Volgens Artikels

Deur Reon Janse van Rensburg

Ons almal het dit al gehoor: Dit is belangrik dat spanlede aan mekaar verbind moet voel vir ʼn span om goed te funksioneer. Die gevoel van kameraadskap sal nie slegs tot gevolg hê dat jy en jou spanlede lekkerder saamwerk nie, maar sal ook die lewe by die werk in die algemeen draagliker maak.

Om hierdie samehorigheid te bereik, stel bestuurders dikwels spanbou-aktiwiteite voor wat menigmaal met groot erns beplan en uitgedink word. Ongelukkig vat sommige leiers of bestuurders spanbou ʼn bietjie te ver. Spanbou en spanbou-aktiwiteite lyk dalk aanvanklik na ʼn goeie idee, maar die waarheid is dat die blote gedagte aan spanbou sommige mense effens gek maak. In plaas daarvan om tyd aan hierdie aktiwiteite te spandeer, is ʼn beter benadering om mense te help om meer produktief te wees, of om hulle vaardighede op te skerp of uit te brei. Daar is egter al verskeie voorvalle gedokumenteer waar spanboupogings tot nie-produktiewe of selfs teenproduktiewe uitkomstes gelei het.

Dit beteken egter nie dat spanbou-aktiwiteite nie van enige nut is of kan wees nie. Wanneer hierdie aktiwiteite behoorlik beplan en geïmplementeer word, kan dit van baie waarde vir ʼn organisasie wees mits dit deeglik vooruitbeplan word en ooreenstem met die doel wat die bestuurder daarmee wil bereik.

Maatskappye bied ʼn wye verskeidenheid van aktiwiteite in die naam van spanbou aan. Vir die doeleindes van sosialisering met drankies by ʼn restaurant naby die kantoor tot uiterste sportsoorte soos rotsklim of snortjorre (“go-karts”) in die modder, kan spanbou-aktiwiteite byna enige vorm aanneem.

So, hoe voel werknemers werklik oor spanbou?

Dit is maklik om aan te neem dat werknemers gaande is oor spanbouaktiwiteite wanneer ʼn mens slegs luister na wat hulle vir hulle bestuurders tydens of direk ná die spanbou-geleentheid sê. Om egter werklik agter die kap van die byl te kom, is dit wys dat maatskappye anonieme evalueringsopnames doen om uit te vind hoe werknemers werklik dink en voel oor die spanbougeleenthede waaraan hulle deelgeneem het.

Aan die een kant sal jy as werkgewer agterkom dat daar werknemers is wat gaande is oor die gedagte en dat hulle dit werklik geniet het. ʼn Vinnige Google-soektog sal egter vinnig wys dat daar dikwels werknemers is wat kla oor die einste spanbougeleenthede waaraan hulle onderwerp was en dat dit vir hulle van geen nut was nie.

Daar is duidelik ʼn gaping, of ten minste ʼn potensiële gaping tussen wat sommige bestuurders en sommige spanboufasiliteerders aan die een kant oor spanbou self beweer, en aan die ander kant hoe sommige werknemers werklik oor spanbou en spanbouaktiwiteite voel.

Moet die deelname aan spanbou dan vir werknemers verpligtend of vrywillig wees?

ʼn Referaat wat vroeër vanjaar deur navorsers van die Universiteit van Sydney se Skool vir Projekbestuur in die Journal of Social Networks gepubliseer is, het bevind dat deelnemers gemengde gevoelens oor spanbougeleenthede het, en dat die navorsing etiese implikasies aan die lig bring indien werknemers gedwing sou word om deel te neem.

Die studie het bevind dat spanbou-oefeninge wat gefokus het op die deel van en ingryping in persoonlike houdings en verhoudings tussen spanlede, as te hardhandig en opdringerig beskou kan word, hoewel die navorsers sê dat ʼn mate van openheid en kwesbaarheid dikwels nodig is om diep, effektiewe verbintenisse met kollegas te vorm.

Die navorsers het verder gesê dat daar talle denkrigtings is wat verskillende sielkundige metodes voorstel om verhoudings te versterk.

Daar is meer waarde daarin wanneer werknemers vrywillig aan spanbougeleenthede kan deelneem. Om sulke aktiwiteite op werknemers af te dwing, veral as dit tyd wegneem van hul werk of tyd saam met hulle gesinne verminder, kan dit teenproduktief wees.

Eerder as om ʼn verpligte spanbou-uitstappie te reël, oorweeg liewer die volgende moontlikhede om jou span nader aan mekaar te bring

  1. Maak spanbou taakgerig

Vergeet die rotsklim-uitstappies; gee eerder spanlede regte take om uit te voer. Die doeltreffendste manier om spanbande te versterk, is deur mense te laat saamwerk en resultate as ʼn groep te bereik.

  1. Maak spanbougeleenthede opsioneel

Vir baie werknemers meng sosialisering met die span se werksure in. Gevolglik beteken dit dikwels dat werk huis toe te geneem moet word of dat die werknemer laat moet bly om ʼn sperdatum te haal. Omdat tyd ʼn beperkte hulpbron is, kompeteer sosiale geleenthede met die tyd wat mense liewer buite die werk sal spandeer om hulle batterye te herlaai. Daarom moet maatskappye dit nie verpligtend maak nie. Sommige werknemers floreer dalk op meer sosialisering – maar ander mag dalk nie. Dit is noodsaaklik om mense soveel as moontlik beheer te gee oor hoe hulle hul tyd spandeer.

  1. Maak spanbougeleenthede minder veeleisend

Jy wil ook seker maak dat wat jy ook al beplan, dit nie te veeleisend is nie. Laat toe dat spanbou-aktiwiteite in werkstyd plaasvind en bied geleenthede waaraan almal kan deelneem en gemaklik voel om aan deel te neem. Om ʼn karaoke-aand aan te bied, is nie almal se forte nie, maar om ʼn kort staproete aan te pak waaraan mense van alle fiksheidsvlakke kan deelneem, is inklusief.

  1. Maak spanbougeleenthede meer natuurlik

Soms sal mense van nature kontak maak en het hulle nie georkestreerde geleenthede nodig nie. Dink daaraan om plekke te verskaf waar mense informeel kan skakel of waar hulle kan loop en praat. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is om moontlik ʼn sitkamer vir werknemers in te rig of ʼn kafeteria wat slegs vir die werknemers se gebruik is. Lekker gemaklike stoele en goeie koffie doen wondere.

 

Bronne:

Guide to Team-Building: Are Your Employees Refusing to Attend Company Parties & Events? – https://www.prevuehr.com/resources/insights/guide-team-building-employees-refusing-attend-company-parties-events/

Benefits of team building exercises jeopardized if not truly voluntary – https://www.sciencedaily.com/releases/2021/02/210225143709.htm

Team bonding: Exploring how mandatory and optional activities affect employees – https://nulab.com/blog/collaboration/team-bonding-exploring-how-mandatory-and-optional-activities-affect-employees/

Why you should ditch team building activities and just let people get to workhttps://www.fastcompany.com/90408773/4-things-you-should-do-instead-of-team-building-activities

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog