Volgens Artikels

Deur Anja van den Berg

In ʼn post-Covid-19-wêreld vind die meeste werkplek-interaksies oor ʼn afstand plaas. Tegnologie bied aan ons baie kommunikasiekeuses, maar nie alle kommunikasiemedia is op gelyke voet geskep nie. ʼn Assistent-professor in bestuur, Andrew Brodsky, het navorsing gedoen oor watter virtuele kommunikasiegereedskap emosionele egtheid aanmoedig. Brodsky wou vasstel of sommige modusse van kommunikasie waninterpretasie of vermomming van emosies kan veroorsaak, terwyl ander blyk egtheid oor te dra.

Om hierdie vraag te beantwoord het Brodsky drie studies met meer as 1000 respondente oor verskeie industrieë uitgevoer. Die studies het ondersoek hoe kommunikasie-emosie via in-persoon/video, telefoon of e-pos as die modus van kommunikasie ʼn ontvanger se persepsies van die kommunikeerder se egtheid verander het.

Sy bevindings was deels verwag en deels verrassend. Wanneer die afsender besonder positiewe emosies ervaar het terwyl die boodskap oorgedra is, het ontvangers die hoogste vlak van egtheid ervaar via van aangesig-tot-aangesig- of video-kommunikasie.

Daar was egter ʼn verrassende verskil wanneer die afsender ʼn negatiewe boodskap in ʼn positiewe lig moes oordra of ʼn positiewe boodskap moes weergee terwyl hy/sy self nie optimisties gevoel het nie. Kommunikasie via e-pos (laag in rykheid) was nie die beste keuse nie, so ook nie van-aangesig-tot-aangesig of video (hoog in rykheid) nie. Dit het geblyk dat wat Brodsky ‘mediumryk kommunikasie’ noem – telefoon of oudio – die waarskynlikste is om emosie wat nie eg gekommunikeer word nie, as eg oor te dra.

Alhoewel e-pos inderdaad emosionele lekkasies en aanduidings van onderliggende onegtheid beter as enige ander medium vermom het, het die gebruik daarvan ʼn koste meegebring. In situasies waar die afsender die kommunikasiemedium kon kies – ongeag of die onderliggende emosie wat gekommunikeer is outentiek was of nie – het onvangers sentimente wat via e-pos gedeel is as hoogs oneg beskou.

Omdat dit so maklik is om emosie in ʼn e-pos voor te gee (bv. om ʼn emotikon te tik is baie makliker as om opreg te glimlag), en omdat ʼn e-pos beskou is as dat dit min moeite verg, was ontvangers van kommunikasie skepties oor die egtheid van afsenders wat e-pos gekies het om emosie oor te dra.

Telefoon- en oudiokommunikasie was die grootste gunsteling om emosie wat nie so entoesiasties was nie na die mees outentieke te laat lyk. Dit is omdat telefoonkommunikasie meer aanduidings van onderliggende onegtheid uitfiltreer as van-aangesig-tot-aangesig kommunikasie (aangesien alle fisiese nieverbale gedrag verwyder is). Nogtans word nie telefoon nie naastenby so oneg as e-pos beskou nie.

Een oorkoepelende bevinding wat uit hierdie navorsing voorspruit, is duidelik: kommunikasiemedia dra dikwels meer as wat ons besef, hetsy weens emosionele aanduidings wat deurlek of ontvangers wat evaluerings maak gebaseer op ons keuse van kommunikasiemodus. Omdat al hoe meer werkplek-interaksies na die virtuele skuif, word dit kritiek om bedag te wees op die kommunikasiekeuses wat ons maak – en hulle moontlike onbedoelde gevolge.

 

Bron:

Harvard Business Review: https://hbr.org/2022/01/communicating-authentically-in-a-virtual-world

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog