Volgens Artikels

Deur dr. Eugene Brink

Die wêreld verander vinnig en gegewe die impak van Covid-19 en tegnologie oor die algemeen, kom sekere tendense nou na vore terwyl ander momentum kry.

Evolusie is deel van die mens se wese en, van modes tot huisinterieurs, besigheid en tegnologie, kom en gaan tendense terwyl vooruitgang gemaak word. Soos Peter Diamandis, medestigter van Singularity University met soveel voorwete sê: “In die volgende dekade sal ons meer vooruitgang sien as in die afgelope 100 jaar.”

Dit is dus gepas om voorraad te neem van ʼn aantal tenedense wat in 2021 vorm aangeneem het en sal voortduur om 2022 te beïnvloed.

Tuisdekor

Eerstens, neutrale meubels kry ʼn moderne geurtjie. “Ons sien dat kliënte van wit en room- en ivoorkleurige sofas en gestoffeerde stukke ontslae raak ten gunste van ryker, aardse neutrale soos kameel, grysbruin, konjak, roes en salie,” sê Alessandra Wood, die visepresident vir styl by die interieurontwerper Modsy. Warmer kleure kan mense help om snoesiger plekke te skep waar werklik geleef kan word.

Maggie Griffin, die stigter en leierontwerper by Maggie Griffin Design, voorsien dat mense helder, opgeruimde sitruskleure soos ware groen, vrolike geel of sterk oranje sal inkorporeer om energie aan hul huise te verleen. “Ek het baie versoeke vir kleur in my kliënte se voorstelle vir 2022 gekry,” sê sy.

Tegnologie en verbruikers

Boeiende ondervindings sal in 2022 en verder belangriker word. “Danksy uitgebreide realiteit (UR) en tegnologieë soos virtuele realiteit (VR) en geougmenteerde realiteit (OR), kan handelsmerke nou hul kliënte beïndruk met aantreklike, boeiende ervarings, sê Bernard Marr, bekende tegentrepreneur.

Dit beteken dat besighede hul virtuele tegnologieë moet gebruik in ʼn wêreld wat as gevolg van aanlyn kope minder voelend en fisies is. Byvoorbeeld: OR-apps laat kopers toe om ʼn begeerde horlosie of juweliersitem aan te pas sonder om ʼn tradisionele winkel te besoek, en in die gerief van hul huise.

ʼn Uitvloeisel hiervan is iets wat ”disintermediasie” genoem word, sê Marr. “Die direk-na-verkoper-tendens beteken essensieel dat die tradisionele tussengangers in die voorsieningsketting – soos kleinhandelaars, groothandelaars, verspreiders, adverteerders – omseil word om direk met die eindverbruiker kontak te maak. Handelsmerke reg oor alle sektore vind nou via aanlyn kanale direkte roetes na kliënte.”

Volgens die bestuurskonsultmaatskappy McKinsey het vinniger digitale verbindings, aangedryf deur 5G en die internet van dinge (IoT), die potensiaal om ekonomiese aktiwiteit te ontsluit. Veel groter netwerkbeskikbaarheid sal groot verskuiwings in die besigheidslandskap teweeg bring, van die digitisering van vervaardiging (deur draadlose beheer van mobiele gereedskap, masjiene en robotte) tot gedesentraliseerde energievoorsiening en afstandspasiëntmonitering.

Vermaak

Podsendings is nou alledaags en word nou vinnig die vermaakmedium van keuse vir baie mense. In 2022 sal omtrent 140 miljoen in die VSA alleen minstens een maal per maand na podsendings luister. Amateurpodsendings floreer (daar is ongeveer 2 miljoen aktiewe podsendings reg oor die wêreld), maar die besigheid word ook toenemed professioneel en lok oorvloedige beleggings.

Verbruikeraanvraag vir boeke het konstant gebly maar inperkings het meer mense genoop om boeke aanlyn te koop, hoofsaaklik by Amazon volgens navorsing deur PwC. “Tradisioneel het in-persoon-afslagboekskoue sommige van hul verkope aanlyn gedoen, en in die toekoms kan sulke boekskoue hibriede in-persoon- en digitale verkoopmodelle oorweeg na gelang die bedryf nuwe maniere soek om kliënte te bereik. Verbruikersgedrag in ander segmente beïnvloed die aanvaarding van digitale boeke, met podsending wat in sommige gevalle naas oudioboeke bestaan en die formate wat mekaar onderling aanvul.”

 

Bronne

Bernard Marr, 8 November 2021, “The 8 Biggest Consumer And Customer Experience Trends In 2022”, https://www.forbes.com/sites/bernardmarr/2021/11/08/the-8-biggest-consumer-and-customer-experience-trends-in-2022/?sh=59df5fc14cfe.

Kyle Byers, 11 November 2021, “The 7 Biggest Entertainment Trends (2021-2023)”, https://explodingtopics.com/blog/entertainment-trends.

McKinsey, 2021, “The top trends in tech – executive summary”, https://www.mckinsey.com/~/media/McKinsey/Business%20Functions/McKinsey%20Digital/Our%20Insights/The%20top%20trends%20in%20tech%20final/Tech-Trends-Exec-Summary.

PWC, 2021, “2021 outlook segment findings – Consumer books”, https://www.pwc.com/gx/en/industries/tmt/media/outlook/segment-findings.html.

Samantha Gridell, 29 November 2021, “The home-decor trends that will be popular in 2022, according to interior designers”, https://www.insider.com/home-decor-trends-popular-in-2022-interior-designers-2021-11.

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog