% van sy respondente verwag dat maatskappy in die nasleep van Covid-19 buigbare werkopsies sal implementeer. “37% sou kies om vir twee dae tuis te werk en 33% een dag per week, terwyl 53% kyk na drie of vier dae per week as ʼn ideale reëling vir werk van die huis af.”

 

Bronne

IESE. 2022. “Working remotely two to three days a week, the best option”. https://ieseinsight.com/doc.aspx?id=2426&ar=20

Michael Page. 2022. “Dramatic increase in remote working in South Africa”. https://www.michaelpageafrica.com/advice/insights/latest-insights/dramatic-increase-remote-working-south-africa.

PWC. 2022. “It’s time to reimagine where and how work will get done”. https://www.pwc.com/us/en/library/covid-19/us-remote-work-survey.html

 

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog