Volgens Artikels

Deur Wilma Bedford

Werk en studeer jy met musiek in die agtergrond? Jy mag jou verbaas dat navorsing toon dat jy nie noodwendig beter presteer of meer produktief is met musiek in jou ore nie.

Die gedagte dat musiek al bogenoemde kan doen, dateer uit die Tweede Wêreldoorlog en spesifiek rakende 23 Junie 1940, toe 10 000 Britse troepe in Normandië, Frankryk, vasgekeer was. Die Britse regering het die hulp van die BBC ingeroep om twee maal ʼn dag lewendige musiek in die ammunisievervaardigingsfabrieke te speel. Die idee was dat die musiek werksverrigting sou bespoedig sodat ammunisie vinniger by die vasgekeerde linie sou uitkom. Daar is toe bevind dat produktiwiteit wel met 12-15% gestyg het (ʼn ongetoetste resultaat). 80 jaar later loop almal met oorfone; daar is musiek in sommige werksplekke  agtergrondmusiek in publieke plekke – maar bevorder dit noodwendig produktiwiteit?

In 1993 kom die Mozart-effekteorie te voorskyn, wat as bog bewys is, en wat beweer het dat om vir 10 minute na Mozart te luister ruimtelike take verbeter en dat kinders slimmer word indien hulle na Mozart se Sonate vir Twee Klaviere K448 luister. Al waarheid wat in die teorie steek, is dat Mozart se musiek  die luisteraar se gemoedstoetstand verbeter en dat mense vir 10-15 minute beter vaar met take maar beslis nie meer intelligent raak nie.

Musiek kan eintlik nadelig wees omdat dit ʼn las kan plaas op ons werkende geheue en gevolglik raak probleemoplossingtake meer kognitief veeleisend omdat een deel van die brein probeer sin maak van die musiek, veral waar die musiek onvoorspelbaar is, soos met jazz. ʼn Navorsingstudie op studente het bevind dat hulle swak gevaar het met wiskunde en begripstoetse terwyl hulle na musiek geluister het, ongeag die soort musiek.

Watse musiek kan werk?

Jou eie musieksmaak, jou musiekopleiding en jou eie mate van afleibaarheid sal jou keuse bepaal, maar navorsing wys dat sekere musiek beter werk vir sekere take. Harde musiek sal steurend wees terwyl Mozart jou nie slimmer sal maak nie.

Instrumentale musiek of musiek met lirieke is nie noodwendig beter nie; dit gaan oor die kompleksiteit van die musiek self. Queen se Bohemian Rhapsody sal meer steurend wees as iets met ʼn  eenvoudige  drie-akkoordstruktuur.

Met bekende musiek fokus jy beter terwyl onbekende musiek hinderlik is omdat jy probeer om die nuwe deuntjie in te neem. Neurowetenskaplikes het bevind dat konsentrasie verbeter wanneer na bekende musiek geluister word.

Lirieke verbreek jou konsentrasie omdat dit jou gedagtegang in ʼn ander rigting stuur, selfs in ʼn nostalgiese rigting, en jy vind later jy sing saam.

Klassieke musiek en meer spesifiek Barokmusiek verbeter konsentrasie en is ontspannend al gee jy nie aandag daaraan nie. Klassieke musiek verdoesel agtergrondgeraas in die kantoor; probeer Vivaldi of Bach se Ouverture Suite Nr 3 daarvoor.

Omringende musiek onder 70dB of natuurklanke kan werksverrigting verbeter wanneer jy met kreatiewe take besig is. In die werksplek laat musiek werkers beter voel en ondersteun hulle in die voltooiing van vervelige roetinetake. Indien jy voorberei vir ʼn eksamen sal ʼn voorafsessie van tien minute met musiek jou in ʼn goeie bui plaas, maar verseker dat jou musiek keuse nie te vinnig of te hard is nie en die lirieke nie jou gedagtes aflei nie. Die doel van die musiek is juis om jou te help fokus en agtergrondgeraas te verdoesel.

Kies musiek waarvan jy hou, maar onthou dat die tipe musiek wat jy na luister ʼn uitwerking op die kompleksiteit van die taak het. Harde musiek is goed vir eenvoudige take soos roetinewerk in ʼn fabriek of in die gym, maar stilte is nog steeds die beste “musiek” vir die voltooiing van ʼn komplekse taak.

 

Bronne:

Does music help us work better? It depends   

Gorvett, Zaria.  18th March 2020

https://www.bbc.com/worklife/article/20200317-does-music-help-us-work-it-depends

Does listening to music at work improve productivity? Here’s 8 compelling reasons why it does

Farris, B.  https://anchoradvisors.com/listening-music-improve-productivity/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog