Volgens Artikels

Deur Wilma Bedford

Navorsing deur Harvard het bevind dat die gemiddelde werker 50 keer per dag onderbreek word, en die meeste daarvan met onbenullighede. Werknemers het 27% meer tyd nodig om take te voltooi, begaan foute, en dit neem ongeveer 23 minute om weer met volle aandag na die eerste taak terug te keer. ʼn Verdere studie deur die Universiteit van Californië te Irvine, het bevind dat persone wat onderbreek is ʼn hoër strestelling op ʼn NASA-werkskaal behaal het as dié wat nie onderbreek is nie. Dieselfde taak is aan twee groepe gegee om te voltooi, maar  die eerste groep is onderbreek deur e-posse en telefoonoproepe en die ander groep het ononderbroke gewerk.  Daar was nie ʼn noemenswaardige verskil in die aantal werkfoute wat begaan is deur die twee groepe nie maar eersgenoemde het verhoogde stresvlakke, frustrasie, breinmoegheid  en werkdruk ervaar. Daar is  ook bevind dat mense wat nie onderbreek is nie stadiger gewerk het, wat tot die gevolgtrekking gelei het dat mense wat onderbreek word voel hulle moet kompenseer vir die verlore tyd en dus vinniger werk – en die prys daarvoor is stres.

Onderbrekings, wat deel van die kommunikasierevolusie is,  kan waardevol in die werkplek wees maar die nadeel is die stres a.g.v.  die konstante wisseling tussen onderwerpe en projekte.

Wanneer het ʼn onderbreking waarde? Wanneer ʼn onderbreking verband hou met dieselfde onderwerp is dit van waarde, bv. as jy as rekenaarprogrameerder onderbreek word deur ʼn kollega wat nie ʼn rekenaargogga kan opspoor nie of ander probleme ondervind, is die onderbreking positief want julle albei dink nou aan dieselfde probleem en soek ʼn oplossing en hoewel die oplossing nie dadelik voor die hand liggend is nie, sal die oplossing na ʼn tyd duidelik word wanneer daar weer teruggekeer word na die oorspronklike taak. Deur ʼn kort onderbreking toe te laat, gee jy jou brein ʼn blaaskans en laat jy jou onderbewuste toe om ʼn probleem te verwerk.

So ook sal ʼn kort onderbreking wat nie dinkwerk verg nie, soos om ʼn dokument te onderteken, nie ʼn negatiewe impak hê nie. Sommige onderbrekings of afleidings kan goed wees vir jou gemoed en jou help om deur die dag te kom en jou selfs motiveer om harder te werk.

Wanneer is ʼn onderbreking teenproduktief? Wanneer jy aan een spesifieke taak werk en jy jou kognitiewe hulpbronne, vindingrykheid en jou aandag  moet verskuif na ʼn heel ander taak of onderwerp is dit ʼn onproduktiewe onderbreking. ʼn Onderbreking kan veroorsaak dat jy ʼn belangrike stap in ʼn proses waarmee jy besig was, kan vergeet en foute kan insluip wat jou effektiwiteit in die wiele ry.

Wat is die prys van hierdie stres? ʼn Gevoel dat jy nie kan byhou nie en gevolglik langer ure of oor naweke werk net om by te bly by die eise van die werkplek. Deurdat jou konsentrasie kort-kort verbreek word en jou effektiwiteit beïnvloed word, ontstaan die vrees dat jy deur jou werkgewer as onproduktief beskou sal word.

Werknemers voel hulle het nie meer beheer oor die onderbrekings nie en wanneer hulle fokus te dikwels verbreek word, voel hulle ontspoor en dat hulle moet harder werk om sperdatums te haal. Faktore buite hul beheer lei tot onsekerheid in die werkplek, wat hul beroep nadelig kan beïnvloed. Wanneer produktiwiteit afneem, neem stres toe en werknemers vermy die werkplek omdat hulle nie beheer het oor hul eie produktiwiteit nie.

Hoe gemaak as jy voel jy kan nie byhou nie?

Die effektiefste en produktiefste werkers is dié wat afleiding uitskakel. Hoewel dit nie moontlik is om alle afleidings en onderbrekings in die werkplek te elimineer nie, kan hulle verminder word.

In die werkplek sou mens verwag dat onderbrekings deur medewerkers veroorsaak word, maar hoeveel van hierdie onderbrekings is selfonderbrekings en nie ʼn kollega of ʼn werkverwante onderbreking nie? Hoeveel keer soek jy nie gou iets op die web terwyl jy in werkveband aanlyn is of gou ʼn persoonlike oproep maak nie?

Indien jy geneig is om take uit te stel of maklik aandagafleibaar is, sal jy ʼn strategie moet bedink om jouself teen stres te beskerm.

Prioritiseer jou dagtaak

Skakel afleidings soos jou foon se boodskapkennisgewing  af, stel jou foon se klank af, skakel jou foon af, diskonnekteer jou rekenaar van die wi-fi, beperk jou webgebruik, en wees gedissiplineerd.

Fokus op die taak of projek waarmee jy besig is al is dit vervelig. Verskuif jou fokus na die eindproduk – dit sal jou gemotiveerd hou.

Moenie ʼn klomp goed gelyk wil doen nie; al wat jy doen is om jouself te onderbreek om ʼn ander taak te doen. Jou brein kan net ʼn bepaalde hoeveelheid inligting verwerk en  deur twee take terselfdertyd te verrig met verdeelde aandag, word nie een optimaal produktief gedoen nie. Jou oplettendheid word ook negatief geraak.

Verminder kantooronderbrekings deur ʼn assistent aan te stel wat administrasie sal doen waarvoor jy nie tyd het of by betrokke wil wees nie. Reserveer ʼn spesifieke tyd elke dag of week waarin jy ononderbroke kan werk en maak dit duidelik aan jou assistent en kollegas dat geen onderbreking in daardie tyd toegelaat sal word nie.

Hoewel die oopdeurbeleid sy voordele het, is dit ook ʼn uitnodiging tot onderbrekings. Stel “kantoorure” vas waarin jou oopdeurbeleid nie van toepassing is nie, bv. jou oopdeurtyd kan wees van 14:00–16:00 wanneer jy besig is met minder belangrike administratiewe take.

Indien dit onwaarskynlik sal wees om nie gesteur te word wanneer jy aan ʼn belangrike projek werk nie, dink dan daaraan om elders te werk; dit kan tuis wees of in ʼn raadsaal.

 

Bronne

The Shocking Cost of Workplace Distraction

https://www.talkboxbooth.com/post/shocking-cost-workplace-distractions

The Effects of Distraction on Work

Chron

ByChron Contributor  November 10, 2020

https://work.chron.com/effects-distraction-work-3222.html

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog