Volgens Artikels

Deur Dr. Eugene Brink

Om werk te soek en die take wat daarmee gepaardgaan, is vir die meeste mense nie opwindend nie. Trouens, die emosies wat met hierdie take gepaardgaan, wissel van vreeslik daarteen opsien tot vrees.

Om in die Covid-19-era na werk te soek is selfs meer angswekkend aangesien talle werksgeleenthede, maatskappye en sektore besig is om te verdwyn. Dit beteken minder keuse en meer mededinging.

Daarom moet jy weet hoe om die regte geleenthede uit te snuffel en om jouself in hierdie moeilike omgewing te verkoop.

Netwerk (veral aanlyn)

Baie geleenthede het permanent aanlyn geword. Soek daarom plaaslike professionele groepe op sosiale media soos LinkedIn of die internet op. “Neem deel aan die gesprek, plaas en lewer kommentaar en maak jouself sigbaar. Maak seker dat jy die gesprek professioneel hou deur relevante artikels te plaas en sluit aan by gesprekke oor onderwerpe wat jou in staat stel om jou kundigheid te demonstreer,” sê Nancy Halpern, stigter van Political IQ, ʼn leierskapskonsultasie-maatskappy wat in Manhattan gebaseer is en wat op die ontwikkeling van emosionele intelligensie fokus.

Forbes se werkjag-kundige, Robin Ryan, sê verwysings en om te netwerk was en is steeds die beste manier om ʼn nuwe pos te kry. “Sewentig persent van alle poste word nooit geadverteer nie. Begin deur ʼn lys op te stel van mense wat jy kan vra om jou te help. Dink aan vriende, bure, kollegas en LinkedIn-kontakte.

“Vervolgens moet jy vertroud wees met die pos wat jy wil hê, kontak jou netwerk dan en vra hul hulp. Dit sal jou loon om jou kontakte te vra vir verwysings by indiensnemingsbestuurders, mensehulpbronne of ʼn werwer.”

Volgens Career Pivot verdwerg aansoeke met verwysings (met ʼn 50%-kans om ʼn onderhoud te kry) aansoeke wat sonder enige kontakte ingedien word (slegs 3% kry ʼn onderhoud). Verwysings maak slegs 7% van aansoeke uit, maar volgens Jobvite word 40% van nuwe aanstellings na aanleiding van verwysings gedoen.

CV’s is steeds belangrik, maar die formaat daarvan is nog belangriker

Maak seker jou aanlyn agtergrondsbesonderhede is in orde. Dit beteken jy moet seker maak dat jou LinkedIn-profielbeeld ʼn akkurate en oortuigende beeld van jou professionele lewe bied.

Lisa Rangel, die stigter en besturende direkteur van Chameleon Resumes, sê jy moet ʼn oortuigende opsomming van onlangse en meetbare prestasies bied. “As jy bevordering gekry het, maak seker dat jy alle postitels by die maatskappy aandui en die onderskeie verantwoordelikhede volgens postitel lys,” sê Jenna Spathis, spanleier vir tegnologiewerwing by die personeel- en werwingsfirma LaSalle Network.

Maak verder ook seker dat jou vaardigheidsgedeelte volledig ingevul is en dat jy jou as ʼn leier van denke vestig deur media-artikels wat jy gelewer het of waarin jy vermeld word, te deel.

Troef ook die robotte. “Monster, Indeed, ZipRecruiter en die meeste ander toonaangewende werksoekportale maak gebruik van AI-gedrewe volgstelsels vir aansoekers soos iCIMS en Taleo om potensiële kandidate op ʼn kortlys te plaas. Om te verstaan hoe hierdie stelsels werk, is net so belangrik as om te verstaan waarna werkgewers soek. Die enjins wat CV’s ‘lees,’ teiken sleutelwoorde wat van belang is vir die pos wat gevul moet word,” sê Arran James Stewart, medestigter en visionêre hoof van die werwingsplatform Job.com.

“Jou beste kans om vordering te maak en jou CV voor ʼn mens te laat beland, is om die posbeskrywing se bewoording in jou CV te gebruik, maar uiteraard sonder dat dit ʼn presiese replika van die posvereistes is.”

Sekere tydbeproefde advies geld steeds. “Die beste manier waarop aandag getrek word, is deur ʼn besonder teikengerigte CV voor te hou wat die resultate wat jy in vorige poste behaal het, beklemtoon. Werkgewers glo dat indien jy beduidende prestasies in die verlede behaal het, jy dit in alle waarskynlikheid ook by hulle sal vermag,” sê Ryan.

Afstandsonderhoude

Om die digitale tema verder te voer, sê Laurianne McLaughlin, inhoudsdirekteur van die IT-konsultasieburo, The Enterprisers Project, dat die meeste onderhoude in die afsienbare toekoms aanlyn gaan wees. “Dit beteken dat jy sal moet toesien dat jy professioneel en innemend tydens die video-onderhoud oorkom. Jy moet ook probeer om ʼn emosionele aansluitingspunt met die onderhoudvoerder te bewerkstellig – wat nie so maklik is om op video reg te kry as wat dit in persoon is nie.”

Hou die volgende in gedagte:

  • Kyk direk na die webkamera om oogkontak te maak.
  • Wees van kop tot tone professioneel aangetrek vir ingeval jy moet opstaan.
  • Kies ʼn skoon, minimalistiese agtergrond en vermy virtuele agtergronde.
  • Knik en glimlag meer as wat jy meen nodig is.
  • Die gebruik van jou hande kan ook help om ʼn aansluitingspunt te bewerkstellig.

Behou ʼn oop gemoed en versterk jou vaardighede

Weens die impak van Covid-19 is hele sektore algeheel lamgelê of tydelik gedwarsboom. “Wees bereid om wyer oor jou rol na te dink en om moontlik na ʼn verwante posisie te swaai waar jou ondervinding en vaardighede ook benut kan word. Jy kon byvoorbeeld ʼn bemarkingsrol in gedagte gehad het, maar met dié dat daar minder mense is wat geld spandeer, mag die onderneming meer geneig wees om tydens die krisis iemand in ʼn kommunikasierol aan te stel,” sê die loopbaanjoernalis Lisa Rabasca Roepe.

Dit maak nie saak as jy nie ʼn vaardigheid formeel verwerf het nie. As jy dit informeel kan verwerf en dit kan demonstreer, het jy met rasse skrede gevorder na die pos wat jy wil hê. Doen opleeswerk, luister na en praat met kundiges, volg aanlyn kursusse en oefen. Laastens, bemark jou sagte vaardighede soos kommunikasie- en probleemoplossingsvaardighede.

 

Bronne

Laurianne McLaughlin, 12 August 2020, “How to get a job during COVID-19: 9 smart tips”, https://enterprisersproject.com/article/2020/8/how-get-job-during-covid-19-9-tips.

Lisa Rabasca Roepe, 2021, “What does the Coronavirus pandemic mean for your job search?”, https://www.themuse.com/advice/job-search-coronavirus.

Robin Ryan, 1 September 2020, “How COVID-19 has changed hiring and job search and how to be successful”, https://www.forbes.com/sites/robinryan/2020/09/01/how-covid-19-has-changed-hiring-and-job-search-and-how-to-be-successful/?sh=7701199a3758.

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog